Dís hoe SA voortaan energie sal opwek

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Net meer as die helfte van die land se elektrisiteit sal voortaan deur steenkool opgewek word. Wind- en hirdo-elektrisiteit sal nagenoeg ʼn kwart van Suid-Afrika se krag verskaf.

Dít volgens die langverwagte geïntegreerde hulpbronneplan (IRP) wat vandag bekend gemaak is deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe.

Die plan is basies die bloudruk vir Suid-Afrika se energievoorsiening tot 2030. Dit gee ʼn sterk aanduiding aan beleggers oor watter energiebronne die beste beleggings sal wees, en dien as meetsnoer vir watter infrastruktuur in watter dorpe en streke ontwikkel moet word om as ondersteuning vir die plan te dien.

Volgens die plan sal steenkool, kernkrag (met kleiner kernkragsentrales en ʼn verlenging van Koeberg se dienstydperk tot 2044), hernieubare energie, gas en hidro-elektriese krag (van die Grand Inga-projek in die Demokratiese Republiek van die Kongo) elk ʼn bydrae lewer om energie op te wek.

elektrisiteitselfstandigheid

 Foto: Thetechnoweb.weebly.com

Bykomende kapasiteit wat tot 2030 beplan word sluit in 1 500 megawatt van steenkool, 2 500 megawatt van hidro-elektrisiteit, 6 000 megawatt van sonkrag, 14 400 megawatt van windkrag, 2 088 megawatt van batterykrag en 3 000 megawatt van gas.

Dit beteken dat 59% van die land se elektrisiteit deur steenkool opgewek sal word, 5% deur kernkrag, 8% deur hidro-elektrisiteit, 6% deur sonkrag, 18% deur wind en 2% deur gas en batterye.

Die IRP is Woensdag deur die kabinet aanvaar en Mantashe het die hoop uitgespreek dat dit broodnodige beleidsekerheid sal bring in die energiesektor.

Volgens die minister was baie van die bespiegeling dat die land spesifiek en definitief op ʼn enkele leidende energiebron bo ander sou besluit, maar dit was misplaas. Die doelwit is om betroubare energievlakke uit ʼn verskeidenheid bronne te vind, waarmee die ekonomie aangedryf kan word.

In totaal is 5 929 insette oor die IRP deur die publiek gemaak, waarvan 242 substansieel was.

Die IRP se doelwitte is bekostigbare elektrisiteit, verminderde kweekhuisgasvlakke, verminderde waterverbruik, gediversifiseerde elektrisiteitsbronne, ekonomiese ontwikkeling en streekontwikkeling.

Argieffoto

Sedert die vorige IRP in 2010 is 18 000 megawatt nuwe elektrisiteit by die stelsel gevoeg, waarvan 9 564 megawatt van die nuwe kragstasies Medupi en Kusile afkomstig is, 1 333 megawatt hidro-elekrisiteit by Ingula, 6 422 megawatt hernieubare energie deur onafhanklike kragproduseerders en 1 005 megawatt oopsiklus-gasturbines by Avon en Dedisa.

Een van die veranderings die afgelope tien jaar is dat al meer mense en ondernemings hul eie elektrisiteit opwek. Die styging van die prys van elektrisiteit het veroorsaak dat van die grootste elektrisiteitsverbruikers onkompeterend geraak en die mark verlaat het.

Die ander belangrike veranderings vergeleke met die vorige IRP is dat die vraag na elektrisiteit gedaal het, die hersiening van energiebeskikbaarheidsfaktore deur Eskom, die verrekening van tegniese uitdagings en aangepaste onkoste vir sommige energiebronne.

Die regering verstaan dat daar tans ʼn elektrisiteitstekort is en voorstelle vir die onmiddellike verligting van die probleem, soos kragskepe, sal binnekort amptelik aangevra word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Ek wek my eie krag op dan weet ek ten minste het ek krag en hoef ek nie saam met die klomp drome te droom wat nooit realiseer nie

Siener ·

Sonplase sal seker wees vir die ANC boeties en vriende gegee word. Naas die Guptas is dit die grootste bedrog in SA

KP ·

Hulle kannie eers die bestaande infrastuktuur bedryf nie wat nog te se nuwe projekte????????

wilma ·

Ai Mnr Mantashe jul wie in beheer vani land moet asb jul drome maar veegeet. SA verwag aksie nie dagdrome

Johanna Botha ·

Watse anc planne het al reg uitgewerk …kan an niks dink nie ……al die planne …gaan nie gebeur nie met al die bee is madupi nou verkeerd gebou en moet gedeeltes oorgedoen word …kos miljarde !

piper ·

in die oos-kaap is daar talle windterbunes wat net draai en nie aan die netwerk gekoppel is nie. daar moet nog eers aansluitingslyne gebou word.

John ·

En hulle wil skynbaar die ongetoetse korrelbedkernkragsentrales nou invoer waaroor enstige bedenkinge uitgespreek is oa tov die 3-maandelikse vervanging van die korrels wat groot gevaar dra tov van vervanging, verwydering na veilige bergplekke en die gedurige betrokkenheid van mense. Paaie sal skoongemaak moet word tydens die invoer en vervoer van afvalstowwe om bestraling te verhoed. Waar alles geberg gaan word, is nog ‘n vraag.
‘n Hele mondvol van moeilikheid en dan is die korreltipe nog nie eens getoets nie. Maar aangesien Eskom sy steenkoolkragstasies so seepglad en volhoubaar benut hoef ons seker nie bang wees hul gly op hierdie nuwe opwindende duuuuuur projek nie.

Rubber ·

Ag nonsens Mantashe. Ons kyk na Zim en sien ons toekoms. 6 ure ‘n dag krag vir Harare. Julle liegstories word eenvoudig nie meer geglo nie. Useless caders.

jaco ·

en wat maak mens as die wind nie waai nie?
en wat as daar nie genoeg water in die damme is om krag op te wek nie? Dis klaar reeds so droog

Gert ·

Vind die sosialiste baie amusant. Hulle wil alles beplan 11 jaar vooruit, terwyl hulle nie eens vandag enige iets wat hulle doen, suksesvol voltooi nie. Hoe beplan jy jou verdeling van kragbronne 11 jaar vooruit? Jy het geen idee watter nuwe tegnologie ontwikkel gaan word nie, of hoe die kostes van verskillende bronne gaan verander nie.
Ek weet van ‘n baie goeie en suksesvolle alternatief, hulle noem dit die vrye mark, dit lei altyd outomaties tot die beste uitkoms, en jy hoef geen vooruitskattings te probeer maak nie.

Swart Piet ·

Die maklikste is om maar jou eie krag op te wek met sonpanele. Dis nie so onbekostigbaar duur soos dit lyk nie. Dis beslis die beste belewenis en gevoel wat jy ooit gaan beleef.

Jerry ·

Die plan spreek nie afleggings van onregmatige aanstellings by Eskom aan nie, ook nie betalinginvorderings en wanbetalings van gemeenskappe nie, die werkers gaan steeds net BEE wees. Dit gaan steeds net beleggers en wetsgehoorsame verbruikers wees wat nou bykomende finansiele laste gaan moet dra. Wanneer die bykomende energievoorsiening goed opdreef kom gaan dit deur wetgewing gekaap word. Dit gaan ook gebruik word om die steenkoolgedeelte te subsidieer!

Skepties ·

Kan iemand net vir hulle sê dat krag nie deur batterye opgewek word nie, hulle kan slegs krag stoor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.