Dís hoe vinnig brande tussen plakkershutte versprei

Die wêreld se grootste brandproefneming. (Foto: Verskaf)

Resultate van die wêreld se grootste brandproefneming het bevind dat twintig plakkershutte binne vyf minute vernietig word wanneer brande in informele nedersettings ontstaan.

“Die brandweer word dikwels daarvan beskuldig dat hulle nie gou genoeg optree nie, maar ons proefneming het getoon dat ʼn brand regtig baie vinnig kan versprei,” sê prof. Richard Walls, hoofnavorser van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN).

“Brandbestryders het dit nog altyd geweet, maar nou het ons beter eksperimentele data om die probleem te verstaan en om intervensies te ontleed.”

Die proefneming is deur FireSUN onderneem in samewerking met die Wes-Kaapse rampbestuur, brand- en reddingsdienste en die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se brandweerafdeling. Dit vorm deel van ʼn projek wat in samewerking met die Universiteit van Edinburgh aangepak is om te bepaal hoe die uitwerking van sulke brande verminder kan word.

“Ons het in ons proefneming gesien dat sekere intervensies wat tans gebruik word, ondoeltreffend is om die spoed van hierdie tipe brande te verminder. Brandwerende verf help byvoorbeeld bitter min as gevolg van die intensiteit van die vlamme en die feit dat die huise vlamvat weens enige opening in die struktuur, wat uiteraard enige deklaag se beskerming sou teengewerk het. Deure en vensters sal dit ook altyd maklik maak vir ʼn brand om huise in digbevolkte nedersettings binne te dring,” sê Walls.

Die proefneming is deur Walls se kollega, dr. Nico de Koker, ontwerp. Hy het ook die resultate ontleed.

De Koker sê die proefneming is ontwerp om ʼn tipe brandlyn na te boots wat dikwels in digbevolkte nedersettings gevind word wanneer ʼn brand daardeur versprei.

“Ons het grootskaalse instrumentasie, termiese beeldvormingskameras, ʼn hommeltuig en ander toerusting in die proefneming gebruik om data oor vlamlengtes, temperature wat ondervind is, verspreidingskoerse en inligting oor wanneer huise aan die brand geslaan het, te verskaf.”

Volgens Walls het dit sowat vyf minute geduur vandat die eerste huise aan die brandgesteek is totdat die laaste huise vlamgevat het.

“Dit is angswekkend wanneer ʼn mens in ag neem dat dit dikwels ʼn inwoner ʼn hele paar minute neem om ʼn brand te ontdek, die plaaslike brandweer te skakel, ʼn brandweerwa om uitgestuur te word en wat dan moontlik ver moet ry, vir brandbestryders om die brandende huise te vind in die middel van ʼn nedersetting sonder straatname, om hul toerusting op te stel en uiteindelik die brand te blus,” sê Walls.

“Ná sowat 16 minute was daar in die proefneming omtrent geen huise meer oor nie – al wat oorgebly het, was ʼn hoop skrootmetaal op die grond. Temperature van tot omtrent 1 200 °C is gemeet en meters-hoë vlamme het by die huise uitgepeul.”

Joseph Pretorius, adjunkbrandweerhoof van die BVM, sê dat brandbestryders gereeld hul lewens in gevaar stel om hierdie gevaarlike brande te blus.

“Dit is opwindend dat ons munisipaliteit hierdie navorsing kon moontlik maak sodat ons beter kan verstaan hoe hierdie brande versprei en optree.”

Die Wes-Kaapse rampbestuur en brand- en reddingsdienste is reeds vir ʼn geruime tyd besig om maniere te vind om brandveiligheid in informele nedersettings te verbeter, sê Marlu Rust, assistent-direkteur.

“Ons het die afgelope paar jaar nou saam met die Universiteit Stellenbosch gewerk,” sê Rust. “Ons brandweerafdelings ondervind reuse-uitdagings om sulke brande te probeer blus; daarom is dit belangrik dat die regering, akademici en gemeenskappe saamwerk om oplossings te vind.”

Walls sê die span is besig om hieruit asook uit talle ander navorsingsproefnemings, ʼn goeie begrip van brandverspreiding in nedersettings te vorm.

“Hoewel daar nie ʼn maklike oplossing vir die probleem is nie, toon die data ten minste watter tipe intervensies minder doeltreffend is. Rekenaarmodelle is ontwikkel om brandverspreiding deur nedersettings na te boots en kan binnekort nuttige besluitnemingsinstrumente vir risiko-ontleding in nedersettings word en potensieel vir die ontwikkeling van brandveiligheidstrategieë.”

Volgens Walls het die proefneming ook gehelp om lig te werp op die prestasie van produkte wat gebruik word om ʼn brand in informele nedersettings te blus; hoe vinnig hierdie brande versprei; en hoe om hulle so doeltreffend as moontlik te onderdruk en hoe gemeenskappe kan help.

Hy sê ʼn finale reeks proefnemings wat ná hierdie grootskaalse toets gedoen is, word tans ontleed om verdere insig oor ʼn aantal aspekte te verkry. ʼn Reeks toetse is ook gedoen om die doeltreffendheid van gemeenskapsgebaseerde onderdrukkingstelsels te verstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans ·

Meeste munisipaliteite se brandweer afdelings is tot niet, en daar is ook geen brandwater naby plakkerskampe nie, want die infra struktuur is nie in plek nie. Die brandweer waens wat water dra het miskien genoeg om een hut te blus, dan is die water op. Dit alles lei terug na die regering se onbevoegdheid en plundering van munisipale fondse

Jaco ·

Eintlik moet dit andersom wees: die oorwegend wit gebiede moet sonder waterpunte en ander infrastruktuur wees en meeste mense in plakkerskampe moet ook wit wees.
Die huidige situasie verstaan ek glad nie: hoe kan die regering so sleg sorg vir hulle rasgenote in die plakkerskampe? Wat dan nou van Black lives matter, Ubuntu en human rights?

Dries ·

Goed. Nou wat nou? Die wortel van hierdie probleme word nooit aangespreek nie. Die sleutelwoord is “digbevolkte”. Ek laat dit daar.

4ntj13 ·

“…die grootste…”? Ag kom nou!
Ek dink steeds die beste oplossing is dat die regering beter massa-behuising oprig as HOP-huise. Ironies, die Russe en Chinese weet hoe. En dis tyd om mense te leer dat komberse en warm klere báie beter is teen koue as enige vuur of verwarmers in sulke gebiede. Wat het geword van die ou, gesamentlike stroois-kombuise? Kinders (en later grootmense) wat net vir kwaaddoen rondloop dwing almal om vir homself te moet sorg in isolasie. Ons kort regering met inisiatief om alle mense op grondvlak se lewensuitkyk te verbeter, en nie net vir hul eie paleise te sorg nie. Dís wat hulle by kommuniste moet leer mis kyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.