Dís hoekom Breytenbach onttrek vir NDOV-pos  

Mmusi Maimane, leier van die DA. en adv. Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie. Foto: Twitter (@Our_DA)

Adv. Glynnis Breytenbach, een van die kandidate op die kortlys vir die pos van Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV), het haar op die nipper aan die proses onttrek.

Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie, het saam met Mmusi Maimane, leier van die DA, dié aankondiging Woensdag gemaak by ʼn mediakonferensie in Kaapstad.

Onderhoude vir die pos van NDOV het vandag begin en Breytenbach was saam met 11 ander kandidate op die kortlys om vir dié invloedryke pos mee te ding. Maimane het egter gesê nadat Breytenbach met haar kollegas in die DA en die regsbedryf gepraat en “die afgelope paar dae diep gedink het”, het sy besluit om haar te onttrek.

“Oor die afgelope 15 jaar is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se geloofwaardigheid ernstig ondermyn deur agtereenvolgende aanstellings in die posisie van NDOV wat versuim het om die streng standaarde van onafhanklikheid en integriteit te handhaaf wat dié amp vereis.

“Opeenvolgende nasionale direkteure het hul posisie misbruik om politiek te beïnvloed, ʼn stryd tussen faksies te voer, sekere vervolgings te onderdruk en ander weer onbehoorlik na te jaag. Deur dit te doen het hulle die gereg gedwarsboom en die heilige hoeksteen van grondwetlike demokrasie – gelykheid voor die reg – ondermyn,” het Maimane gesê.

Die opposisieleier het gesê dié gedrag van NDOV’s het ʼn indruk by die publiek gewek dat die regstelsel maklik misbruik kan word deur diegene met magtige en politieke bande en dat die NVG aan sy politieke meesters verslag lewer eerder as om die korruptes aan die pen te laat ry. “Dit is presies hierdie soort misbruik wat daartoe gelei het dat adv. Breytenbach die NVG verlaat en by die DA aangesluit het.”

Maimane sê die ANC se beleid om kaders in magtige posisies aan te stel het professionele staatsamptenare demoraliseer aangesien hulle nie beoordeel is op grond van werkgehalte nie, maar kontakpersone en lojaliteit aan die party.

“Dit het die professionaliteit van die staatsdiens ernstig geknou en toegelaat dat ʼn netwerk van korrupte kaders in elke departement en staatsinstansie ingewortel raak.”

Hy meen die enigste manier om die publiek se vertroue in die NVG te herstel, is om ʼn NVG-hoof aan te stel wat heeltemal verwyderd is van partypolitiek. Die persoon moenie net onafhanklik optree nie, maar sy of haar beeld moet een van algehele onafhanklikheid wees. “En dit is hierdie faktor wat gelei het tot adv. Breytenbach se besluit.”

Maimane het beklemtoon dat hy volle vertroue het dat Breytenbach haar nietemin uitstekend van haar taak sou gekwyt het indien sy as NDOV aangestel is. “Sy is vreesloos, dapper, uiters onafhanklik en was vir die grootste deel van haar lewe ʼn professionele aanklaer.”

Hy het gesê pres. Cyril Ramaphosa het nou die geleentheid om aan die land te bewys dat die strafregstelsel nie meer misbruik sal word vir politieke doeleindes nie en dat elke persoon gelyk voor die reg sal wees, ongeag posisie of mag. “Die president moet ʼn kandidaat aanstel wat uiters onafhanklik is, lojaal aan die wet en Grondwet, en ʼn bewese rekord het van sulke optrede.”

Die kandidate wat steeds oorweeg word vir die pos van NDOV is Andrew Chauke, Andrea Johnson, Mike Makhari, Moipone Noko, Naomi Manaka, Silas Ramaite, Rodney de Kock, Simphiwe Mlotshwa, Matric Luphondo, Siyabulela Xhanti Mapoma en Shamila Batohi.

Onderhoude met die kandidate het vandag begin en sal na verwagting tot Vrydag voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hendrik UAE ·

En so blok hy nog n witte om n belangrike pos te beklee.Of sien ek nou iets wat daar nie is nie?

Landi ·

Hierdie is n DA strategie wat ek nie sien kan werk nie. Die mentaliteit is om mense oor te haal na DA met verkiesing, as die party met die lokende aas.

Johann cb ·

Dit is jammer sy het onttrek! Sy is die aangewese persoon om magsmisbruik te stop!

Lientjie ·

Haar naam was net daar om die prentjie wit en swart maak, en dat sy ‘n DA lid is gaan in elk geval nie vir hulle werk nie. Hulle sou haar op een of ander manier net weerk uitgewerk het, so spaar haar die verleentheid.

Chris du preez ·

As sy regtig kans gesien het daarvoor sou sy nie ontrek het nie. Sy moes juis hard probeer het om die pos te kry en die dept van openbare vervolging weer op die regte pad te kry. Haar redes vir ontrekking maak nie sin nie

John ·

Dit sou nie werk nie, maar hulle sal nie iemand wat nie ‘n ANC-kader is, aanstel nie. Die sirkus duur voort. Ons land sterf aan ‘n ongeneeslike Afrika-kwaal. As ons mense maar vlermuise geeet het, kon ons nog plan gemaak het…

Nettie ·

Wat is die kans dat sy die pos sou gekry het? Ek sou, as ek sy was, al heel aan die begin “Dankie, maar nee, dankie!” gesê het – me. Breytenbach het tog heelwat “inside knowledge” van die NDOV, sy behoort te weet dat dié department van binne en buite vrot is van die korrupsie.

1+1 ·

Ons sal sien of hierdie skuif ‘n Skaakmat is, dit is beslis ‘n “skaak” skuif ; mooi so DA!

Jack Klok ·

Ek is van mening dat sy die regte ding gedoen het. Dit stuur ‘n duidelike boodskap na Africa’s National Corruptness dat wit mense hulle nie met semels wil meng nie, want ongeag van hoe hard sy probeer sal sy stank vir dank kry.

In elk geval, die ANC kan nie bekostig om ‘n kundige persoon met integriteit in die pos aan te stel nie. Al hulle leiers sal dan een twee drie agter tralies beland. Vir die land sal dit egter ‘n winskoop wees.

jaco ·

kader-ontplooiing is maar dieselfde as jobs vir Broederbonders in die ou SA. “Hulle” het dit maar net by “ons” geleer.

Annamarie Olivier ·

Jaco jy sal weet want jy is seker ‘n broederbonder so jy het dit eerstehands ervaar.

jaco ·

ek was te jonk in daardie jare. my pa het nie die Nasionale Party ondersteun nie. Hy het maar net dié goed waargeneem. Ek het in 1990 in die staatsdiens begin werk en ook VINNIG gesien my pa was reg: lekker jobs word gegee vir broederbonders wat nie noodwendig die beste vir daardie werk bekwaam was nie.

Pieter ·

Ek stem saam – hulle sou haar in elk geval nooit aanstel nie, maar net weer die geleentheid misbruik om haar te verneder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.