‘Dís hoekom DA-hoës by hospitaal weggejaag word’

Dr. Sibongiseni Dhlomo

Die provinsiale departement van gesondheid het redes bekend gemaak hoekom twee DA-hoës Maandag fisiek daarvan weerhou is om die onkologie-eenheid in die Addington-hospitaal in KwaZulu-Natal te besoek.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê Patricia Kopane, die DA se skaduminister van gesondheid, en dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder van gesondheid, is verbied om die hospitaal te besoek omdat hulle nie by besoektye gehou het nie.

“Selfs die familielede van pasiënte moet gehoor gee aan die besoektye,” het Dhlomo in ʼn verklaring gesê.

Kopane en Keeka is uit die Addington-hospitaal vergesel waar hulle ʼn oorsigtelike besoek sou aflê. Hul besoek aan die Albert Luthuli Sentrale Hospitaal is gevolglik ook gekanselleer.

Dhlomo het Sondag ʼn verklaring uitgereik oor die besoeke van LP’s aan hospitale.

Dit is nie die eerste keer dat Dhlomo “onaangekondigde” besoeke verbied nie. In 2015 het hy tydens ‘n sitting van die provinsiale wetgewer gesê diegene wat sommer net opdaag by hospitale sal uitgeskop word. “Wanneer jy wakker word en besluit jy is verveeld en na ʼn hospitaal of kliniek toe gaan, kan ek jou waarborg jy sal nie net toegelaat word nie.”

Maroela Media het vroeër berig die DA het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se verklaring dat die verslag oor KwaZulu-Natal se onkologiekrisis afgehandel is en binnekort gepubliseer sal word, verwelkom.

“Die verslag het bevestig wat die DA nog die heeltyd sê: dat toerusting wat noodsaaklik is vir ondersoek en behandeling óf gebreek is óf glad nie beskikbaar is nie, dat daar ʼn tekort is aan personeel en dat daar ʼn reuseagterstand is wat daartoe lei dat behandelbare kankers vinnig ongeneeslik word,” het Keeka gesê. “Ons bedank die MRK dat dit een van die min hoofstuk 9-instellings is wat klaarblyklik nie deel is van die staatskaping nie.”

Dhlomo het in sy verklaring gesê oorsigtelike besoeke is ʼn grondwetlike reg van LP’s, maar dat hulle weet hulle kan nie net daar opdaag en sê hulle is daar “vir oorsigdoeleindes nie.

Dhlomo voer aan hul besoek was hoogs ontwrigtend omdat die hospitaal of kliniek se bestuur dan moet ophou na die pasiënte omsien en die LP oriënteer oor hoe elke afdeling van die instansie werk. “Dit geld vir alle regeringsinstansies. Skole, polisiestasies en howe.”

Dhlomo het gesê daar is parlementêre voorskrifte en daar moet gehoor gegee word daaraan. “Besoeke moet so gereël word dat dit nie pasiëntprivaatheid, badtye vir die pasiënte sowel as pasiëntsorg ontwrig nie. Dit moet ook nie met dokters se konsultasies en roetines inmeng nie.”

Keeka voer aan dat hy uit ordentlikheid die departement ingelig het van hul beplande besoek, maar toe Sondag meegedeel is dat hulle nie die hospitaal mag besoek nie.

Die IFP het Maandagaand in ʼn verklaring gesê hulle is “woedend” omdat die departement niks doen aan hierdie krisis nie. “Deur nie ʼn tydsraamwerk te verskaf nie, sê Dhlomo in effek dat hy nie omgee nie. As sy prioriteite reg was, het hy met ander provinsies en die privaatsektor gepraat om verligting aan die pasiënte te bring.”

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, het verlede maand aangekondig die provinsiale tesourie het die administrasie van die provinsiale departement van gesondheid oorgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieterlewismuts ·

“Gewapande wagte om LP te keer om nie buite besoek tye die hospitaal te besoek want anders sou dit te ontwrigtend wees.”

Wie probeer hy oortuig?

Enigiemand wat langer as twee dae in n hospitaal vir behandeling was sal weet dat n enkelling of drie GEENSINDS ontwrigtend sal wees nie.

Massas besoekers by ELKE pasient miskien wel.

Netekke ·

Punt is, hulle wou nie pasiënte besoek nie, so waarom moes hulle wag vir besoektye? Hulle wou sien of daar regtig verbeteringe aangebring is?

Annatjie ·

Nee hulle wou hom nie toelaat nie, want hulle het nie kans gehad om hulle swak hospitaal te verdoesel en voor te gee wat dit nie was nie. Die ideaal sal wees dat hulle enige tyd besoek kan word deur die LP, want onvoorbereid kan jy definitief die dag tot dag behandeling van pasiënte waarneem

Anoniem ·

Maroela Media, baie dankie vir die “entertainment value” – ek kon nie help om hardop te lag toe ek die knaap se verskoning leesnie. Hoekom is dit dan nie so aan die besoekers verduidelik nie? O ja… dit het ‘n rukkie geneem om hierdie storie uit te dink.

Verstaan nie mooi nie ·

Hoekom die twee mense wegjaag? Is daar omstandighede in die betrokke hospitale waar die buitewereld niks van mag weet nie?
Ek verstaan dat daar aan besoektye gehou moet word maar om die twee mense te weerhou om toegang te kry tot die hospitaal a nee a.

Koos1 ·

Ek het nie geweet dat howe, polisiestasies en skole besoek tye het nie?
Hierdie ou weet duidelik iets wat ons nie weet nie.
Volgens my het die staat ‘n oop deur beleid……….. behalwe as iets weggesteek moet word.
Van Tonder van Spur klink geloofwaardig teen hierdie knaap!!!

Uvonka ·

Met hulle mentaliteit dink hulle enige verskoning is ‘n seker ‘n goeie verskoning!!

Ander Annie ·

Besoektye nogal???? Nou het ek alles gehoor. Dit is regtig nou die mees onaanvaarbare kamstige verskoning in ‘n lang tyd. Glo hy homself?

snoefie ·

die da afvaardiging wou nie sien hoe die pasiënte bad nie. dalk hoe hulle dehandel word of medikasie wat toegedien word. alhoewel ek kry die indruk dat die doel van die besoek was om werksaamhede by die hospitaal te evalueer. ek hoop hulle het die ras kwota van die personnel ook nagegaan.

Tommie ·

Ek kan maar net lag. Moet ons dit nou glo. Hulle wou hulle werk doen. Flou verskoning

Michael ·

Gevaarlike hospitaal waar gewapende wagte besoekers uitgooi wat nie by besoek tye hou nie.

Hanna ·

Sedert wanneer word daar van enige
Hooggeplaastes verwag om Hospitaal Inspeksies of Amptelike besoeke slegs binne Pasiente besoek ure te doen.?
Dit is juis nie die tyd wat n Hospitaal Bestuurder nog n menigte besoekers ook in die gange wil hê nie.
Enige amptelike besoek kan gesien word as n geleentheid om te spog met jou Hospitaal se Kwaliteit dienslewering!!

Hierdie gaan oor ANC teenoor n DA Inspeksie. Net oor Politiek.

Maar nou ja…..Zuma is die ou wat die voorbeeld stel vir sy onderdane. Die belaglikste verskonings en hulle dink ons is almal “FOOLS”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.