Dís hoekom kieshof Zuma in verkiesing toelaat

(Foto: MK-party/X)

Die kieshof het Vrydag redes verskaf oor waarom hy vroeër die maand bevind het dat oudpres. Jacob Zuma wel verkiesbaar gestel kan word in die komende verkiesing. Dít ten spyte daarvan dat hy ʼn misdaadrekord het. Die bevel kom nadat Zuma se MK-party teen ʼn besluit van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), dat Zuma nié verkiesbaar gestel mag word nie, geappelleer het.

Die kieshof het bevind dat die 15 maande tronkstraf wat Zuma opgelê is weens minagting van die Konstitusionele Hof weliswaar nie op ʼn vonnis neerkom nie, aangesien hy nie die reg op appèl gehad het nie.

Art. 47(1)(e) van die Grondwet bepaal dat enigiemand wat skuldig bevind word aan ʼn misdryf en tot meer as 12 maande gevangenisstraf gevonnis word sonder die opsie van ʼn boete, nie ʼn lid van die Nasionale Vergadering mag word nie.

Die MKP het aangevoer dat bogenoemde artikel nie op Zuma van toepassing is nie, aangesien hy nie die reg gehad het om teen die uitspraak te appelleer nie. Dit is omdat ʼn mens nie as “gevonnis” beskou kan word totdat ʼn appèl teen die skuldigbevinding of vonnis ingestel is nie, aldus die MKP. “Zuma is deur die hoogste hof gevonnis en sy vonnis was dus nie appelleerbaar nie.”

Luidens die wet is die betrokke artikel nooit onmiddellik afdwingbaar nie, aangesien ʼn oortreder eers die kans het om appèl aan te teken teen sy skuldigbevinding of vonnis. Die OVK, aan die ander kant, het geredeneer omdat Zuma deur die hoogste hof gevonnis is en dus nie kón appelleer nie, was die bepaling in die wet onmiddellik van toepassing.

Die kieshof het hier met die MKP se interpretasie van die wet saamgestem. “Die opstellers van die Grondwet het ʼn mens se reg erken om teen hul vonnis of skuldigbevinding te appelleer. Indien dit nie vir hulle belangrik was nie, sou hulle nie ʼn deel in die betrokke artikel ingesit het wat bepaal dat die wet eers in werking kan tree ná afhandeling van ʼn appèlproses nie.”

Die hof het wel nie betwis dat Zuma skuldig bevind is aan ʼn misdaad, en dat hy, deur ʼn hofbevel te verontagsaam, wel ʼn strafregtelike oortreding begaan het nie.

Die MKP het ook aangevoer dat Zuma net drie maande in die tronk was voordat hy vrygelaat is, as deel van ʼn presidensiële kwytskeldingsprogram. Artikel 47(1) van die Grondwet behoort dus nie op hom van toepassing te wees nie.

“Die gevolg van die kwytskelding was dat hy tot slegs drie maande tronkstraf gevonnis is en dat die res van sy vonnis gekanselleer is.” Die hof het egter nie hiermee saamgestem nie en gesê die president het nie die mag om ʼn vonnis wat deur ʼn hof opgelê is, uit te wis nie.

Die OVK het intussen die Konstitusionele Hof genader om appèl teen die kieshof se besluit in te dien. Die kommissie glo dit is in die openbare belang dat daar sekerheid gegee word oor die behoorlike vertolking van art. 47(1)(e) van die Grondwet. Partye is uitstel tot 30 April gegee om hofstukke in die saak in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Absolute twak want basies se die Kieshof dat enige uitspraak van die Konstitusionele Hof dus ongeldig en nie-bindend is nie end at 1 enkele artikel in die Grondwet die talle ander artikels oor die Konstitusionele hof oorheers. As die laagste en kleinste hof in boendoes die bevel gemaak het dan is dit bindend, maar nie as die hoogste hof in die land dieselfde bevel gemaak het nie? Net 30 plussers kan so redeneer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.