Dis hoekom OVK nie Mashaba se ActionSA wil registreer

Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg

Twee politieke partye se embleme wat volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) so eenders is dat hulle kiesers waarskynlik sal verwar is die hoofrede vir die besluit om nie ActionSA as politieke party te registreer nie.

As ʼn party nie amptelik by die OVK geregistreer is nie, kan die party nie aan verkiesings deelneem nie. Die OVK-besluit is dus ʼn ernstige besering in die wegspringblokke vir die sakeman-politikus Herman Mashaba en sy party, want hulle kan nie aan enige politieke proses deelneem nie.

ActionSA is woedend oor die besluit en sy hoofamptenaar, Michael Beaumont, sê die OVK se besluit is verregaande en ActionSA se regspan staan reeds gereed om die verkiesingskommissie te laat streepsuiker kry.

Die OVK, aan die ander kant, is slaggereed en vol vertroue dat ActionSA eerder maar sy geld en tyd vir die ontwerp van ʼn nuwe, meer oorspronklike logo kan gebruik, want die OVK meen die kommissie sal in ʼn hofstryd seëvier.

Suid-Afrika het meer as 630 geregistreerde politieke partye, waarvan die meeste nog nooit aan ʼn verkiesing deelgeneem het nie, maar steeds elke jaar die geld betaal en die reëls nakom om as party geregistreer te bly.

Elke party het ook ʼn geregistreerde embleem, en die wet bepaal dat enige nuwe party se embleem nie só naby aan ʼn ander party se embleem mag wees dat dit kiesers op die stembrief sal verwar nie.

Die slegte nuus vir Mashaba en ActionSA is dat daar ʼn party met ʼn posadres in die Johannesburgse voorstad Melville is onder die leiding van ene Billy Tlou Nyaku. Die party se naam is die Party of Action (POA) – nie dat hy al ooit enige party-aksie opgelewer het soos byvoorbeeld verkiesingsdeelname nie – en die slegte nuus vir ActionSA is dat die OVK meen die twee embleme is so eenders dat dit kiesers kan verwar.

ActionSA se logo (links) en POA se logo (regs) (Foto: Verskaf)

ActionSA, wat ʼn hele hoop geld en navorsing aan die embleem bestee het en dit reeds op ʼn veelheid politieke snuisterye aangebring het, is glad nie dik van die lag nie en meen volgens Beaumont daar is drie redes hoekom die hof teen die OVK se besluit sal beslis.

Eerstens voer Beaumont aan die ooreenkoms tussen die logo’s is nie van so ʼn aard dat dit verwarrend is nie.

Die tweede rede wat die OVK aanvoer dat ActionSA-embleem ontoelaatbaar is, is dat die landsvlag daarop uitgebeeld word, wat volgens die OVK strydig is met die Wet op Heraldiek.

Hierop het Beaumont geantwoord dat hy meen die OVK se juridiese bevoegdheid strek niks verder as die Kieswet nie, so die Wet op Heraldiek val buite daardie bevoegdheid.

Derdens het Beaumont aangevoer dat die OVK nie konsekwent is in sy optrede is nie – die OVK het die African Independent Congress (AIC) – wat tans twee setels in die Nasionale Vergadering het – se logo nie verbied ten spyte van die mate van ooreenkoms van die AIC-logo met die ANC-logo nie, so hoekom nou ActionSA se logo verbied?

Die OVK het vanmiddag ActionSA se aansprake verwerp op grond daarvan dat die logo’s na die OVK-mening wel verwarrend is, tweedens dat die OVK geen wet willens en wetens kan oortree nie – ook nie die Wet op Heraldiek nie – want die oortreding van enige wet maak enige handeling per definisie onwettig en dus ongeldig, en derdens dat die besware oor verwarring wat juis op voorbeelde soos die ANC/AIC-voorval gesorg het, juis die rede is waarom die OVK die reël met spesifieke omsigtigheid toepas, want omvattende navorsing toon bo alle twyfel dat byna alle kiesers hul party aan die embleem identifiseer op die stembrief – byna niemand gaan met die lys partyname of foto’s van partyleiers af om onderskeid te tref nie.

Dit maak volgens die OVK die duidelike onderskeibaarheid van logo’s kardinaal in die demokratiese proses omdat verwarring die hele konsep van betroubare en korrekte weerspieëling van werklike kiesersmening – die essensie van die demokrasie – sal kelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Suzette ·

Die OVK is glad nie onafhanklik nie en net nog maar net ‘n klomp ANC kaders. Hul weet hul gaan op hul neuse kyk met die nuwe party, daarom dat hul enige verskoning sal gebruik om Action SA te kniehalter.

Pieter ·

Skielik is daar ‘n probleem, maar met die rassistiese EFF en BLF se registrasie was daar geen probleem nie. BLF deur VF+ gestop. As jy ‘n hond wil slaan sal jy ‘n gepaste stok vind.

Fedup ·

I smell old jellyfish and a red garden gnome.
Go and have a looksie as to who really complained about a emblem.

Dries ·

Nog nooit van POA gehoor nie. Al hierdie klein Mickey Mouse partye is ‘n totale mors van tyd.

Hennie J ·

Hier kom n bietjie teenstand vir die kaders, so die kaders se kaders het opdrag gekry om die registrasie te vertraag of te blokkeer. Die afhanklike verkiesingskommissie is net so pateties soos alle ander kader ontplooiings en Mashaba gaan hare op sy tande he om hulle tot ander insigte te bring.

Gawie ·

Die logos lyk dalk eners, maar is baie duidelik onderskeidbaar.

gatgogga ·

Nie as jy ‘n IK het wat met ‘n desimale punt begin nie.

Ansie ·

‘n Mens moet ‘n besonder goeie verbeelding hê om die twee logo’s te verwar en ek sien ook nie die SA-vlag op ActionSA se embleem nie, net die kleure daarvan.

Jaco ·

ek het gedink die ANC-beheerde OVK sou Mashaba verwelkom het omdat hy vanaf “die rassistiese DA” weggebreek het.

Johan D ·

Die perd wat nie tussen die twee embleme kan onderskei nie behoort nie in ʼn stemlokaal te kom nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.