Dís hoekom Roland Schoeman sportminister wil wees

Die Suid-Afrikaanse swemmer Roland Schoeman het sy dienste aangebied as minister van sport, kuns en kultuur. (Argieffoto: Kazhuriro Nogi/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese medaljewenner Roland Schoeman, wat Sondag op Twitter gesê het hy wil Suid-Afrika se minister van sport wees, het nou ook ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf oor waarom hy dié pos wil beklee.

Schoeman, een van Suid-Afrika se mees gevierde sportlui, sê sy aanvanklike twiet het byna ʼn miljoen interaksies gehad en is gedoen weens toenemende bespiegeling dat Ramaphosa moontlik binnekort sy kabinet gaan skommel. Dít, asook weens die “onbekwaamheid wat talle ministers steeds wys” en wat volgens Schoeman veral gesien is in verlede maand se oproer in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“ʼn Mens kry die gevoel dat Suid-Afrikaners moeg is om gedien te word deur ministers wat oënskynlik net hulself wil dien, ten koste van gewone burgers,” skryf Schoeman in die brief aan die president wat hy op Twitter gedeel het.

Schoeman sê in sy nederige opinie benodig die land ministers wat geskik is vir hul posisies en weet wat hulle doen.

“ʼn Bietjie ervaring van die regte wêreld in hul portefeuljes sal ook help.

“Dit is hoekom ek myself formeel as jou minister van sport, kuns en kultuur wil beskikbaar stel.”

Schoeman stippel daarna ʼn lys van sy kwalifikasies uit. Dit sluit in ʼn graad van die Universiteit van Arizona en sy lang lys sportprestasies. Dié prestasies sluit onder meer in drie medaljes by verskillende aanbiedings van die Olimpiese Spele, tien wêreldrekords, ʼn toekenning van die Orde van Ikhamanga in silwer, insluiting in Arizona se Heldesaal en sy insluiting as een Suid-Afrika se tien invloedrykste sportsterre in 2010.

“Meneer die president, ek weet wat dit verg om ʼn suksesvolle atleet te wees.

“Vir veels te lank het politiek en ideologie sport besoedel tot op die punt waar talle federasies in diep moeilikheid is.”

Schoeman sê die land het ʼn sportminister nodig wat meer belangstel om jong mans en vroue na sukses op internasionale platforms te help lei as die politiek van federasies en sportklubs.

“Sekerlik wil ons wen as ʼn land?”

Schoeman sê hy is ʼn troste Suid-Afrikaner wat self gesien het hoe sport lewens kan verander en geleenthede kan bied. “Ek wil dieselfde vir talle ander in ons land sien, maar om dit te doen benodig jy ʼn sportminister wat weet wat hy doen.

“Ek bied my dienste nederig aan jou en ons land aan, sou jy in jou komende skommeling só verkies.”

Schoeman se brief het reeds duisende kommentare en reaksies veroorsaak.

Hoewel hy ook groot steun vir sy aanbod gekry het, was nie alle reaksie positief nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
H.A.

Meneer schoeman, jou vel kleur is nogsteeds nie van toepasing nie, miskien binne die volgende 20 jaar. Vergeet jy so gou dat die anc net net ‘our people’ kaders aanstel.

Kerneels

Ongelukkig sal politieke agtergrond nog steeds eerste prioriteit vir anc bly – kader ontplooing. Ten koste van effektiewe ministers en verantwoordelike regering.

Nie Verbaas

Wel dit sal n 500% verbetering wees in vergelyking met ons huidige geagte meneer.

Tino

Welgedaan! Dit is nou ‘n goeie voorbeeld en gaan nog vet op die vuur gooi waneer jy nie aangestel word nie

ABDP

Baie braaf Roland! Dit sal my weer lief maak vir sport as ‘n nuwe minister van sport self al op die podium gestaan het. Ek dink nie eens ons huidige minister kan ‘n bal vang nie. Hy so lomp, hy het lekker gewaggel langs Tatjana toe hy haar in wat by OR Thambo.