Dís hoekom weermag-hoë nie oor wapen vervolg word

Lt.genl. Zola Wiseman Songo Dabula. (Foto: Verskaf)

Die geneesheer-generaal en hoof van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens, lt.genl. Zola Wiseman Songo Dabula, is nie verder vervolg vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie nie, aangesien dit aan sy oorlede pa behoort het en hy die eksekuteur van sy pa se boedel is.

Dit is die hoofrede wat die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aanvoer in antwoord op skriftelike vrae oor die aangeleentheid wat die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, aan haar gerig het.

Die 63-jarige Dabula is in Mei by ʼn padblokkade in Temba, noord van Pretoria, in hegtenis geneem en het ʼn nag in die selle deurgebring toe hy met die vuurwapen betrap is wat nie in sy naam geregistreer was nie. Volgens polisierekords was Dabula nie aan diens nie en ook nie in besit van ʼn permit om tydens vlak 5 van die landwye inperking te reis nie. Hy het glo ook aan die polisie vertel dat hy werkloos is.

Minister Mapisa-Nqakula sê Dabula se regsverteenwoordiger het bewys gelewer dat hy wel in besit is van sy pa se doodsertifikaat en vuurwapenlisensie en boonop het die inhegtenisneming plaasgevind op ‘n tydstip waartydens daar amnestie vir die inhandiging van onwettige vuurwapens was.

Maroela Media het voorheen berig die voorgeskrewe vonnis vir die onwettige besit van ʼn semi-outomatiese wapen, soos die Norinco wat in Dabula se besit was, is 15 jaar gevangenisstraf. ʼn Landdros het wel die diskresie om die vonnis te verlaag as daar versagtende omstandighede is. In Dabula se geval is die saak twee keer uitgestel en in Augustus weens ʼn gebrek aan getuienis teruggetrek.

Adv. John Welch, die voorsitter van die SA Vuurwapeneienaarsvereniging, sê die eksekuteur van ʼn boedel moet besit neem van die oorledene se vuurwapen en dit in veilige bewaring in ʼn kluis hou. Hy is nie geregtig om die boedelbates te gebruik nie en as die wapen vervoer word, moet ʼn spesiale bergingspermit daarvoor verkry word.

“Die vraag is dus wat lt.genl. Dabula met die vuurwapen in Temba gemaak het terwyl die oorledene na bewering in die Oos-kaap gesterf het? En indien die pistool gelaai was, waarom?”

Welch bevestig die oorledene het ʼn lisensie gehad, maar die lisensie is nie oordraagbaar nie en dus nie op die beskuldigde van toepassing nie. “En dan is die volgende vraag of die beskuldigde wel ʼn geldige bevoegdheidsertifikaat het?”

Hy sê dit sou op pligsversuim van die senior staatsaanklaer neerkom as daar nie vasgestel is hoekom en waarheen Dabula met die wapen en ammunisie op pad was nie en of die eksekuteursbrief reeds voor die inhegtenisneming uitgereik is. “Verder skep die beslissing ook ʼn presedent, want iemand wat onder soortgelyke omstandighede in besit van ʼn vuurwapen betrap word, sal verwag dat sy saak ook teruggetrek moet word.”

Groenewald wag op verdere antwoorde op vrae wat hy aan die polisie en die departement van justisie gerig het in die verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Daizee ·

Ons almal weet tog daar sal een of ander “logiese” verklaring én oplossing vir dié tameletjie wees..

Tanniepetoors ·

Daar is nie “verskonings” vir onwettige besit van ‘n vuurwapen nie.

Kokerboom ·

Dan is die kader die GG !!!! As oud-offisier in die destydse burgermag het ek GEEN respek vir die SANW. Inteendeel ek skaam my vir die instelling!!!!

Werner ·

Outomatiese wapen wat aan sy pa behoort het jy kry nie n lisensie vir n outomatiese wapen nie

Marius ·

Lees weer “semi-automaties”. Alle pistole is semi-automaties.

gatgogga ·

Maar hoekom moet hierdie mense onderworpe wees aan enige wette?
Het hulle dan nie ge-struggle om vry te wees nie?

marius ·

Hy het geen reg om dit aan sy persoon te he nie . Daardie besit is mala fide .Hy moet dit in veilige bewaring hou , of inhandig by ‘n wapenhandelaar as hy nie ‘n voorgeskrewe kluis het nie . Dan gee hy nog vals besonderhede ? Hy was onregmatig in besit al is hy sogenaamd die eksekuteur en hy moes van regsverydeling ook aangekla word . Korrup , eie geregtigheid en nog meer korrup ! Almal van hulle !

Persheks Adri ·

Daar is prosedures wat gevolg word indien die wapen uit ‘n bedoel kom. Duidelik is dit nie in plek nie en besit van wapen sonder dokumente en stoor permit…

Dankie nou sal ons dit ook doen as hy mag mag ons ook!!!

Adam Adriaan ·

Daar is geen ander woorde om dit wat in die ANC/EFF aangaan as skelm, korrup en van die onderwêreld/duisternis te beskryf.

AndrewL ·

Dit is duidelik dat die aanklaer ‘n rede gesoek het om nie aan te kla nie. Die man was volgens wet nie geregtig om die wapen te besit, behalwe om dit veilig te bewaar nie. As hy nie op pad was om dit in te handig tydens amnestie nie, moet hy vervolg word, want amnestie maak nie daarvoor voorsiening nie.

Dink die aanklaer dat ons as die publiek so naief is om die opgemaakte verskonings te aanvaar?

Nou moet ek byvoeg dat dit nie die eerste keer is dat ek die tipe optrede van ‘n aankaer ervaar nie. As dit nou ek was, is ek tot in die afgrond vervolg.

Johann ·

Onaantasbaar. Bo die wet en enige toepassing daarvan. En dan natuurlik beskerm deur sy ANC kaders. Narre paradys alla RSA!

koos10 ·

Ons beskerm ons eie kaders teen alle kostes, al beteken dit dat die minister weet die hele SA (die met verstand) ‘n bol probeer rol!

Pieter ·

En as ons gewone wetsgehoorsame belastingbetalers mooi tussen die reëls “ek is anc en bo die wet verhewe”.

Marius ·

Baie eerlik die generaal om te verklaar hy is werkloos. Geen ANC kader doen enige werk in die regering nie behalwe om hul “pay packet” oop te maak en te kyk waar hulle nog kan skep.

Jakes ·

Glo my, hulle sal n duisend redes uitdink om die comrade uit die pekel te kry. Die SANW het n verleendheid vir die land geword.

David ·

Die ANC het besluit dat die man heeltemal te belangrik is vir hulle doeleindes om hom te verloor vir so klein wets oortreding. Hulle poog dus om die saak so uitterek en so baie verskoonings uitdink, dat die verdwyn uit die oog, – die pers se geheue is mos so klein, en dan daar gaat hy.
Belangstelling gaan die saak wen.

J ·

Ons hoop die DA en FV+ gaan weer klagtes lê teen die generaal vir o.m. REGSVERYDELING (lieg!), onwettige vervoer van wapens ensovoorts.

Kla die staatsaanklaer aan vir onetiese / onprofessionele optrede by die professionele liggaam vir regspraktisyns. (Prokureursorde?)

SKORS die staatsaanklaer!

Kadotjie ·

En moenie vergeet dat hy sonder n permit gereis het op vlak 5 van die inperking nie. Dit moet ook nog bykom.

AndréF ·

Natuurlik sal daar baie verskonings wees omdat hy ‘n lid is van die ANC en hy is die regte kleur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.