Dís hoeveel munisipaliteite vir e-tol opdok

Argieffoto

Argieffoto

Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite en die provinsiale regering het sedert Desember al R2.7 miljoen aan e-tol spandeer, het die Sunday Times berig.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het in September altesaam R308 000 van die vier entiteite geëis, volgens die berig.

Die beraamde maandelikse inkomste van alle Gauteng-padgebruikers was R260 miljoen.

Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni en die Gauteng-regering het saam tussen Desember en Maart R767 000 aan e-tol spandeer. In die vier maande sedert Junie beloop die gesamentlike uitgawe R1.3 miljoen.

Die provinsiale regering het 8 202 voertuie in sy vloot met e-tolskyfies, insluitend voertuie wat deur die uitvoerende lede gebruik word.

Die stad Johannesburg spandeer maandeliks ongeveer R56 000 aan e-tol, Tshwane R42 000 en Ekurhuleni R10 000, volgens die berig.

David Makhura, premier van Gauteng, het in Julie ʼn paneel saamgestel om die sosio-ekonomiese impak van e-tol te ondersoek. Motoriste en organisasies het intussen hul aanbevelings aan die paneel gemaak. Politieke partye, insluitend die Demokratiese Alliansie, Ekonomiese Vryheidsvegters en Inkatha Vryheidsparty het al die stelsel veroordeel.

Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, het aan die paneel gesê stedelike tol sal die ekonomie “doodmaak” en die stelsel moet hersien word. Hy het egter gebruikers gemaan om steeds hul e-tolrekeninge te betaal tydens die hersieningsproses.

Die paneel sal na verwagting teen die einde van November terugvoer gee aan Makhura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.