Dis ‘merke, gereed …’ vir matriekeksamen

(Argieffoto: Facebook)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, sê alles is in plek sodat vanjaar se matriekeindeksamen vlot kan verloop.

Werkers wat betrokke is by die druk van vraestelle moes ook vertroulikheidsooreenkomste teken, nadat twee matriekvraestelle verlede jaar voortydig uitgelek het. Sekuriteit wat die storing van vraestelle betref, is ook opgeknap.

Vanjaar se eindeksamen skop op 27 Oktober af en sal op 7 Desember eindig wanneer die laaste vraestel geskryf word.

Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, sê 735 677 voltydse matrikulante is vanjaar geregistreer om die departement van onderwys se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te lê. Dit is effens meer as verlede jaar se 725 034 voltydse kandidate.

ʼn Verdere 162 109 deeltydse studente sal ook vir dié eksamen sit.

“Vanjaar se eindeksamens sal by meer as 11 000 eksamensentrums landwyd plaasvind, waarna die vraestelle na byna 200 merksentrums gestuur sal word.”

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het 13 894 leerders – teenoor 13 201 verlede jaar – geregistreer om by 237 sentrums landwyd te skryf.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Omvattende Assessering (Sacai) het ook altesaam 4 361 deeltydse studente geregistreer om die eksamen af te lê. Dié studente sal die eksamen by 72 sentrums landwyd kan aflê.

“Vir die afgelope paar maande het die bogenoemde liggame hard gewerk om te verseker dat hul eksamenstelsels aan Umalusi se beleid en riglyne aangaande die administrasie, bestuur en gedrag tydens dié eksamens voldoen,” sê hy.

Umalusi het reeds al die geregistreerde instellings waar leerders hul eksamens gaan aflê, besoek en geoudit, asook ʼn aantal gekwalifiseerde merkers in elke provinsie geïdentifiseer en aangestel.

“Hoewel daar ʼn tekort aan merkers in sekere vakke, waaronder wiskunde, fisiese wetenskappe en Afrikaans, in Noordwes en die Oos-, Wes- en Noord-Kaap geïdentifiseer is, het die betrokke provinsiale departemente weer werwingsveltogte van stapel gestuur om dié tekorte aan te vul.”

Die nasionale departement van onderwys het intussen die eksamenvraestelle gemodereer en ooreenkomste met drukkers aangegaan wat die vraestelle op grootskaal sal druk, verpak, stoor en versprei.

Werknemers van die betrokke drukkers het ook vertroulikheidsooreenkomste geteken.

Twee matriekvraestelle is tydens verlede jaar se matriekeindeksamen deur ʼn werknemer van ʼn Johannesburgse maatskappy – wat deur die onderwysdepartement gekontrakteer is om matriekvraestelle te druk – uitgelek.

Die voorval het daartoe gelei dat al die leerders weer die eksamen vir die betrokke vakke moes aflê.

“Vanjaar is die sekuriteit in en om die storingsfasiliteite opgeskerp en dit sal deurlopend gemonitor word,” sê Rakometsi.

ʼn Ondersoek is destydse deur die departement van stapel gestuur om uit te pluis wat fout gegaan het en watter leerders betrokke was, maar Rakometsi het bevestig dat dit nog nie afgehandel is nie.

“Umalusi weet nie watter uitdagings die departement tydens hul ondersoek sou teëkom nie, daarom was daar nooit ʼn tydsraamwerk gestel vir wanneer die ondersoek afgehandel moes word nie.

“Ons wag steeds op terugvoer van die departement en gevolglik bly die saak onopgelos.”

In antwoord op ʼn vraag deur lede van die media het Rakometsi gesê die leerders wat destyds vermoedelik daarby gebaat het dat die vraestelle voortydig uitgelek is, se finale uitslag en Nasionale Senior Sertifikaat word steeds weerhou.

Dit is nie duidelik hoeveel leerders presies hierdeur geraak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Phillip ·

Mag my suen Goed skryf die jaar .Strekte aan aan al die Gr12s

AmY ·

Sterkte aan almal. Hierdie is ‘n baie moeilike tyd om te skryf.

Anel ·

Ek glo nie dat daar nie genoeg merkers in daardie vraestelle is nie. Hulle wil net nie bevoegde, blankes en Afrikaanssprekendes gebruik nie. Sterkte aan die matrieks.

annie ·

En nou kan die leerders ook sommer self besluit om hul te laat inent so tydens die eksamen… En dié wat siek voel of diegene wat siek wíl voel gaan die gereelde dramas nou weer op ‘n ander plek laat opvlam. Groot getalle sal dalk die hereksamens wil skryf weens die minister van gesondheid se ongesonde en ondeurdagte slim planne om ontslae te raak van al die opgepotte gepledge-de decoviting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.