Dis ʼn besliste ‘nee’ vir Phala Phala-verslag

President Cyril Ramaphosa buite NASREC op 5 Desember 2022 (Foto: Marco Longari / AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa is nog veilig in sy pos. Dit nadat 214 lede van die parlement Dinsdagmiddag “nee” gestem het om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Altesaam 148 LP’s het “ja” gestem.

Die aanvaarding van die artikel 89-paneel se verslag, wat bevind het daar is genoeg bewyse dat Ramaphosa wel die Grondwet oortree het met betrekking tot die Phala Phala-skandaal, is Dinsdagmiddag in die parlement gedebatteer. Die spesiale stemming, wat moes bepaal of die verslag verwerp of aanvaar word, het toe in persoon geskied.

Ten spyte van enkele ja-stemmers binne die ANC-geledere, insluitend dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het lede van die regerende party oorwegend “nee” gestem. Sy was die eerste van net vier ANC-LP’s wat ja gestem het. “As ʼn gedissiplineerde lid van die ANC, stem ek ‘ja’,” het sy tydens die proses gesê. Mervyn Dirks, Thandi Mahambehlala, Mosebenzi Zwane en Supra Mahumapelo het ook ten gunste van die verslag gestem.

Dr. Zweli Mkhize, wat tans om die posisie as president van die ANC meeding, en Lindiwe Sisulu, was nie teenwoordig tydens die stemmery nie. Beide was tot dusver baie uitgesproke daaroor dat die paneel se verslag verdoemende bevindings teen Ramaphosa gemaak het.

Ander parlementslede wat “ja” gestem het, sluit in dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en John Steenhuisen, leier van die DA. Meeste van die EFF-lede, insluitend Julius Malema en Floyd Shivambu, het ook “ja” gestem. Patricia de Lille en nog ʼn lid van haar party, Good, het buite stemming gebly.

Die VF Plus het na afloop van die stemmery gesê Ramaphosa se optrede wys dat hy die ANC se belange bó die van die land stel.

“Indien die nodige respek in hierdie geval daar was, sou die president bereid gewees het om verantwoording te doen teenoor die parlement se Nasionale Vergadering (NV),” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“Gesonde verstand dikteer immers dat hy dit sekerlik kon doen indien daar niks was om weg te steek nie. Hy wou nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Burgermeester ·

Dit wil voorkom of daar 214 lede in die parlement is wat geen ruggraat het nie, en boonop tekort skiet aan kritiese denkwyse. Hulle het hul eersgeboorte reg verkoop vir ‘n pot lensiesop.

Johan Tredoux ·

Dit gaat nie oor ruggraat nie. Pêlle is lojaal aan mekaar.

Johan ·

Dit gaan oor geld…waaroor dink julle gaan die parlement. Dans of ons sny jou af.

Cherokee ·

Ek lei af jy beskou die 4 anc-lede wat ja gestem het, as met goeie denkwyse en ruggraat. Ek hoop jy onthou die eff het ook ja gestem. Vertel ons van hulle.

JohanEtz ·

Dis tog wat ons van die ANC verwag het…waarom sal hulle buite karakter stem teen hulle party leier?
Selfs CR het nou onteenseglik bewys dat hy nie SA se belange voorop stel nie….

Johan Tredoux ·

n Familie man, sakeman en self-gemaakte Biljoenêr. Ai! Hoe loop die trane nou by my bene af!

Johan Tredoux ·

Jou beskrywing is die werklike beskrywing. My beskrywing was die Huisgenoot weergawe.

Antie Sarie ·

Ah. Die wonders van demokrasie. Die wolwe het gepraat en besluit wat is vir aand ete

Mathys ·

Het die JA-mense nou regtig gedink hulle gaan dit teen ‘n oormag van solidariteit maak? Tragies, maar waar! Ek herhaal wat ek so ‘n rukkie gelede met MAROELA gedeel het.

Ons het reeds te make met die gees van antichris wat binne afsienbare tyd homself aan die wêreld gaan bekendmaak.

Maar nou ja, die meeste mense in SA het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie wanneer na EINDTYD-ESKATOLOGIE verwys word nie en stel ook nie belang nie en word die Bybelse-voorstanders van dwaalleer beskuldig.

Antie Sarie ·

Jy vergeet. Rampie is n uitgesproke christen. Inteendeel. Hy praat baie min van ander gelowe. En jy wag verniet op n microchip of iets soortgelyk. Eskatologie hou mense al vir dekades besig. Want terwyl hul aandag afgetrek word, broei iets baie erger in die agtergrond.

Johan ·

Indien iemand nog dink ons kan “vriende” wees met die cANCer hoop ek regtig julle kom nou by…hulle moet vernietig en hul greep op die land gebreek word. Hou asb dus nou op om met hul te kommunikeer, te nooi na ons instellings en wat nog alles…. hulle is vyand nommer 1.

Leon ·

Dis ook ‘n besliste “Nee” vir demokrasie, eerlikheid en regverdigheid in hierdie land.

Johan Tredoux ·

Demokrasie is wanneer die meeste mense stem teen, of vir n saak. Die probleem met demokrasie is, dat demokrasie nie regverdigheid of regdenkendheid waarborg nie, agv die gedagtepatrone van die meerderheid.

Nie Verbaas ·

Wel ons het niks anders verwag nie. Gemors beskerm gemors.

Harley Davidson ·

Groenewald is nie ‘n leier nie wat doen hy vir die mense wat vir hom gestem het?Hy is altyd besig met onbenullighede, hoekom doen hy nie die eerbare ding en loop nie sodat ‘n nuwe leier kan baklei teen die diskriminasie van huidig benaadeelde minderhede.

Gert ·

Die uitslag sou anders gewees het indien dit in geheim gedoen was.

Pieter ·

Nee, ek se neem notas en onthou. Doen dinge oop en eerlik. As hulle so skelm is in die openbaar, dink net hoe groot is die skelm in die duister….

Johann ·

Foto sê als…kul julle hier en lieg vir julle daar en TADA…ek kom weg met als!!!!!

Papsak ·

korrupt deur en deur geweet dit gaan so werk ek hoop as ek dalk n oortreding begaan kom ek ook so vinnig los

Leon ·

En terwyl Ramaphosa belasting geld gebruik om tee te drink in Engeland en miljoene in sy mebels wegsteek, verval ons land so…
Cry the beloved country

Peter ·

en so duur die verkragting van ons sogenaamde demokrasie voort

Owlie ·

Dis duidelik dat die meerderheid van die 214 lede banger as bang is om openlik te stem wat hulle in die geheim sou stem, dis ook duidelik na gister se lewendige uitsendings dat daar lede is wat net nommers volmaak want van hulle verstaan duidelik nie waaroor die hele storie gaan nie. Dis ook net in die huidige SA dat n artikel 89, enige wetgewing, korrupsie, diefstal of enige oortreding debater kan word.

Hierdie oortreding is tydens lockdown gepleeg toe meeste bedighede nie besigheid mag doen nie mmmm????

As hierdie miljoene rande dan nie belasbaar is nie hoekom moet eerlike hardwerkendes belasting betaal????

Kobus ·

Dit gaan hier oor een beginsel. Ons ondersteun Rampposa want dis al hoe ons ons poste as ministers gaan / kan / sal behou want ons gaan hom verseker herinner daaraan. Dis al, Die stemmers weet dat as hy val is hulle poste daarmee heen. Siek spul

Schalk ·

Dit is maar weereens net ‘n bewys van sekere wette net van toepassing op sekere mense. Onbevoegdheid en geen skaamte vir vergryp is sterk teenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.