‘Dis net genade’ – egpaar ná Covid-stryd

Corrie Burger in die Netcare Unitas Hospitaal. (Foto: Verskaf)

Corrie Burger (55) kon Vrydag, ná vyf maande van hospitaalbehandeling vir Covid-19, eindelik terugkeer huis toe.

Dít nadat hy op 18 Julie reeds weens asemnood in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion, Gauteng, opgeneem is.

“Dit is baie oorweldigend. Ná al hierdie maande dink ʼn mens dit gaan nooit kom nie en dan kry jy daardie oproep,” vertel sy huweliksmaat, Miriam Burger (56).

Die Burgers het op 7 Julie positief getoets vir Covid-19. Corrie is op 14 Julie opgeneem in die hospitaal, maar is ʼn paar dae later reeds ontslaan. Die volgende oggend 03:00 moes Corrie egter inderhaas weer hospitaal toe, nadat sy suurstofvlakke kritiek laag gedaal het.

Hulle moes twee dae wag vir ʼn ventilator en ʼn bed in die intensiewesorgeenheid.

Van daar af het Corrie en Miriam se vermoeiende pad vol genade begin. Corrie is vir weke met tussenposes aan die ventilator gekoppel. Later het hy ook ʼn tragea gekry, terwyl hy twee maande lank in ʼn geïnduseerde koma geplaas is. Hiermee saam het hy ʼn voortdurende stryd gevoer met infeksies.

Wanneer mense vir haar sê, “Corrie gaan nie gesond word nie”, het sy hulle geantwoord: “Julle ken nie my man nie, en ook nie my God nie”.

Vir die eerste paar weke wat Corrie in die hospitaal was, kon Miriam hom weens Covid-19-regulasies nie besoek nie. Sy vertel hoe moeilik dit was om hom wel te besoek en sy toestand te sien. Dit is eers maande later dat sy by ʼn suster gehoor het Corrie was op die lys van “pasiënte wat dit nie gaan maak nie”.

Miriam onthou hoe sy gevoel het tydens die maande van onsekerheid: “Absolute vrees. Ek was histeries gewees.

“Ons is al 37 jaar getroud. Ek is absoluut afhanklik van hom,” vertel Miriam.

Corrie en Miriam Burger se geloof het hul deur sy Covid-19-stryd gedra. (Foto: Verskaf)

Die omvang van aanhoudende terugslae, die onsekerheid of Corrie dit gaan deurhaal, die verlange na sy teenwoordigheid en die afwesigheid van ʼn inkomste het mettertyd op Miriam se eie gesondheid ingewerk – dermate dat sy moes hulp kry.

“Maar ek was heeltyd in gesprek met God. Die hele tyd. Daar was tye dat ek gesmeek het, tye wanneer ek gehuil het, selfs tye wanneer ek onderhandel het met die Here,” vertel Miriam, en voeg oortuigend by: “Die Here was altyd daar.”

Toe Miriam hospitaalbesoeke kon doen, het sy elke geleentheid benut. Toe Corrie onder diep verdowing was, sou sy vir hom sing en met hom praat.

Tydens die hospitaalbesoeke het Miriam daagliks gesien hoe mense doodgaan en toegedraai word. “Dan moet jy na jou man toe gaan en vra hoe dit gaan.” Soms kon hy nie eens antwoord nie.

Finansiële bystand

Corrie is ʼn navorsing-en-ontwikkelingsingenieur, wat op ʼn kontrakbasis werk. Hy is ook die enigste broodwinner. Gevolglik het hy geen inkomste gehad sedert hy in die hospitaal opgeneem is nie.

ʼn Vriendin het vir Corrie ʼn GoFundMe-blad gestig. Hoewel die bedrae van die fonds minimaal is, bly sy dankbaar daarvoor. Hiermee saam het vriende haar ook gebel en haar bankbesonderhede gevra.

“Mense het begin om geld in my rekening in te betaal, tussen R200 en R20 000. Ek kon al ons rekeninge betaal. Nie een dag het ek iets kortgekom nie.”

Toe Corrie op sy swakste was, het sy matriekklas van 1983 op die hospitaal se dak gestaan en vir hom gebid en gesing.

Verbetering

Dit was eers einde September dat Corrie sy bewussyn stelselmatig herwin het. Toe het hy ook reeds 40 kg verloor, en kon nie meer praat nie.

Aan die begin van Desember is Corrie uiteindelik na ʼn verbeteringsfasiliteit verskuif nadat hy ʼn paar weke goed in ʼn privaat saal aangepas het. By die verbeteringsfasiliteit was hy slegs vir ʼn kort ruk aan ʼn ventilator gekoppel voordat hy hospitaalsuurstof moes ontvang. Tans ontvang hy 2 liter suurstof per minuut, in vergelyking met ʼn paar weke terug toe hy op 100%-suurstof was.

“Ons kon letterlik elke dag ʼn verbetering sien,” vertel Miriam dankbaar.

Corrie moes van voor af leer loop. Hy het begin met ʼn loopraam, maar het dié gou weggegee, lag Miriam en onthou hoe onversetlik haar man soms kan wees. Hy was vasberade om nie met ʼn rolstoel by die hospitaal uit begelei te word nie, maar om self uit te loop.

Hy het ook intussen ʼn praat-tragea gekry, en, voeg Miriam verheug by, hy het verlede Woensdag vir die eerste keer self gestort.

Corrie het wel Covid-19-skade op sy longe opgedoen en sy longkapasiteit het drasties verminder. Maar ook dít kan genees, glo Miriam.

Corrie gesels

Corrie Burger voordat hy siek geword het. (Foto: Verskaf)

“Jy weet vir ʼn feit dat jou lewe gered is. As jy so iets deurmaak en dit verander jou nie, wil ek weet wat is fout met jou,” vertel Corrie vandeesweek vanuit sy hospitaalbed aan Maroela Media.

Corrie erken hy was gereed om dood te gaan en hy is ook deurentyd herinner aan hoe naby aan die dood hy was.

“Dit was touch and go gewees,” beskryf hy sy eie toestand.

“Daar was nie baie mense in die hospitaal wat oorleef het nie, minstens drie mense het per dag gegroet. Jy is bewus van die mense wat dit nie maak nie en wonder heeltyd of jy dit ooit gaan maak.

“Maar ek het ook geweet my familie is afhanklik van my. Dit is moeiliker om te veg, maar dit was ʼn bewuste besluit wat mens neem.”

Die eerste keer dat hy sy vingers en arms moes lig, het inspanning geverg. Voordat hy na die verbeteringsfasiliteit oorgeskuif is, het hy begin kos eet wat meestal puree was. Hy vertel hoe vreemd varkworsies proe wanneer dit gepuree is. “Maar ek het geweet as ek dit nie eet nie, gaan ek nie sterker word en kan huis toe gaan nie.”

Die tuiskoms en genade

Corrie is Vrydag deur Miriam en hul twee dogters, wat ook groot steunpilare die afgelope maande was, ingewag.

“Ons gaan hom waardeer en asem skep,” sê Miriam. “Die eerste ding wat hy wil doen, is vleis braai,” lag sy verheug.

Op sy beurt sê Corrie: “Ek sien uit om weer in my eie omgewing te kan wees.” Daar wag boonop vir hom ʼn werkskontrak in Januarie. Hy sal dit van die huis af kan doen.

“Daar was soveel genade; ja, daar was baie pyn, daar was baie seer, maar daar was soveel genade,” deel Miriam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

melaney ·

Wat ‘n storie! Miriam was vasberade. Sy ken nie die woord ‘nee’ nie. Maar sy ken verseker haar God.

piet ·

Dan is daar mense wat dink Covid is net ‘n verkouetjie….

Alfred E Neuman ·

Daar is hordes van hulle. Laat dit vir hulle n les wees.

Zombie ·

Mens kan werklik nie glo dat daar nog sulke tipes is nie, maar hulle is baie. Ek begin al meer en meer dink hulle vrees die virus so erg, dat hulle die erns afmaak om hulleself te troos.

Pieter ·

Zombie, daar slaan jy die spyker op sy kop. Diegene wat die meeste lawaai maak, praat hulleself moed in en is die bangste vir die virus.

MakersMark ·

Mens is dankbaar dat hul albei herstel het. Dit moes ‘n vreeslike ervaring gewees het. Jammer oor die wat weggeval het agv die virus en hul geliefdes wat hartseer agter gelaat is. Nie veel simpatie met die sameswerings, ontkennings of AVr spulletjie nie.

Jacob ·

Piet, kyk gerus na wat Dr Peter McCullough oor die situasie kwytraak. Honderde duisende lewens kon gespaar word as daar nie ‘n moordadige anti-alternatiewe-behandelings propaganda veldtog van stapel gestuur was nie.

Terwyl jy dan daarna kyk, lees gerus ook wat Sonia Elijah berig oor die toetsresultate van Pfizer entstowwe na die FDA deur ‘n Amerikaanse hofbevel gedwing is om die verslag vry ste stel.

MakersMark ·

Dalk kon meer lewens gespaar gewees het as dit nie as ‘n “verkoue” afgemaak is nie, asook al die misinformasie en leuens mbt inentings van dag 1 af gestop is. Dan is daar die ivermectin koor wat nou skielik ophou sing het. Mense wat op die vee medisyne was het ernstig siek geword of gesterf…..

anniekiewiet ·

Ek ken ook mense wat met Ivomac deur die virussiekte gekom het en lees van baie wat ingespuit is maar wel gesterf het. Dit sal baie bespiegelinge laat stop as alle statistieke openlike bekend gemaak word.
Sterftes van gevaksineerdes en nie-gevaksineerders o.a.
Sterftes agv ander siektes maar waar iemand ook covid gekry het ens ens.

MakersMark ·

Genuine – huidiglik en so lank as CV19 inentings gedoen is is die verhouding omtrent 95% sterftes ONINGEENTES en 5% ingeentes. En die ingeentes is meeste mense van gevorderde ouderdom of mense met ander gesondheids probleme onder liggend.

piet ·

Maak nie saak hoe jy dit wil spin nie, persentasiegewys sterf BAIE MINDER ten volle ingeente mense as oningeentes. Dink vir jouself, sal al die regerings in die wereld voortgaan met hul inentingskampanjes as die inentings nie effektief is nie. dit maak mos nou nie sin nie? Geen land sal voortgaan om geld te spandeer aan iets wat nie werk nie. Dis logies vir my maar dink jy maar wat jy wil.

MakersMark ·

Ja nee piet. Die AVr’s is maar van ‘n tipe af. Al die antwoorde voor hulle maar weier om dit te sien. Kognitiewe probleme.

Papsak ·

Prys die HERE kyk wat kan geloof doen baie sterkte vir die paartjie kyk altyd na boontoe

Chris dupreez ·

Sterkte en voorspoed vorentoe op julle pad. Wys jou net, nê

Cherokee ·

So moet ons in erkenning van Sy Genade en Goedheid leef.

Dewald ·

Miriam, ek is dankbaar namens jou en jou dogters en weet waardeer julle is. My seun Louis, was vir n goeie 80 dae in ICU op n Ventilator weens Covid en al die ander toestande wat daarmee gepaard gaan, en met die Here se genade is hy by die huis. Ons het so baie om voor dankbaar te wees en neem die klein dingetjies van selfsprekend soos om n pa, man, vrou en kinders te he en besef eers die waarde van liefde wanneer daar iets gebeur wat dalk daardie persoon kan wegneem van ons af. Ek is saam met jou bly en dank die Here saam met julle. Koester die goeie in mekaar en leef elke dag voluit. Groete Willie.

Sarel ·

By GOD is slkes moontlik…wees geseend en sterkte op die pad vorentoe

Human ·

En die tienduisende wat dood is in SA, waar was die genade?

Pieter ·

Moenie sulke moeilike vrae vra nie. Die handleiding moet nou geraadpleeg word. “god se weë is duister”, “dis die duiwel” – Arme duiwel moet mos maar altyd die skuld kry, “”ons mag nie vrae vra nie” – dit het goed gewerk voor ’94., ens, ens, ens.

piet ·

Baie selektief oor wie gaan gesond word en wie nie………..Werk nie vir my nie.

piet ·

Ja nee jong, die genade is net groot as dit goed gaan. Anders word daar doodstil gebly.

Kwikkie12 ·

Romeine 12:15 wéés bly met die wat bly is, en ween met die wat ween.

anniekiewiet ·

Habakuk… Nogtans sal ons die Here loof.
Wanneer jy jou paadjie saam met God stap, is elke dag genade. Moeilik om vir jou n antwoord te gee, maar by God sal jy dit kry as jy gaan vra. Al is dit eers later.

Human ·

Volwassenes wat glo soos kinders en daar word nie vrae, gevra. As jy jou wil uitgee as ‘n toffie gaan jy geëet word.

Samuel ·

Die Here is groot!! Hy is getrou. Prys die naam van die Here.

A ·

Wie wil ‘n weddenskap aangaan dat die ou was nie ingeënt nie?

Arno ·

Dankie!! A!!, dat mense nou nog wil argumenteer oor “Conspiracy Theories”, dit gaan in elke geval “Mandatory” gemaak word so dan kan ons almal weer normaal met ons lewens aangaan!

VaalDonkie ·

Klink vir my nie of die hospitale al weet hoe om COVID te behandel nie. Maar ek is bly die man kon huistoe gaan.

MakersMark ·

Of na 7 dae vanaf eerste simptome word ‘n persoon beter of gaan hospitaal toe wanneer dit vanaf die neus en keel na die longe en ander groot organe versprei. Inentings voorkom fase twee – die verspreiding. As dit sleg gaan is daar verskeie kondisies wat lewensgevaarlik is. Erge virale lonngontsteking, sitokene storm wat lei tot bloedklonte in die longe, of multi orgaan failure wat lei tot septiese skok en afsterwe. Gewoonlik is steriode en suurstof, veral suurstof, die ENIGSTE lewens reddene terapie vir so siek persoon. Hul kry ook bloedverdunners om klonte te voorkom. Pasiente word ook in ‘n geinduseerde koma geplaas om die suurstof aanvraag van die liggaam te verminder. Todat een van twee dinge gebeur- afsterwe of beterskap. Hospitale en medici WEET hoe om CV19 te behandel. Geheim is om nie daar uit te kom nie. Neem maar jou inenting. Hoop die maak sin. As jy wil toets gaan vra jou dokter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.