‘Dis nie jou besigheid nie,’ sê Ramaphosa oor ANC-faksiegevegte  

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

“Wat besig is om in die ANC te gebeur is nie jou besigheid nie, dit is die ANC se besigheid.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan DA-leier John Steenhuisen gesê tydens ʼn mondelingse vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering.

Steenhuisen het aan die president gesê hy is vasgevang in die interne gevegte in die ANC terwyl die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika woed. “Jy is besig om ʼn faksie-oorlog te voer terwyl ʼn derde golf (van Covid-19) in Suid-Afrika dreig,” het Steenhuisen gesê.

“Toe jy betrokke was in jou eie gevegte in die DA het jy nooit gehoor dat enigeen van ons iets sê nie. Ons het nie kommentaar gelewer nie want wat in die DA gebeur is jou besigheid,” het Ramaphosa, wat virtueel aan die sessie deelgeneem het, gesê.

Volgens mediaberigte het Ramaphosa vroeër die dag tydens ʼn vergadering van die ANC se parlementêre koukus aan die party se LP’s gesê hy is verslae oor Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, se optrede.

Dokumente het vroeër die week die ronde op sosiale media gedoen waarin Magashule sy onmiddellike appèl teen sy skorsing aankondig en waarin hy Ramaphosa “skors” uit die ANC.

Magashule is Maandag ingelig oor sy skorsing uit die regerende party. Hy het ʼn brief ontvang wat lui dat hy van 3 Mei tydelik geskors word, hangende die finale uitslag van die strafsaak teen hom. Magashule is met volle voordele geskors.

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

Steenhuisen het vroeër in reaksie op Magashule se optrede gesê die DA sal nie toelaat dat Suid-Afrika die slagoffer word van die ANC se burgeroorlog nie.

“Aan die een kant is dit duidelik dat Magashule en sy mederampokkers nie sal huiwer om ons land tot op die grond af te brand ten einde hul onregmatige opbrengste te behou en om uit die tronk te bly nie.

“Dit is egter ook duidelik dat Ramaphosa se flouerige paaistrategie op skouspelagtige wyse geboemerang het op ʼn president wat die behoud van sy party voor die belange van ons land plaas,” het Steenhuisen gesê.

Die DA sal ʼn dringende debat van nasionale belang in die parlement aanvra oor die “bedreiging” wat die “burgeroorlog” binne die ANC vir die land se demokrasie inhou.

“Omdat die ANC tans nog die meerderheidsparty in Suid-Afrika is, sal die skade onvermydelik na ons samelewing oorspoel, wat reeds gebuk gaan onder die grootste gesondheid- en ekonomiese krisis van ons leeftyd. Die werklikheid is dat die mense van Suid-Afrika die ware slagoffers van hierdie burgeroorlog sal wees as ons nie die era van politieke ANC-oorheersing dringend beëindig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Misky ·

Ramamparra is darem vinnig op sy agterpote as hy in ‘n hoek gedryf word!!!

RB ·

Tipies!!
Daar is geen enkele lid van die ANC wat werklik bevoeg is om ‘n land te lei nie.
Hulle het geen integriteit, geen selfrespek of respek vir ander, geen verantwoordelikheidsin en geen idee wat die woord ‘aanspreeklik’ beteken nie!
Daar is geen wysheid of insig wat lei na beter omstandighede.

‘n Ware leier DIEN by uitnemendheid.

Chris dupreez ·

Steenhuizen, jy is nog erger as Maimane, hou op ….en kerm oor alles en lewer eerder positiewe en konstruktiewe bydrae om Suid Afrika te red

My siening ·

Die ANC interne geheime probleme tref die hele land se MENSE so mooi so DA !

Tubac ·

Chris,
Ek stem met jou saam dat hy te veel kekkel en nie werklik iets kwytraak nie. Onnodig om daarop te hamer aangesien hulle strepie getrek is. Bevorder eerder jou party, want dit klink vir my hy probeer Amerikaanse politici na aap.

Tiptol ·

Die anc is ons besigheid. Hulle regeer ons land in die afgrond in.

Jan ·

Ek stem saam DA blaf meet as byt en dit gaan al vir jare so.Kyk na VF+ hulle doen en blaf nie net soos DA nie

Persheks Adri ·

Op sy perdjie ne! Weet nie eers hoe om ‘n grassnyer aan te sit nie, maar hy’s die sogenoemde president gggmmmfff

Gerhardus ·

Dis waar Ramaphosa verkeerd is. Die ANC kon nog nooit onderskei tussen die party en die staat nie. Hierdie is nie ‘n “struggle” soos in die 70’s en 80’s nie. Hier is die voortbestaan en vooruitgaan (of, soos in hulle geval, die agteruitgang) van ons land in gedrang. Dít maak dit ONS besigheid en nie ‘n ANC “besigheid” – nie.

KarooKnapie ·

Dink nie eers CR weet self wat aangaan in die ANC nie. Dis hoekom hy die vraag so beantwoord het…

Anoniem ·

Tipiese reaksie van ‘n diktator wanneer hy in ‘n hoek gedruk word en vrae lastig raak. Dit moet ‘n hengse verleentheid vir die ANC wees.

JM ·

Kan Ramaphosa nie vir eens en vir altyd ruggraat kry, sy hakke in die grond draai en sorg dat die Magashule boef agter tralies kom, waar hy hoort nie. Hou op PAAI (!) mnr. Ramaphosa!

Sias ·

Ramaphosa is verdedigend omdat die party uiteindelik in 2 begin skeur.

Andre ·

Mnr Ramaphosa; dink jy regtig dat wat in die ANC gebeur niks met ander te doen het. DIT HET JUIS ! omrede julle die land bestuur of liewer misstuur waarvan ons burgers is . Weereens voorbeeld van die ANC afgod wat eerste kom en die res gaan staan in die ry

Johan D ·

Ek glo nie hy besef dat enigiets wat in die anc gebeur ʼn direkte gevolg inhou vir die res vd land nie!

isabelle ·

wat gebeur in die ANC is die ANC se besigheid ……maar stem sal hul stem

ramp

lodewyk ·

Dit is ons almal se saak want julle regeer die land,?of probeer

SomeOne ·

die burger oorlog moet maar kom, ons is ontwapen maar ons sal opstaan !!

Nie Verbaas ·

Maar die hele land gaan gebuk onder ANC se korrupte besigheid en moet dit maar net aanvaar.

Chris ·

Net Pres. Mandela kon die ANC tot ‘n mate bestuur, maar na sy uitrede het alles in SA net agteruit gegaan. Niks, maar niks is sedert 1994 deur ons geliefde regering gebou om te wys waartoe hul in staat is nie, net toegelaat dat die followers skole, hospitale, kerke, ens. afbrand en verwoes. Dit is waarvoor hul nog altyd bestaan het: moenie ophou nie, breek af wat die “rassistiese witmense” hard aan gewerk het. Nou is Rammy opstandig oor wat die ANC doen. Skaamkwaad …. Ek sal myself skors as ek hy is, wat cANCer en sy onbevoegde ministers ‘n verleentheid wêreld wyd, maar ons moet aanhou vir hul stem. Wat ‘n klug!

daniel ·

Elkeen het die reg om te eis dat die ANC regering die land op n beskaafde wyse en verantwoordelike wyse regeer
Daarom het elke burger en elke opposisie party die reg om die ANC tot orde te rope.
Daarteenoor het die ANC nooit nodig gehad om die DA tot verantwoording te roep nie, want hulle gedra hulleself redelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.