‘Dis nie óns noedels se skuld,’ sê vervaardiger

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Fernando Andrade/Unsplash)

Die vervaardiger van die kitsnoedels Howe oorweeg regsaksie teen die nasionale verbruikerskommissie nadat dié kommissie ʼn ondersoek van stapel gestuur het na die handelsmerk se beweerde betrokkenheid by die dood van drie kinders in die Oos-Kaap. Die kinders het glo dié noedels geëet kort voordat hulle dood is.

Die betrokke vervaardiger, Grandisync CC, se regsverteenwoordiger, Stuart Laubscher Incorporated, voer egter nou aan dat die leë pakkie noedels wat die polisie as bewysstuk uit die oorledenes se huis verwyder het, nie Howe-kitsnoedels is nie, maar eerder dié van ʼn ander handelsmerk.

“Tydens die polisie se ondersoek het hulle ʼn pakkie noedels in die huis gekry wat glo deur die drie kinders geëet is. Hoewel ons nie dié spesifieke handelsmerk by die naam kan noem nie, kan ons wel bevestig dat dit nie deur Grandisync CC vervaardig is nie,” sê die regspan.

Die betrokke noedelpakkie het glo ook tekens gewys dat die onderkant daarvan weggeknibbel is, wat daarop kan dui dat ʼn rot dalk aan die noedels geknaag het.

“Ten spyte van die feit dat die kommissie tydens ʼn vergadering ingelig is dat die leë pakkie noedels nie Howe-kitsnoedels is nie, en dat hulle liefs met die polisie moet korrespondeer oor die spesifieke handelsmerk wat gevind is, is dit duidelik dat hulle geweier of nagelaat het om dit te doen.”

Die kommissie het vandeesweek aangekondig dat hy ʼn ondersoek na Grandisync CC se optrede begin nadat die dood van Sinothando Ngwendu (11), Olwam Ngwendu (7) en die vier maande oue Athenkosi Ngwendu die land op hol gehad het.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die kommissie, het gesê volgens inligting wat aan die kommissie gegee is deur ander reguleerders en die verskaffer, is daar rede om te glo dat Grandisync CC onveilige goedere of goedere wat ʼn potensiële veiligheidsrisiko vir die publiek inhou, verskaf het.

Grandisync CC word egter nie in verband met ʼn soortgelyke voorval in Mpumalanga wat twee sibbe se lewe geëis het, ondersoek nie.

Mabuza het wel bevestig dat daar nog op die uitslag oor die drie Ngwendu-kinders se dood gewag word.

“ʼn Behoorlike nadoodse ondersoek is deur die amptelike kanale uitgevoer, en monsters is na die laboratorium gestuur vir ontleding,” sê die prokureurs.

“Ons is in kennis gestel dat die toetse so vinnig moontlik afgehandel sal word. Die voorgenoemde resultate sal egter duidelikheid oor die oorsaak van die tragiese dood gee, sodat die betrokke partye die nodige maatreëls kan tref.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

casper ·

Man – Die polisie kan nie lees of spel nie – Hulle het maar op die prentjie gegaan !!

miavos ·

Hoe kan die noedels die skuld gegee word as net hierdie spesifieke kinders dood is?

Maggies ·

Baie vreemd dat noedels net op twee verskillende plekke (vêr verwyderd van mekaar) kinders wat dit geëet het se dood veroorsaak het.
Dit is goed dat hierdie beskuldigde maatskappy nie somer gaan lê nie.

Aai ·

Hier kom weer ‘n groot skadevergoeding eis wat ons belasting betalers gaan kos.Seker is dit nie die noodles maar soos hulle se rotte het aan pakkie gevreet so daar moes gif in omtrek gewees het of ek weet rot urine kan ook ‘n mens se dood veroorsaak.Daar was ‘n berig jare terug van rotte wat op blikies koeldrank geurineer het ,die vrou het doodgegaan van dit toe sy haar lippe aan daai blikkie sit en drink.

Perdeby ·

Iemand wat soos ek dink dankie tog, maar die kommissier van ondersoek gee sommer die skuld vir die vervaardigers sonder om te wag vir die forensiese uitslag. Ek hoop hulle word vir dermiljoen gedagvaar.

Swerwer ·

Niemand kan enigsins beskuldig word voor daar nie ‘n nadoodse ondersoek uitgevoer is op al drie die kinders nie. Daar moet eers deur Forensie ‘n verslag beskikbaar gestel word voor enige aantydings na iemand geslinger word.

Bertie ·

Die verbruikerskommissie sit seker weer vol onbevoegde kaders wat nie kan lees nie. Hulle kan net tel: al die duisende rande wat hulle elke maand in hulle sakke steek (wat hulle nie verdien nie).

Annelize ·

Het inelkgeval nog nooit eers van die maak gehoor of gesien nie. Hier gaan meer aan as wat ons van weet, and someone jumped the gun on this.

007 ·

Ek dink daar was rotgif in die pakkie. Of soos Aai hierbo sê, rotpee is baie giftig veral vir kinders

modiglianigirl ·

Is dit net ék wat dink dat hierdie nadoodse ondersoek heeltemal te lank draai?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.