‘Dis sulke tyd’ vir hart-kleuter

Carli van Straten vandeesweek in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die dag waarop die Van Straten-gesin van Bloemfontein al jare lank gespanne wag, is uiteindelik hier – die vierjarige Carli van Straten wat met vier verskillende hartdefekte gebore is, sal môre ’n gevaarlike maar noodsaaklike opehartoperasie ondergaan.

“Donderdagoggend is dit sulke tyd vir haar,” sê Riaan van Straten, Carli se pa. Die gesin is tans in die Kaap waar Carli môre by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in die operasieteater ingestoot sal word.

Carli het reeds gister ʼn prosedure onder narkose ondergaan ter voorbereiding vir Donderdag se groot operasie. “Dit was eintlik soos ʼn beplanningsoperasie,” verduidelik Van Straten. “Die dokters het in dié operasie gekyk hoe dinge daar binne lyk en wat alles gedoen moet word. Nou kan hulle beplan vir môre se operasie.”

Van Straten vertel dat dié prosedure goed verloop het hoewel Carli se dokter graag die operasie op ʼn latere stadium sou wou doen. Die opehartoperasie sou aanvanklik eers in Junie of Julie vanjaar plaasgevind het, maar is deur dokters vervroeg nadat Carli vroeër vanjaar endokarditis opgedoen het, ʼn infeksie in die hart wat lewensgevaarlik is.

Dié infeksie het intussen opgeklaar, maar die kans is goed dat die kiem nog in die kunsmatige weefsel in haar hart vassit en dat dit weer kan kop uitsteek. “ʼn Tweede of derde ronde daarvan kan baie ernstig wees,” verduidelik Van Straten. “Hulle wil geen kanse vat nie en gaan dus voort met die beplanning.”

Tog kan dinge enige tyd verander, erken Van Straten. “Dit is maar die realiteit vir ʼn hart-pasiënt. Beplanning is eintlik ʼn vloekwoord.”

Die verwagting tans is dat Carli vandag sal rus voordat sy vroeg môregoggend in die teatersaal ingestoot word.

Die Van Straten-gesin. Foto: Verskaf

Van Straten het dié operasie voorheen beskryf as ʼn “instandhoudingsoperasie” om al die werk wat aan Carli se hart gedoen is toe sy ses maande oud was, aan te pas by haar hart wat sedertdien natuurlik aansienlik gegroei het.

Dit is egter nie op die stadium moontlik om te sê hoe lank Donderdag se operasie gaan duur nie. Haar opehartoperasie toe sy ses maande oud was, het agt ure geduur.

“Hulle het toé al die regmaakwerk gedoen. Hierdie keer gaan hulle die vervangwerk doen,” verduidelik hy. “Ons het altyd geweet hierdie operasie kom. Dit was al voor haar geboorte op die kaarte.

“Op ʼn manier is ek bly ons is nou hier sodat ons dit oor en verby kan kry… Maar op ʼn ander manier weet ons nie of sy weer gaan uitkom nie,” sê ʼn gespanne Van Straten.

Dié spanning bou reeds oor die afgelope dae op nadat nog ’n infeksie vandeesweek se operasie in gedrang geplaas het. “Sy mag nie siek wees voor die opehartoperasie nie. En toe word sy ʼn paar dae gelede met ʼn koors wakker. Ons het haar toe by die huis en weg van mense af gehou. So die laaste vier dae was maar touch and go.”

Die effense komplikasie was op die ou end ʼn keelinfeksie wat met antibiotika onder bedwang gebring kon word. Die gesin is in elk geval twee dae vroeër Kaap toe sodat Carli se dokters haar die groenlig kon gee vir vandeesweek se operasie. “Dié paar dae was maar ʼn swaar tyd – so stresvol. Ons was wrakke,” sê Van Straten.

‘Dit gaan nou oor haar’

Carli vandeesweek saam met haar boetie in die Kaap. “Die twee is bitter lief vir mekaar.” Foto: Verskaf

Van Straten sê die gesin is nou ten volle op Carli gefokus. “Daar is nie ’n ons in hierdie tyd nie. Dit gaan nou oor haar. Ons wil net seker maak sy is reg.”

Hy sê dit is nie duidelik hoe lank die herstelproses ná die operasie sal duur nie. Carli sal vir die eerste vyf tot sewe dae onder verdowing en op ʼn hartmasjien en ventilator gehou word.

“Sy moet dan self wakker word. Haar hart gaan vanself begin klop en dan sal hulle haar van die masjiene begin speen soos sy self aan die gang kom. Hoe sterker sy word, hoe ligter stel hulle dan die masjiene,” verduidelik Van Straten.

Die vorige keer het dit drie tot vier weke geneem voordat sy huis toe kon gaan. “Ons weet egter nie hoe hierdie ronde gaan verloop nie.”

Ten spyte van al dié onsekerheid bly dié gesin positief. “Ek dink dit help dat haar boetie saam met ons hier is. Hy hou ons aan die gang en haar rustig. Die twee is bitter lief vir mekaar.”

Maar ja, klein Carli is maar angstig, sê hy. “Ek dink sy kan aanvoel ons is senuweeagtig maar ons kap aan. Ons sal rus as almal veilig by die huis is.”

Lees alle berigte oor Carli op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Reinette ·

Heer. Gaan asseblief saam met Carli. Heilige Gees hou asseblief elke dokter en elke hand rustig en styf vas more oggend oggend. Omring haar operasie tafel met vrede en kalm harte.

Charmaine ·

Liewe ouers julle is in ons gebede en ons weet dat Christus vir Carli sal behoed en bewaar deur hierdie groot operasie. Hou net Sy hand styf vas. Hy is n Groot en Genadige God.

Gerald ·

Wat n mooi boodskap.
Sterkte aan di gesin.
Ons dien n almagtige God.
Ons bid vi genesing.

Andreas ·

Ek het nie trane nie
snik my hart uit
kan nie ordentlik deur die waterval sien nie
die vingers slaan duike in die toetse van die sleutelbord
en ek droom die verbeelding van ‘n toekomsvlug
van eendag se wonderwerk
terwyl ek haar styf
styf vashou
gespaar
dank u God

GM ·

Ek hoop als verloop glad. Mag die Here sy hand van beskerming oor elkeen van jul hou en die span, wat betrokke is by die operasie, lei.

Gemaskerde Sopbeen ·

Been there, done that. Desember 2005. Sunninghill Kliniek. Dr Kenny Govandragaloo en Prof Kingsley. Sy was in Graad 5, en vandag ‘n pragtige suksesvolle jong vrou. Sterkte vir julle almal……

Santjie ·

Pragtige ou dingetjie. Ons Pappa Vader sal by julle wees.

? leser ·

dankie Heer vir U Hand van Genade
dankie vir U hand van Veiligheid
dankie vir U Hand van Genesing
dankie vir alles wat U gee

HESTER ·

DANKIE VIR U GENADE HEER
DANKIE VIR U HAND VAN VEILIGHEID EN VERTROOSTING.
DANKIE DAT U ALTYD DIESELFDE IS, WAS EN SAL WEES
STERKTE AAN DIE FAMILIE. GOD SEEN JULLE AMEN

ZENO ·

Ek bid en hoop dat alles voorspoedig vir haar sal gaan,sy is so klein om deur al die seer te gaan,maar Ons Vader sal haar in sy sterk Hand vashou en bystaan.

Nirie Venter ·

Al wat ons kan doen is bid. Dat die Here die handewerk sal doen. My dogtertjie was verlede week in vir opehartoperasie. Hulle is baie sterker as wat ons dink. Alle sterkte vir julle gesin. Dit sal goed gaan!!

TN ·

Kom ons los maar liewer die operasie vir die chirurge ___ die mite sal ‘n gemors daarvan maak .

C.J.P. ·

TN vir jou bid ek ook net so hard. Sterkte Carli en gesin julle is in my gebede.

Kwaaitjie ·

TN.
Jy praat darem maar nonsens.
Die chirurge kan slegs só iets “af pull” met die Here aan hul sy.

JP ·

My liefie ek wil graag vir jou bid dat onse Here die span geneeshere wie opereer se hande sal seën en hulle ‘n diepe insig sal gee dat die operasie suksesvol sal wees, dat liewe Jesus jou in sy arms sal hou, jou my kind sal seën met volkome genesing dat jy ook vir vele jare ‘n gesonde lewe mag lewe. Die Here seën jou en behou jou, die Here laat Sy aangesig oor jou skyn en gee jou sy vrede vir ‘n lang Godsalige lewe, Amen

Wim ·

Trane in die oe, mag GOD julle dra deur die tyd.Ons bid en glo dit gaan n reuse sukses wees

marous ·

Mag Jesus jou toedraai in liefde en genade en genesing poplap .

Jasper ·

Ons het jou aan ons Hemelse Vader opgedra my kind. Hy sal voorsien.
Aan Hom alle eer.
Sterkte Carli, Riaan en Joanie

Lindtjies ·

Aan die Van Straten gesin wil ek net sê moet nooit ophou hoop nie. God is ons groot Geneser en die chiruge is die instrumente in Sy hande. Ons dra julle pragtige dogtertjie aan Hom op en vra Hom om julle die krag te gee om haar by te staan. God is getrou.

Blackie ·

Baie sterkte mooiste blom en aan die hele gesin. Ons bid kliphard saam!

Penellope Jones ·

Alle moontlike voorspoed vir hierdie gesin more, en baie gebede.

Anoniem ·

I’ve set my alarm i’m going to light a candle and pray for this little girl tomorrow morning. Every living being deserves good health, big or small, little girl, ur an instrument of God, He loved you so much in good Faith, that he uses you to show the world out there, that miracles do exist. Thanks for being so brave, strong and sweet. God will NEVER leave or Forsake You. Remember That.

Tollie Du plooy ·

Baie sterkte aan Almal. Julle is in ons gebede. ?

Anni ·

Liewe Carli Liewe Jesus sal jou handjie styf vas hou so ook di chiruge sn.

Melanie ·

Jesus sal ook in die teater teenwoordig wees. Ons bly glo dat alles suksesvol sal verloop en dra julle as familie op in gebed.

annie ·

Sterkte Carli !!!! en aan jou ouers, broer en res van die familie. Ek bid dit vir julle glo alles sal goed afloop more.

Hasie ·

Baie sterkte aan die van Staden gesin, ons glo alles sal goed gaan.

Genade ·

Liewe Carli

Jy gaan in ons gebed wees vir volle herstel,mag God se engeltjies om jou wees die hele operasie deur. Baie sterkte ouers en boetie, ons bid ook vir sterkte krag vir julle.

xx

Liezl ·

Ons dien ‘n almagtige Vader wat alle verstand te bowe gaan. Mag hierdie operasie ‘n teken wees van wie U is en dat U die groot geneesheer is. Ons glo U hand is alreeds op haar en is stadig maar seker besig om vir Carli tot volle genesing te bring. Dink aan julle

Francois Le Cochon ·

Al wat ek kan se^ is, wees gerus, die Christiaan Barnard hospitaal se pediatriese kardiale en kardiotorakale chirurge is die beste van die bestes is in die wereld.

jakes ·

Wat n pragtige engelkind. Ons bede gaan uit na Carli, die chirurge en haar familie vir die groot dag more. Baie sterkte vir almal en ons glo saam met julle.

Bets Kroucamp ·

Ons dierbare God en Hemelse Vader ons dra in die besonder vir Carli, die Drs en verpleegsters asook haar Ouers en familie aan u op moreoggend met Carli se operasie. Dankie. Liewe Heer, dat u in beheer is. Aan u kom die lof, eer en aanbidding in u Heilige Naam, amen

Tilo ·

Ons is baie en ek meen baie wat vir hierdie pragtige mense bid.
God se seëninge oor die hele gesin en familie.

jessica ·

May God be with her and bless her with the operation, you are a strong little sweet girl, just know the God will not leave you anytime soon his right by your side.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.