Dís waar Andries Vrey was

Andries Vrey. (Foto: Verskaf)

Andries Vrey (43), DA-raadslid en voormalige hoof van Aardklop wat Vrydag vermis geraak het, is veilig tuis nadat hy ’n gesondheidsterugslag gehad het.

Vrey se eksvrou en kinders het verlede week naarstig na hom gesoek nadat hulle hom nie telefonies in die hande kon kry terwyl hy op vakansie in Umdloti naby Durban was nie.

Maroela Media het vroeër berig Vrey se eksvrou, Dorne Vrey, en sy seuns het hom die laaste keer op 16 Januarie gesien voordat hy op vakansie vertrek het. Sy kinders het op 24 Januarie [verlede Sondag] die laaste keer per selfoon met hom gepraat en die DA het die dag daarna met hom kontak gehad. Sedert Dinsdag [26 Januarie] was sy foon af.

Vrey het aan Maroela Media gesê dat hy die Dinsdagaand of Woensdagoggend ’n episode – moontlik ’n epileptiese aanval – gehad het. Dokters krap nog kop oor wat presies gebeur het, maar alle aanduidings is dat dit moontlik epilepsie was wat die gevolg van ʼn beroerte is wat hy vroeër gehad het.

“Ek en my seuns sou aanvanklik saam weggaan, maar enkele dae voordat ek hulle sou kry, is hul ma positief vir Covid-19 getoets en moes hulle saam met haar in isolasie gaan. Ek het toe maar besluit om steeds op my eie na die KwaZulu-Natalse Noordkus weg te breek,” vertel Vrey.

“Synde ’n alleenloper en ook omdat ek op die laaste oomblik besluit het om tog maar weg te breek totdat my seuns by my sou kon aansluit, was daar verwarring oor waar ek my moontlik bevind het.”

Vrey vertel hy het die afgelope jaar verskeie gesondheidsterugslae gehad.

“By nabetragting was dit dalk nie die beste idee om alleen weg te gaan nie.

Vrey sê toe hy nie soos gebruiklik sy seuns daagliks kontak nie, het hulle en hul ma bekommerd begin raak.

Vriende wat toevallig in die omgewing vakansie gehou het, het Vrey opgespoor in die woonstel waar hy tuisgegaan het. Hulle het hom na ʼn hospitaal in Umhlanga gehaas. Hy is later na ’n hospitaal in Alberton oorgeplaas.

“Dit is die derde keer die afgelope jaar dat ek hierdie aanval kry, en ek is baie gelukkig dat my dokters sowel as die spesialiste wat ek nou gesien het, dadelik die nodige toetse gedoen het om meer te verstaan oor die oorsaak van my toestand. Ek, en hulle, is vol vertroue dat die nodige aanpassings wat nou gemaak word aan my medikasie – sowel as nodige leefstylaanpassings – die probleem onder beheer sal bring.”

Vrey sê hy voel nou heelwat beter en is reeds uit die hospitaal ontslaan.

“Ek is dankbaar vir al my vriende wat alles moontlik gedoen het om my op te spoor en die nodige mediese sorg vir my te kry. Ek waardeer ook die ongelooflik goeie wense wat ek ontvang het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.