Dís waarom bome by Monument moes waai  

Meer as 50 nuwe krake is onlangs in die walaer om die monument opgemerk. (Foto: Mariska Nanni)

Reuseboomwortels wat skade aan historiese strukture by die Voortrekkermonument in Pretoria aangerig het, is glo die hoofrede waarom verskeie bome om die walaer en in die trekroetetuin verwyder moes word.

Die monument het onder groot kritiek deurgeloop toe dit aan die lig gekom het dat verskeie beskermde inheemse bome en skaars vetplante in die tuin rondom die monument uitgekap is. Dit sluit onder meer geelhout-, witstinkhout- en koraalbome asook vetplante en aalwyne in. Sommige van dié plante pronk al langer as ses dekades langs die monument.

Foto’s wat op sosiale media gedeel is vergelyk ʼn boomryke omgewing rondom die monument jare gelede met meer onlangse beelde van ʼn dorre landskap met weinig plantegroei. Dit het sosialemediagebruikers warm onder die kraag gehad.

Maar Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, sê die bestuur het ʼn verantwoordelikheid om natuurlike sowel as kultuurerfenis te beskerm. “Wanneer die natuur skade aan kultuurhistoriese erfenis aanrig, moet die probleem bestuur word.”

Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die VTM en Erfenisstigting, wys die van die skade uit wat deur boomwortels aangerig is. (Foto: Mariska Nanni)

Volgens Pretorius moet bome ingevolge wetgewing verder as drie meter van die walaer wees, wat nie die geval was met die bome wat verwyder is nie.

Hy sê meer as 50 nuwe krake is die afgelope tyd weens boomwortels in die walaer opgemerk, asook erosie onder dié strukture.

Volgens Pretorius moes die monument “broodnodige instandhoudingswerk” aan die tuin doen, maar gee hy wel toe dat meer bome verwyder is as wat die bestuur beplan of voorsien het.

“Hiervoor vra die Voortrekkermonument onvoorwaardelik verskoning.”

Pretorius sê hoewel daar toesig was, het werkers en vrywilligers op eie inisiatief sekere bome verwyder wat nie afgekap moes word nie.

Die gebied ter sprake maak glo minder as een hektaar van die totale 341 ha uit.

Meer as 50 nuwe krake is onlangs in die walaer om die monument opgemerk. (Foto: Mariska Nanni)

“Daar is ongelukkig nie duidelik onderskei tussen wat gesnoei, afgesaag of verwyder moes word nie. Ons neem egter verantwoordelikheid daarvoor en het reeds planne om die tuin te rehabiliteer.”

Pretorius sê dit is ook belangrik om kennis te neem dat baie geelhoutbome reeds dood was, en vandaar die besluit om van hierdie bome te verwyder.

“In die gees van herbou en erfenisbewaring is daar uitgereik na die Dendrologiese Vereniging, die Broodboom Trust en ander natuur- en plantkundiges om kundigheid tot beskikking van die Voortrekkermonument te stel.

ʼn Tuinkomitee is intussen onder leiding van prof. Pieter Kok, ’n plantkundige wat voorheen aan die Universiteit van Pretoria verbonde was, gestig.

Richard Gill, voorsitter van die Dendrologiese Vereniging, sê hy is tevrede met die voorstelle wat die monument gemaak het en oorweeg nie in dié stadium verdere stappe nie. Hulle sal die situasie egter fyn dophou.

“Daar sal nou dringend aandag gegee word om die huidige tuinplan van die monument uit te bou sodat nie net ons historiese erfenis nie, maar ook ons natuurerfenis sal voortleef en floreer,” sê Pretorius.

Volgens Pretorius is die monument ook reeds besig om oortollige plante op die perseel te skuif en hervestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Brakanjan ·

Dankie Maroela dat julle eers die Monument-bestuur se kant van die storie gehoor het voor julle sommer net ‘n eensydige berig soos ander media instansies geplaas het.

Keelvol ·

Maroela doen dit nog die heeltyd. Jy is net blind vir dit.

Sarel ·

1. Mense moet nie kla nie…in Stedelike gebiede word
bome, teen Munidipale Ordonansie, vzn Sypaadjies
Verwydet skegs omdat hulle ” Bladwusseldnd” en
elke jaar blare mors…so ” mense” kan maar liewer stilbly.
2. Wss dasr studie gefoen omvas te stelbwstter bome
Die sjade aznrig..Aalwyn ..seker die Boom Aalwyn.
3. Kon die Bome nie hervedtig word nie?
4. Word die Bome vervang met jonger Bome?
Dankie vir die taak wat julle verrig…t.o.v. bewaring van
Ons erfenis

Jacobus ·

Gesien die lawaai wat oor die verwydering gemaak is, is dit duidelik dat persone wat ‘n toesig rol het onlangs gevang is. Ek is oortuig Min Nathi Namechange geniet dit terdeë.

Dup ·

Lig miskien net die publiek voor die tyd in oor die voorgenome planne dan behoort daar nie veel besware te wees nie.Dit is belangrik dat erfenisterreine instand gehou word want die regering sal dit nie doen nie.Sterkte met julle werk.

Harley Davidson ·

Die wat so aangegaan het moes geweet het dat bekwame mense in beheer is en dat die mense net hulle bes sal doen om ons erfenis te beskerm.

Johann ·

Onverskoonbare wan beplanning! Kamptig onvoorwaardelik jammer, maar dan verskoning na verskoning?

JohanR ·

Ek gee nie om aan watter kant van ‘n taal of politiek jy val nie, die Voortrekker Monument is ‘n manjifieke gebou!

Harley Davidson ·

Ja dit is waar Gérard Moerdijk het iets uniek daar ontwerp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.