Dís wat ANC vir vlug na Zim moet opdok – DA

Die DA wil weet wat die bedrag is wat die ANC gaan terugbetaal. (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

R260 000. Dít is wat dit volgens die DA kos om ʼn private straler van Pretoria of Johannesburg na Harare te huur.

Die DA sê hy het twee onafhanklike maatskappye wat kenners op die gebied van luukse reise is, gevra na die koste van ʼn huurvlug na aanleiding van die herrie wat losgebars het nadat ʼn afvaardiging van die ANC vroeër vandeesmaand met ʼn straler van die lugmag na Zimbabwe gekarwei is.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het toestemming gehad om na Zimbabwe te vlieg en met haar eweknie te vergader, maar ʼn senior ANC-afvaardiging het saamgevlieg om met die buurland se regerende Zanu-PF te vergader.

Daar was sedertdien talle oproepe dat die ANC die geld vir die vlug moet terugbetaal, iets wat die regerende party ná die herrie onderneem het om te doen.

Die DA se Kobus Marais, woordvoerder oor verdediging, sê die bedrag van R260 000 sluit egter nie landingsregte, parkeergeld of spyseniering aan boord van die vlug in nie.

“Die bedrag wat die ANC sal moet terugbetaal nadat die afvaardiging openbare geld misbruik het om onwettig na en van Zimbabwe aan boord van die lugmag se Falcon 900-vliegtuig te reis, gaan dus selfs meer wees,” het Marais gesê.

“Tot die tesourie, in die belang van aanspreeklikheid en deursigtigheid, egter ʼn algehele bedrag bevestig en verduidelik hoe en waar die ANC die geld gaan terugbetaal, kan die DA en die publiek net bespiegel.”

Marais sê die party doen ʼn beroep op die minister van finansies, Tito Mboweni, en die nasionale tesourie om hul stilte oor die kwessie te verbreek en te sê presies wat die bedrag beloop wat die ANC moet terugbetaal, asook hoe die tesourie die bedrag bepaal het. Die DA wil ook weet wat die voorwaardes vir die terugbetaling is.

“Terwyl talle wetsgehoorsame burgers boetes moes betaal en tydens die afsonderingstydperk gebrandmerk is bloot omdat hulle gaan branderry of draf het, het die ANC binne sy eie spesiale stel reëls dit goedgedink om ʼn staatsvliegtuig vir partysake te gebruik.

“Die ANC se terugbetaling van die geld verskoon die party op geen manier van die misdadigheid van sy optrede nie. Ons sal die saak najaag tot almal wat betrokke is ten volle aanspreeklik gehou is.

“Die DA gaan nie die ANC toelaat om aan te hou om sy mag te misbruik en staatshulpbronne te plunder nie,” het Marais gesê.

Die ANC se studiegroep oor verdediging het vroeër vandeesweek die DA se beroep verwerp dat hy die bykomende koste vir die omstrede vlug na Zimbabwe moet betaal. Die studiegroep het gesê hy verwerp die beroep aangesien die vliegtuig in elk geval op pad na Zimbabwe was.

“Die reis was reeds geskeduleer, ongeag of die ANC-afvaardiging aan boord was of nie. Die vliegtuig was op pad vir die ministers se bilaterale vergadering,” het Pemmy Majodina, hoofsweep van die ANC, gesê.

Volgens die studiegroep het die ANC-afvaardiging “belangrike werk gedoen ter ondersteuning van menseregte”.

Die DA het reeds strafregtelike klagte teen die ANC-afvaardiging aanhangig gemaak vir hul misbruik van ʼn staatsvliegtuig asook die verontagsaming van die Covid-19-regulasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

DA tensy Mnr Ramaphosa ruggraat toon en optree voel die ANC kaders n veer en is hul verhewe bo die wet. En steeds het President absoluut NIKS gedoen. So SELA

christo ·

Ramaphosa is duidelik nié in beheer van die ANC nié. Dis duidelik dat Ace Magashule en dié se bende, nie skrik vir koue pampoen nie

Persheks Adri ·

Hulle kan nie eers hier in ons land op tree vir menseregte nie! Me, myself and I…

Hulle redenasie is vertraag verby! Ongeag of die vlug gereed was of nie hulle het nie by die lockdown reëls gehou nie punt klaar.

Laat hulle die geld terug betaal, retoerkaartjies per kop, eet en drink en so gaan die lys aan!

Hulle moet maar betaal, ge-fire word en gaan sit klaar!

#Tsek ANC tsek!!!

Cherokee ·

Vinnig gelees het die titel van die berig my bly gemaak,
maar toe ek dit lees sien ek die ANC het nie na Zim gevlug nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.