Dís wat met Facebook en sy apps gebeur het

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Miljarde mense se sosialemediawêreld het Maandag byna ineengestort toe Facebook en sy onderskeie apps soos Instagram, Facebook Messenger en WhatsApp vir meer as ses uur onbeskikbaar was.

Sommige mense het eers weer Dinsdag toegang tot dié platforms gehad.

Facebook het sy gebruikers Maandag om verskoning gevra en gesê dat die probleem veroorsaak is deur “konfigurasieveranderings van sy ruggraatherleiers” wat die netwerkverkeer tussen Facebook se datasentrums koördineer.

Facebook het egter die versekering gegee dat geen gebruiker se data weens die probleem uitgelek het nie.

Kuberkundiges verduidelik dat dít neerkom om iets wat as “grenspoortprotokol” (BGP) bekendstaan – die stelsel wat die internet gebruik om die vinnigste roete te kies om pakkies inligting rond te beweeg.

Sami Slim van die datamaatskappy Telehouse vergelyk die BGP-stelsel met lugverkeerbeheer.

“Net soos lugverkeerbeheerders soms veranderings aan vlugskedules maak, het Facebook ook sommige van hul roetes opdateer,” sê Slim.

ʼn Groot fout het egter by dié opdateringsproses ingesluip met die gevolg dat alle Facebook-dienste asook die maatskappy se interne stelsels, tydelik heeltemal buite werking was.

AFP berig dat Facebook hoofsaaklik op sy eie interne stelsels staatmaak en Maandag ook uit sy eie stelsel gesluit was.

Om dié rede het dit die sosialemediareus buitengewoon lank geneem om die probleem te herstel.

Verskeie Facebook-werknemers kon glo ook nie toegang tot hul werkstasies of kantore verkry nie aangesien hul veiligheidskaarte nie gewerk het nie – dit het tot verdere vertragings in die herstelproses gelei.

Facebook se dienste is krities vir verskeie ondernemings wêreldwyd en menige gebruikers het gekla dat die ses uur lange sluiting hulle van “hul lewensbestaan afgesny het”.

Facebook se aandele het weens die sluiting ook met 5% gedaal.

Mededingende kitsboodskap-apps soos Telegram het egter voordeel getrek terwyl WhatsApp en Facebook Messenger buite werking was.

Dié app het tydens die onderbreking van die 56ste mees afgelaaide toepassing in die VSA na die vyfde plek opgeskuif.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andries

Daar is nog ‘n sosiale netwerk, MeWe , wat nog in sy babaskoene is. Sonder advertensies.

Willem

MeWe is een, daar is ook InLinx, óók gratis én sonder advertensies. Albei nog in hul kinderskoene maar met groot potensiaal as sterk mededingers vir Facebook.

Sandra

“konfigurasieveranderings van sy ruggraatherleiers”, ja gooi ons toe met groot woorde wat ons nie verstaan nie. Ek weet net ek was verlore sonder Whatsapp, Ek kan nog oor die weg kom sonder Facebook, maar nie Whatsapp nie.

Marthina79

Ek moes maar met my gesin sit en gesels. Hulle lyk na n oulike klompie mense.

Erika

Tegnologie Is Goeie Ding Maar ook nie noodwendig altyd goed nie…
Wees altys paraat..en wys