Dís wat Suid-Afrikaners doen as hulle tuis werk – navorsing

Vir baie mense was dit moeilik om ‘n balans tussen werk en ‘n private lewe te vind. (Foto: pixabay)

Onlangse navorsing deur die Russies-gebaseerde kubersekuriteitsmaatskappy Lab Kaspersky dui daarop dat mense wat tydens die Covid-19-pandemie van die huis af werk ʼn hele paar nuwe gewoontes aangeleer het – en een daarvan is om in jou adamsgewaad te werk.

Navorsers het ʼn opname gedoen omtrent die gedrag van 8 000 klein en mediumgrootte ondernemings se werknemers. Altesaam 15% van Suid-Afrikaanse respondente wat aan die navorsing deelgeneem het, sê hulle geniet dit om sonder klere te werk.

Ander plesiertjies wat Suid-Afrikaners oënskynlik geniet is om op ʼn weeksdag lekker laat te slaap (42%), om die een Netflix-program na die volgende te kyk (33%) en om eerder buite in die tuin of op ʼn stoep te werk (32%).

Terwyl die werksomgewing tydens die wêreldwye pandemie bykans ʼn gedaanteverwisseling ondergaan het – die kantoorlessenaar is verruil vir die eetkamertafel of kombuiskas – het werkers ook talle struikelblokke gehad wat hulle in hierdie tyd moes probeer oorkom. Die balans tussen werk en ʼn private lewe was een daarvan.

Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het mense wat die afgelope jaar meestal nié van die kantoor af gewerk het nie, gesukkel met hul geestesgesondheid en ander welstandskwessies. Daar moes voltyds na kinders omgesien word en internetverbindings wat lol het talle mense grys hare gegee.

Nietemin het sommige kantoorwerkers wat hul skielik tuis bevind het, die ervaring geniet en wil hulle nou die gewoontes wat hulle aangeleer het, nie sommerso laat vaar nie.

Marina Titoya, hoof van verbruikersprodukbemarking by Kaspersky, sê die afsonderingstydperk was ʼn tweesnydende swaard vir mense wat van die huis af kon werk.

“Aan die een kant het werkers eindelik die kans gekry om te vergeet van die beslommernis van die stadslewe en kon hulle in ʼn meer gemaklike atmosfeer werk. Aan die ander kant was daar talle uitdagings om produktief te probeer bly, die ruimte waarin hulle werk behoorlik te organiseer en nuwe gewoontes aan te leer,” het Titoya gesê.

“As jy van die huis af werk, is jou privaatheid in groter gevaar. Dit maak dit belangrik om jou digitale sekuriteit in gedagte te hou.”

Benewens die feit dat hulle daarvan hou om sonder die gewone kantoordrag aan te meld vir diens – jou Adamspakkie is nog nie heeltemal aanvaarbare werksdrag nie – het Kaspersky se navorsing bevind die meeste respondente het die meer gemaklike uitrustings geniet.

Altesaam 66% van deelnemers aan die studie sê hulle het gewoond geraak aan dié manier van aantrek en sou verkies as hulle dit in die toekoms ook só sou kon doen.

Lang pendeltye was vir talle mense ook iets van die verlede en om vyf minute voor werk wakker te word, was vir duisende werkers ʼn absolute vreugde. Talle ander – sowat 42% van deelnemers – het dit boonop geniet om deur die loop van die dag ʼn vinnige uiltjie te knip.

Sowat 15% van deelnemers het ʼn videospeletjie of twee in werkstyd ingepas, 18% het wegneemetes vir middagete bestel en 10% van mense het aangedui dat hulle nou minder stort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Antoinette ·

Gelukkig is dit nie almal nie. Dit hang seker maar van jouself en jou selftrots af.

Zombie ·

Dankie, nou verstaan die Zombie ook. Mense wat gesond eet, genoeg oefen, ferm is en hard werk, kan dus kaal alie werk en trots op hulleself wees?

Heinrich ·

Dit was verskriklik om vir ‘n ruk nie deur die taxis op die pad gepester te word nie, mens kon vinnig die skottelgoed doen of ‘n bondel wasgoed was. Probleem was om by jou kantoor-ure te hou, want nou voel mens bietjie skuldig oor die skottelgoed/wasgoed was en dan werk jy nou weer bietjie later.

Lorna ·

Aiai by my is dit die sein van internet kroniese problem hier in mountain view
Of as weer opsteek en jy werk en werk en tjoef krag af en ek het nie gesafe nie

Mieke ·

Ek weet my dogter moes trippel werk doen.. werksure inpas, huis skoonmaak, kos kook, kleintjie oppas, wasgoed was en stryk. Dit was geen grap nie!

koos10 ·

Daar is ook ‘n bitter belangrike punt om te maak. Jy het gewoonlik nie werksure nie, en van jou word verwag om 24/7 te kan werk.

Dr Pieter ·

In die VK het talle mense op “furlough” 80% van hulle salaris ontvang terwyl hulle nie werk nie. Sommige is nou baie onwillig om terug te keer werk toe en ‘n vol dag te werk vir slegs 20% meer geld.

ooknetmens ·

Partykeer doen ek wasgoed in werksure, of kyk Netflix. Maar daar ook dae dat ek 22:00 nog voor rekenaar is. So dit kanselleer mekaar uit. Solank al die werk gedoen is en op datum, gee my base min om oor hoe lank dit my geneem het. Ek vind ek is baie meer effektief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.