Dís wat tropiese storm Eloise vir SA beteken

(Grafika: SA Weerdiens)

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê tropiese storm Eloise is in hierdie stadium geleë oor die noordelike gedeelte van Mosambiek. Dit gaan na verwagting in ʼn westelike rigting beweeg en die Mosambiekse kanaal teen Donderdag bereik.

Wanneer die storm dié warm water bereik, gaan die intensiteit daarvan toeneem en teen Saterdag sogenaamde intense tropiese sikloonsterkte bereik net voor dit die vasteland in die omgewing van Vilanculos in Mosambiek tref.

Die weerdiens waarsku sodra Eloise die vasteland tref, gaan dit swaar reën en verwoestende wind veroorsaak wat al langs die Mosambiekse kus en die aangrensende binneland gaan voorkom.

Eloise gaan daarna verder suidweswaarts in die rigting van die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek beweeg.

Die storm sal oor die land begin verswak, maar swaar reën kan steeds teen Sondag oor die suide van Mosambiek, die oostelike Laeveld, die Limpopo- en Mpumalanga-platorand, asook die noorde van KwaZulu-Natal verwag word. Dit sal na verwagting tot Maandag duur.

“Die moontlike gevolg van al dié reën sluit in wydverspreide oorstromings, skade aan paaie en brûe, asook die moontlike ontwrigting van mense in die gebied,” sê die weerdiens.

Die stelsel gaan na verwagting Maandag en Dinsdag ook reën in Gauteng en Noordwes meebring, hoewel dit in hierdie stadium nie beskou word as sodanig dat dit grootskaalse skade sal aanrig nie.

Die weerdiens waarsku egter dit is baie moeilik om ʼn tropiese weerverskynsel se roete te voorspel.

“Tropiese weerstelsels is berug daarvoor dat hulle gereeld onverwags en onvoorspelbaar beweeg. Die weerdiens gaan die stelsel fyn dophou en mense op hoogte hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aikie ·

Behalwe vir die grootskaalse skade, is die een goeie ding van so ‘n groot klomp reën al die riviere gaan laat skoon spoel aan die ooste kant van die land. Natuurlik ook die Vaal en Oranje as die effek so ver land in gaan plaasvind. Laat my terugdink aan Demoina van die tagtiger jare.

Marina ·

Net so onvoorspelbaar soos ‘n vrou. Dis hoekom al die siklone vrouename het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.