Discovery-aandeleskema: Regskenners gee hul mening

adrian gore discovery

Adrian Gore die uitvoerende hoof van Discovery. Argieffoto.

Sal die konstitusionele hof Discovery se aandeleskema as regverdig bevind? Regskenners meen dit is moeilik om nou al te kan sê of dié hof sal bevind dat dit aan die Grondwet voldoen.

Die mediese fonds Discovery gaan onder heftige kritiek gebuk nadat hy verlede week sy planne bekendgemaak het om aan swart kliënte van sy nuwe bank ʼn 10%-belang daarin te gee.

Discovery Bank wil in Maart 2019 sy virtuele deure oopmaak. Bekendes soos Bobby van Jaarsveld en Steve Hofmeyr het hierdie week hulself geskaar by die groeiende aantal Suid-Afrikaners wat besluit het om hul bande met Discovery te verbreek.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Discovery van blatante rassediskriminasie beskuldig terwyl die vakbond Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann, in ʼn ope brief aan die maatskappy gesê het dié besluit om wit mense op grond van ras uit sy nuwe aandeleskema te hou, maak hom “siek”.

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Kenners gee hulle menings

Maroela Media het met talle regskenners gesels om uit te vind of hulle meen die beplande nuwe bank se aandeleskema is moreel en wettiglik regverdigbaar.

Prof. Pierre de Vos het in ʼn meningstuk op sy webwerf Constitutionally Speaking die beoogde aandeleskema verdedig. De Vos voer hierin aan die aandeleskema is in albei gevalle heeltemal geregverdig.

Volgens De Vos moet ʼn “regstellingskema” aan drie vereistes voldoen om wettig te wees. “Eerstens moet die oorgrote meerderheid van die begunstigdes van die regstellingskema kan wys hulle is deur onbillike diskriminasie benadeel.

“Die tweede vereiste is dat die maatreël ontwerp moet wees om diegene wat benadeel is deur onregverdige diskriminasie, beskerm of opgehef moet word. Die derde vereiste is dat die maatreël die bereiking van gelykheid moet bevorder.”

Daniel du Plessis, ʼn regsontleder van Sakeliga, sê daar is egter ʼn probleem met die Suid-Afrikaanse Grondwet.

“Anders as in die geval van die VSA se Grondwet waar mense met soortgelyke agtergronde en belange saamgekom het om ʼn gemeenskaplike agenda vir ʼn nuwe samelewing uit te druk wat presies uitspel wat hierdie land glo”

Du Plessis meen dit het egter nie in die geval van die Suid-Afrikaanse Grondwet gebeur nie omdat twee verskillende breë groepe van mense met teenoorgestelde belange die opstelwerk gedoen het.

“Die uiteinde is dat ons nou sit met ʼn dokument was so onpresies as moontlik is sodat daar verskillende interpretasies daarvan kan geskied.”

Du Plessis sê hoe dit in die praktyk uitspeel, is dat Suid-Afrikaanse grondwetlike regte baie sterk inherente beperkings in baie gevalle het.

“Iets soos die reg op gelykheid het hierdie teendiskriminasie-bewoording van artikel 9 ingebou, maar dan ook, artikel 36 laat jou daartoe om enige reg op te weeg in die interpretasie daarvan.

“Die vraag wat nou gestel word, is hoe besluit mens hoe swaar elke verweer en belang dan weeg. Die probleem is daar is uiteindelik dan ʼn persoon, naamlik ʼn regter, wat soms saam met ander regters moet sit, om te besluit watter een van hierdie twee weeg swaarder, want die Grondwet lei jou nie eintlik tot op daardie vlak nie.”

Du Plessis sê in Suid-Afrika se geval is daar faktore soos transformasie en regstellende aksie wat nooit in die Grondwet verskyn nie wat in ag geneem word. Du Plessis sê ook wat hom pla is dat De Vos sy interpretasie in sy meningstuk as die enigste moontlik interpretasie voorstel.

“My gevoel is dit is nie onmoontlik dat hierdie aandeleskema wel deur die konstitusionele hof grondwetlik bevind kan word nie, want Suid-Afrika sit tans met ʼn probleem oor hoe ons grondwetlike orde saamgestel is.”

Du Plessis sê dit is vir baie Suid-Afrikaners moeilik om dit te aanvaar omdat ons ʼn sterk konstitusionele kultuur het.

“Die Grondwet het – omdat dit so plooibaar is – net nóg ʼn magsinstrument geword vir wie ook al in die dominante ideologiese posisie is.”

Volgens hom is die ANC en die regbank tegnies gesproke twee verskillende instansies.

“Die probleem is egter dat die regbank deesdae dieselfde ideologiese agtergrond en basis as die dominante ideologiese posisie het.”

Du Plessis voel De Vos se argument val deur die mat omdat dit glo ʼn persoon, ongeag sy ekonomiese omstandighede, mag toegang kry tot ʼn soort bonus net op grond van die persoon se velkleur.

“As ʼn mens De Vos se argument in hierdie geval sou volg, beteken dit ek en jy is steeds meer bevoordeel as iemand soos Tito Mboweni, die minister van finansies, of selfs pres. Cyril Ramaphosa omdat hulle op grond van hul ras steeds in ʼn posisie is waar daar teen hulle gediskrimineer word.

“Suid-Afrika is beslis nie meer ʼn land wat deur ʼn minderheid beheer word waar hulle kan diskrimineer teen ander groepe nie. Kyk maar na hoeveel geleenthede daar beskikbaar is vir jong swart Suid-Afrikaners en die hoeveelheid geld wat aan transformasie spandeer word.”

Du Plessis sê polities is daar ook nie meer ʼn groot party wat net wit Suid-Afrikaners se belange bevorder nie.

“Dit word nou ʼn geval waar dié groep mense se belange altyd aan ander se belange gekoppel moet word voordat dit as geldig gesien word. Dit is egter nie wat die Grondwet op papier sê nie. Dit maak wel voorsiening vir sekere regte soos die reg op onderwys in ʼn taal van jou keuse.

“Tog kom ʼn mens by iets soos die hofsaak van die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid waar dié taalreg op grond van ander se belange weerlê word.”

Argieffoto

Maar die armste Suid-Afrikaners is steeds swart

Die grootste hoeveelheid van die armste Suid-Afrikaners is swart en ʼn mens wil glo dat iets soos Discovery Bank se beplande aandeleskema eintlik juis dié mense wil toegang gee tot die ekonomie en groter geleenthede.

Du Plessis sê daar is egter twee maniere wat ʼn mens hierna kan kyk.

“ ʼn Mens kan aan die welstand van Suid-Afrika dink as iets wat beperk is met net soveel hulpbronne. De Vos het sy artikel op hierdie aanname gegrond wat ʼn gee-en-neem-situasie skep.

“Dit beteken dan die enigste manier waarop regverdige gelykheid bewerkstellig kan word, is dat Suid-Afrikaners die goed wat die bemagtigdes (meestal wit mense) besit, moet verdeel onder die res.

Du Plessis sê daar is egter ook ʼn ander perspektief op welstand wat hy meen meer geloofwaardig is.

“Ons as Suid-Afrikaners kan slegs meer welstand vir almal skep deur ʼn vryehandelsituasie. As ek die ekonomiese hulpbronne wat vir jou meer werd is by jou kan uitkry en jy kan dieselfde doen vir my, word dit die definisie van ekonomiese groei en ontwikkeling en dit beteken almal is beter daaraan toe.”

Du Plessis voer aan dat swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en aandeleskemas, soos dié wat Discovery Bank beoog, ʼn kunsmatige grens tussen wit en swart Suid-Afrikaners skep.

“Dit maak dit moeilik vir ons om met mekaar handel te dryf.”

Hy sê ook verder dat Discovery Bank nou 10% van hul kapitaal sal moet afskryf.

“Die bank begin met ʼn 10% groter uitgawe as ander – hierdie beginsel wat deur die regering afgedwing word, kos uiteindelik die hele ekonomie en loop uit op ʼn verlies van hulpbronne en effektiwiteit terwyl dit nie eintlik die armste net verder benadeel nie.”

Du Plessis voel daar is ook ʼn verdere probleem wat ʼn mens in die toekoms skep as jy ʼn aandeleskema soos hierdie sou toelaat.

“ ʼn Mens kan dan allerhande soort problematiese soort praktyke begin regverdig. Sou dit nie dan ook geregverdig word om byvoorbeeld addisionele dienste op grond van mense se ras aan hulle aan te bied nie of om 40%-afslag vir swart kliënte vir dienste of produkte te gee nie?”

“Ek dink dit is uiters problematies en kunsmatig.”

Argieffoto.

Kry eers al die feite

Christine Botha, waarnemende direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê dit is vir haar belangrik om daarop te wys dat ontledings nou gemaak word op ʼn blote aankondiging wat Discovery Bank gemaak het.

“Ons sentrum se benadering is altyd eers dat ons die volledige feitestel van iets soos hierdie aandeleskema wil hê. Elke situasie is uniek en as ʼn mens dit eers het, kan jy dit teen die Grondwet gaan toets.”

Botha meen alhoewel dit dalk nou te vroeg is om die beoogde aandeleskema te toets, sal dit moontlik die rasionaliteitstoets van artikel 9.2 van die Grondwet slaag.

“Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het gevra vir ʼn veel meer genuanseerde manier van kyk na iets soos gelyke indiensneming. Die Verenigde Nasies Kommitee op Uitwissing van Rassediskriminasie het in sy kommentaar op Suid-Afrika se verslag op sy Internasionale Konvensie van Uitwising van Alle Vorme van Rassediskriminasie aanbeveel dat die staat meer kwantitiewe en kwalitiewe data insamel wat ander faktore soos geografiese en maatskaplike-ekonomiese inligting verskaf wanneer daar na diskriminasie gekyk word.”

Dit mag dalk net wees dat hierdie soort aanbevelings van die organisasies in die toekoms ook ʼn impak kan hê op iets soos die aandeleskema wat fyner sal moet kyk hoe en wie dit wil help, bemagtig en bevoordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
zack

Ek gee niks om wat Regskennes sê nie. Al vaarvoor ek bly is is dat Docovery nou begin lede verloor en dit sal op die langeduur ook aan sy sak gevoel word. Discovery drieg al klaar dat armes en ouer mense se medies met 49% gaan styg. Discovery is al klaar besig om te begin dans soos ‘n kat op n warm plaat. My Regkennis is om die Rasistiese Dicovery te boikot.

Boer

Vir hoe lank moet ons hulle nog ophef ten koste van ons eie kinders. Dit is van alles verniet kry dat hulle werk soek met die hoop om dit nie te kry nie. Hierdie ewigdurende jammer kry en gegee moet nou einde kry.

Elizabeth J

Hou jou bank Discovery en jou Mediese fonds – ons is tot ons ore moeg geboelie. Ek is dankbaar ek is nie meer by julle nie. Julle is pateties en geld gierig.

Genieve

Die storie raaknou afgesaag Adrian Gore.

Janet

Kry jou feite agter mekaar Mnr discocery. Die mense wat so bly is nie arm nie. Gaan kyk hulle karre wat hulle ry. Hulle verkies om so te bly. Ek sal ook so gaan bly as ek alles vir my verniet gegee word. Gaan kyk maar hoe arm leef wittes ons maak maar net nie n hoe ha van alles en blameer ander vir ons agteruitgaan. Dis meer as 20 jaar later en die mense wat hulle self wou verbetwr kon dit al oor en oor gedoen het. Die wit mense sit sonder werke. Ons suffer. So asb hou op… Lees meer »