Dispuut met Eskom verklaar oor loon-onderhandelings

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn dispuut met Eskom verklaar nadat dié kragreus nie vir verdere onderhandelings opgedaag het nie.

Eskom bied ʼn 0%-salarisverhoging vir werknemers aan.

Maroela Media het vroeër berig Paris Mashego, National Union of Mineworkers (NUM) se energiesektor-koördineerder, het gesê Eskom se aanbod van 0%-verhogings op lone is net nóg ʼn skuif van Eskom wat daartoe gaan lei dat al hoe meer werknemers gefrustreerd gaan raak.

“NUM is gewalg oor die vlak van arrogansie wat deur die swart meerderheid van Eskom se onderhandelingspan ten toon gestel is. Die onderhandelingspan het bewys hulle het geen vermoë om te redeneer nie deur te hou by die aanbod van 0% op alle eise van NUM,” het sy gesê.

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het gesê Solidariteit beplan om in die komende week memorandums by verskeie van Eskom se werkplekke te oorhandig.

Volgens Reyneke beplan die vakbond sy protesaksies op so ʼn manier dat dit op wettige wyses maksimum druk op Eskom sal plaas sonder om Suid-Afrika se kragnetwerk en die ekonomie te ontwrig. “Daar kan egter nie van werknemers verwag word om Eskom se swak finansiële bestuur, korrupsie en die plundering van die Guptas en hul trawante deur ʼn 0%-verhoging te finansier nie.

Volgens Solidariteit was Eskom roekeloos in die manier waarop hulle onderhandel het en daarom doen Solidariteit ʼn beroep op Eskom om onmiddellik ʼn nuwe aanbod aan werkers te bied, ter wille van Eskom en Suid-Afrika.

Reyneke sê voorts dat Eskom totaal onverantwoordelik is en in kwade trou optree wat die manier waarop hulle die onderhandeling hanteer, betref. “Hulle weet Eskom is ʼn noodsaaklike diens en misbruik dit omdat hulle glo hulle kan ʼn interdik kry indien vakbonde sou staak. Dit is nie bona fide-onderhandeling nie en deur Eskom se onwilligheid om verder te onderhandel en hul 0%-aanbod skep hulle self drukking in ʼn kookpot wat kan oorkook. Eskom misbruik hierdie situasie op ʼn onverantwoordelike wyse, asook die vrees wat rakende elektrisiteitsvoorsiening onder die publiek ontstaan om druk op die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) te plaas om tariefverhogings goed te keur,” het Reyneke gesê.

“Wanneer daar binne ʼn noodsaaklike diensomgewing onderhandel word, rus daar ʼn veel groter verantwoordelikheid op werkgewers om met omsigtigheid te onderhandel. Eskom dobbel in die onderhandelinge met Suid-Afrika se elektrisiteitsverskaffing,” het Reyneke saamgevat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Avra ·

Moenie die werkers op die vloer straf vir die bestuur se foute. Laat hul self hul slae dra. Geen verhoging of bonusse vir bestuur vir die volgende 5 jaar.

Joshua ·

Is dit waar dat Eskom se baas n maandelikse salaris van R720,000 ontvang?

LR ·

Eskom se werkerskorps het in 14 jaar met 50% toegeneem. Die gemiddelde salaris van Eskom werkers is R700000.00. Kathu Munisipaliteit wat die rykste in die Noordkaap was se personeel het sedert 2000 verdubbel, hulle is nou bangkrot.
Na 94 was dit mos ANC beleid om die land se rykdom te herverdeel. Dit is inderdaat gedoen met die gevolge dat die land wankel op die punt van bangkrotskap. Bo en behalwe Eskom is al die ander staatsondernemings ook bangkrot. Daar is omtrent nie n staatsdepartement wat ten volle funksioneel is nie. Kyk net hoe groot het die kabinet geword sedert 94.
Nou het die mense nog nie genoeg geplunder nie, hulle visier is nou ingestel op grond.
Daar lê vir CR n baie moeilike tyd voor om hierdie gety om te draai, dit wil sê as hy die wil het om dit te doen.

Anoniem ·

Daar’s n bitter eenvoudige oplossing, vat 10% van bestuur se salaris en verdeel dit tussen die laagsbetaalde werkers. Dit is tog die bestuur se skuld dat eskom in die posisie is.

John ·

… en die werkers… wat nie by Eskom ‘werk’ nie moet betaal vir die sirkus. Privatiseer Eskom en laat die maatskappy meeding met ander groepe, dat sal die hele spul ‘n slag werk vir hul geld en agterkom waar geld en krag vandaan kom. Ons is siek vir Eskom, selfs die kinders is moeg vir: Sit af die lig; Moenie so baie warem water intap nie; Sit af die vewarrrrmer …. ja, ek weet jou kamer is koud. Siek en sat!!

Martin ·

Met John se arrogante houding, wat nie ‘n benul het van wie werk en wie nie werk in ESKOM, gaan niks opgelos kom nie. Dit is nie so maklik om net te privatiseer nie…..

JM ·

Laat Eskom top bestuur betaal vir die geld wat hulle so mors op bonuses vir hulle self

Alma ·

Is d gerugte waar dat AL ESKOM se werkers van Woensdag af gaan staak & dat d HELE land sonder krag gaan wees? Kan iemand my dalk sê?

GM ·

Ag, en nou gaan ons almal seker weer ‘n klomp whatsapp boodskappies kry wat almal waarsku oor hoe onveilig die land gaan wees, en hoe niemand moet werk toe gaan nie en, en, en… Laat hulle staak. Ons sal een of ander tyd moet terugkeer na die basiese, want niks gaan meer werk nie.

juba ·

Ek se weer ek werk as n tegnikus by n groot kragstasie, en as die gemiddelde salaris R700,000 per jaar is, geniet iemand R500,000 van myne.

Wonder ook ·

Ek wonder ook wie kry die res van my salaris. Na 10 jaar in Eskom het ek nog nie meer as een 3de an daai geld gesien per jaar nie

Annelize ·

Het nou net weer ‘n Whatapp gekry wat reken die staking is afgeweer en dat daar ooreengekom is op verhogings. Weet iemand of dit so is? EK het nou al orals gaan Google, en nerens sien ek iets nie.

JSO ·

STAATSDIENSWERKERS se staking is afgeweer en ooreengekom op verhogings. ESKOM val NIE onder staatsdienswerkers. Stakings gaan voort 13, 14, 15 Junie.

marous ·

Eskom gaan binnekort Omkom wees …net soos alles in die land

Anni ·

Ja Marous, beter kon ek dit nie gestel het nie. Eskom GAAN binnekort Omkom wees.

Ma ·

Iemand wat by Eskom werk het nou bevestig dat elektrisiteit vanaf 13 Junie afgeskakel word. (?)

rika ·

ek werk vir Eskom, om nie ‘n salaris verhoging te kry nie maak ons wat rees onder die broodlyn lewe letterlik moedeloos! en dit terwyl alles verhoog word – tot die elektrisiteit maar daar is nie geld vir die wat die werk doen nie. terwyl munisipalitieite miljoene skuld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.