Dispuut oor salarisverhoging vir onnies verklaar

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die staat weier volstrek om onderwyspersoneel se salarisse met meer as 2% aan te pas en salarisonderhandelinge in die Staatsdienskoördineringsbedingingsraad (SKBR) het tot ’n stilstand gekom.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het nou besluit om in samewerking met ander staatsdiensvakbonde ’n formele dispuut te verklaar om die staat weer tot die onderhandelingstafel te dwing.

Die SAOU sal glo binnekort met staatsdiensvakbonde verbonde aan Fedusa en Cosatu vergader om die moontlikheid van ʼn gesamentlike dispuut te bespreek.

Onderwyspersoneel het in 2019 laas ’n inflasie-aanpassing ontvang terwyl kabinetslede ’n verhoging van 3% en werknemers van Eskom ’n verhoging van 7% ontvang het.

Die SAOU sê dit is “onaanvaarbaar” dat die staat weier om sy aanbod van 2% te verbeter te midde van die land se buitensporige hoë brandstofpryse, kospryse en stygende rentekoerse.

Maroela Media het onlangs berig die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) het in Junie tot 7,4% gestyg – die hoogste sedert Mei 2009 (8%) toe die land se ekonomie die druk van die wêreldwye finansiële krisis gevoel het.

“Enige regdenkende mens sal dit as uiters onbillik beskou en geen werkgewer wat hom hieraan skuldig maak, kan hom die morele hoëgrond toe-eien nie,” sê Chris Klopper, uitvoerende direkteur van SAOU, nou.

Dié onderwysvakbond beoog nou om die ander vakbonde in die SKBR te oortuig om ook die dispuutroete te volg. “Die kans op sukses is soveel groter indien al die vakbonde saamstaan om aandag te gee aan die onreg.

“Die SAOU is oortuig daarvan dat elke moontlike opsie oorweeg moet word om reg aan onderwyspersoneel te laat geskied. Indien die regte van onderwyspersoneel so op flagrante wyse negeer word, het dit ook ’n verdere nadelige invloed op gehalte onderwys wat reeds ’n krisis beleef na aanleiding van Covid-19 en die gepaardgaande onderrig- en leer- verliese.”

Klopper sê voorts die provinsiale onderwysdepartemente en skoolgemeenskappe stel daagliks toenemend eise aan onderwyspersoneel om twee jaar se wesenlike agterstande in te haal, maar daar blyk geen billike en redelike hantering van die regering te wees nie.

“Dit is waar dat onderwyspersoneel geroepe mense is, maar dit alleen verseker nie ʼn waardige lewenstyl nie. Onderwyspersoneel verdien werklik beter behandeling en meer respek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Di ·

Ja dis net die skelms in Parlement wat sorg dat hulle verhogings kry ondanks die massiewe salarisse wat ons as belastings betalers reeds vir die spul skelms moet betaal. Intussen krepeer die man op straat en elke keer GROOT verskonings dat daar nie geld is vir salaris verhogings nie. Elke maand is daar ‘n styging op kos pryse, petrol en elektrisiteit en nie ‘n SENT verhoging vir laaste 2 jaar nie, danksy COVID wat as verskoning gebruik is.

Harley Davidson ·

Belaglik, en dit is die mense wat die jeug moet opvoed en voorberei vir die toekoms van Suid-Afrika hulle verdien beter baie beter as 2%.

Anel ·

Na my mening moet onderwyser die beste betaalde werkers wees. Sonder hulle sal daar niemand wees wat kan lees en skryf en so meer. Die spul in die regering sou nie daar gewees het as hulle nie skool toe gegaan het nie. Nou doen hulle niks en word buitensporige salarisse betaal, wat hulle nie verdien nie. Onderwysers, wat baie hard werk om die land geletterd te kry, moet met aalmoese tevrede wees! Swak!!!

Janine ·

Genade…. Terwyl ons R2 000 pm betaal vir skoolfonds, ry amper ELKE onnie met ‘n splinternuwe kar, papierplate. My kar is 15 jaar oud. Ja-nee, hulle verdien groter salarisse. Pffftt!

Onnie ·

Daardie onnies het seker ryk gades, want ek kan beslis nie. Onthou ons het grade, maar word minder pm betaal as sommige met net ‘n matrieksertifikaat. Die teistering en boelie deur leerders, ouers, kollegas en die departement wat ons daagliks moet deurmaak is beswaarlik die paar sente werd. Ek kan nie eers ‘n huispaaiement bekostig nie. Om op skuld te leef is nie vir my ‘n opsie nie.

Janine ·

Onnie, ek verstaan wat jy sê. Ek praat spesifiek van ons Afrikaanse Hoërskool. Bykans elke onnie ry met ‘n nuwe kar, en almal kan nie ryk gades hê nie…lol! Ek haal my hoed af vir enige goeie onnie, want ek het beslis nie die geduld om met vandag se kinders te werk nie. Ek sal in die tronk beland!

Janine ·

Terloops, my man het meer as 2 jaar laas ‘n verhoging gekry. Terwyl alles se pryse daagliks styg!

Gaitsigubib ·

Janine, volgens jou verduideliking kry jou man nou minder geld as 2 jaar terug, want a.g.v inflasie moes hy tenminste 10% / jaar verhoging gekry het, net om gelyk te breek. Dit klink of dit jou bitter gelaat het teen ander mense wat dalk in n effens beter posisie is. Nie alle onnies verdien dalk verhogings nie, maar een ding wat ek jou kan vertel, is dat my eie vrou myle oor gekwalifiseer is. Sy is lief vir kinders, dis waarom sy doen wat sy doen. Die dag wat sy vir die onderwys vir ewig verlore is, is nie ver nie. O, en terloops ek het in 8 jaar min verhogings gekry en my bakkie is al 20jaar oud en ek kan elke dag die Here dank vir wat ek wel het!

Janine ·

Gaitsigubib, Ek is nie bitter nie. Ons leef gemaklik, met geen skuld. En natuurlik is daar onderwysers wat ENORME salarisse verdien, want die Hemel weet, hulle kou klippe tussen onopgevoede kinders en ouers, die departement, ens. Dit grief my dat dit meesal die sleg onnies is wat net daar is vir ‘n salaris, wat die hardste kla!

Nie Verbaas ·

Verhogings moet op meriete toegepas word. In skole waar leerlinge skaars n persentasie van 30% haal kan hulle die 2% verhogings toepas. Waar leerders presteer kan hoër verhogings gegee word. Hoeveel onderwysers is regtig bevoeg om n onderwyser genoem te word?

Nie Verbaas ·

Dit is waarvoor daar skole is vir kinders met spesiale behoeftes. Ek neem egter ag van wat jy sê. Wat van alle onderwysers gaan deur n bevoegdheid toets? Daar moet net n plan wees om kinders beter voor te berei vir universiteit of enige naskoolse opleiding en die onderwysers speel n geweldige rol in voorbereiding. Ons regering verkies egter om standaard te verlaag. Geen ekonomie kan vooruitgaan met swak geskoolde arbeid nie. Presies die huidige probleem.

Oros Soros ·

Kry die polisieledewat operasioneel aangewend word, nog steeds net die R400 gevaar/bystand toelae wat al sedert 1996 geld (nog nooit verhoog nie). Indien so, is dit ‘n skande.

christo ·

Maroela mislei die publiek, die hele staatsdiens word hierby betrek want dit geld vir ál die staatsamptenare se verhogings, verpleegsters, polisie, korrektiewe dienste ens. Publiseer die ware feite asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.