Dissiplinêre aksie teen HK-lede by NWU

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het met dissiplinêre stappe begin teen die nege huiskomiteelede van ’n manskoshuis op die Potchefstroomkampus.

ʼn Ondersoek is begin ná bewerings dat die huiskomiteelede versuim het om hulle verantwoordelikhede na te kom op ’n manier wat aan die etos van die universiteit voldoen.

“Die universiteit het beplan om die saak te sluit deur die skorsing op te hef en ’n proses van herstellende geregtigheid te volg. Teen die agtergrond van nuwe inligting wat na vore gekom het, kan die saak egter nie afgehandel word soos aanvanklik aangedui is nie,” het Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, gesê.

Volgens Jacobs is prima facie-getuienis bevestig wat op moontlike oortredings ingevolge die statuut van die NWU dui en is die universiteit verplig om die saak in ooreenstemming met sy reëls te hanteer.

“In die lig hiervan sal ’n dissiplinêre prosedure in ooreenstemming met die universiteit se dissiplinêre reëls vir studente nou in werking tree.”

Jacobs het ook bevestig die skorsing van die studente uit hulle verkose posisies as huiskomiteelede sal van krag bly en nie opgehef word nie. “Die interim huiskomitee wat aangestel is, sal voortgaan om hulle pligte uit te voer.”

Die studente is aanvanklik geskors ná ʼn voorval op 12 Januarie toe eerstejaarstudente blykbaar “verwelkom” is op ʼn manier wat nie “aan die waardes van die NWU voldoen het nie”.

Daar is egter toe later aangekondig dat die studente se skorsing op 31 Januarie opgehef sou word. Jacobs het toe gesê die huiskomiteelede sal almal in hulle posisies heraangestel word op voorwaarde dat hulle deelneem aan ’n program wat op korrektiewe maatreëls fokus.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het blykbaar met ʼn onaanvaarbare ontgroeningspraktyk verband gehou. Die eerstejaarstudente is op Saterdag 12 Januarie op die Potchefstroomkampus verwelkom, waarna die registrasie- en oriënteringsprogram begin het. Wat egter die Saterdag gebeur en tot die nege HK-lede se skorsing gelei het, is nie bekend nie.

Die universiteit het nie die koshuis se naam of die name van die nege HK-lede bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stoffel ·

Jip, selfs al het jy deelgeneem aan ontgroening by ‘n universiteit, onthou ‘ontgroening’ kom van die weste af wat heeltemal anders is as inisiasie soos per Afrika se kultuur en toetentaal deur die mense hier verwerp word, is dit ‘n gegewe dat die oortreders en diegene wat hulle aan die ontgroeningspraktyk skuldig maak, aan ‘n korrektiewe program onderwerp sal word.

Bossie ·

Partykeer wonder mens maar oor goed wat aangaan. Hierdie manskoshuis ter sprake het van die beste, mees opgevoede manne met soveel waardes en die mooiste Christelike beginsels wat ek al gesien het. Iets ruim nie hier nie. Sterkte julle manne…

Basjan ·

Bossie, sommige van “die beste, mees opgevoede mans” verander in varke as dit by ontgroening kom.

Adam ·

Bossie, ek weet nie of jy ooit in ‘n universiteits-koshuis gewoon het nie , maar ek kan jou verseker “mooi opgevoede mans met Christelike waardes” verander in diere wanneer genoeg drank betrokke is. “Been there, done that, got the t-shirt”. Ontgroening het deels as doel gehad om nuwelinge van tradisies bewus te maak. Wat se tradisies is nog oor indien standbeelde verwyder, taalregte onderdruk en ‘n gees van algemene misdadigheid op kampus heers? Verbied dus eerder enige vorm van “verwelkoming”

Susan ·

Is dit regtig nodig al die oer oue tradisies te volg? Ontgroening is dom & wat word daarmee bereik?
Volgens my ‘n vermorsing van kosbare studie tyd

Ami ·

Ek stem saam met jou Susan. Die studente is daar om te studeer, nie om tot middernag in ‘n ry te staan en simpel liedjies te sing nie. Spanbou is goed, vir die wat wil deelneem, maar baie van hierdie koshuis aktiwiteite meng eintlik baie erg in met studente se studie tyd.

Net ter inligting ·

Susan, die tyd van die jaar word gebruik om die studente bloot te stel aan an die fasiliteite en geboue van die universiteit. Klasse begin eers hierdie week so dit neem hul glad nie weg van studie tyd nie.
Uit ontgroening word daar spangees gebou en ook ‘n sin van trots. Dit leer ook sommige mense ‘n vorm van respek vir seniors – wat mens tog in elke werksplek gaan moet toon.

Onder de Agter ·

Wel, wat in die tagtigs in die Puk-manskoshuise aangegaan het sal vandag se sneeuvlokkies vreesbevange na asem laat snak, die universiteitsowerhede in hulle tee laat huil en die MRK laat dubbelagteroorflikflakke doen! Heehaa!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.