Dissiplinêre proses is aan die gang, sê De Lille

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Patricia de Lille, die minister van openbare werke en infrastruktuur, het Maandag lede van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), die portefeuljekomitee oor binnelandse sake en die portefeuljekomitee oor openbare werke bedank vir sy oorsigtelike inspeksie van die Beitbrug-grensdraad.

Maroela Media het vroeër berig die drie portefeuljekomitees het die Beitbrug-omgewing in Limpopo die afgelope naweek besoek en ná ’n in loco-inspeksie bevind die omstrede nuwe grensdraad aldaar is substandaard, met die besteding wat as “geldmors” bestempel is. Die bevindings verhoog die druk op De Lille om te bedank, want dit is sy wat op 16 Maart vanjaar opdrag gegee het dat ’n maatskappy kragtens die destyds nie-bestaande regulasies aangestel word om die werk te doen. Die portefeuljekomitees het tydens hul besoek aan Beitbrug bevind die nuwe grensheining van sowat 40 km is nie volgens spesifikasies opgerig nie. Die vorige grensdraad, wat meer as dertig jaar gelede opgerig is, is in ’n beter toestand as die nuwe een.

“Ek wil graag die komitees en die Suid-Afrikaanse publiek verseker dat die dissiplinêre prosesse reeds aan die gang is,” het sy in ʼn verklaring gesê.

Sy het verduidelik die grensdraadprojek is in die middel van Maart 2020 deur haar departement van stapel gestuur. “Weens my kommer oor die projek het ek op 20 April versoek dat die ouditeur-generaal ʼn onafhanklike oudit moet doen oor die projek. Op 25 April het ek versoek dat die departement se teenkorrupsie-eenheid, bygestaan deur lede van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), ook die projek ondersoek en ek het opdrag gegee dat alle betalings opgeskort moet word hangende die uitslag van die ondersoek.”

De Lille het gesê dié ondersoeke het ʼn rits onreëlmatighede onthul en dat bedrog moontlik plaasgevind het. “Die verslag het ʼn aantal dissiplinêre en strafregtelike aanklagte aanbeveel teen diegene wat by die projek betrokke was.”

Sy het gesê die departement het reeds stappe gedoen om die aanbevelings te implementeer. Die departement se regsdienste-eenheid het die saak na die Kantoor van die Staatsaanklaer verwys sodat klagtes opgestel kan word en die inisieerder en voorsitter aangestel kan word. “Die inisieerder en die voorsitter is reeds aangestel en die aanklagtes kan nou opgestel word. Hierdie stappe word gedoen in oorleg met die ondersoekspan en kragtens artikel 8 van die Wet op Openbare dienste, kragtens die diensvoorwaardes van 12 van die 14 beamptes wat geïmpliseer word,” het De Lille bygevoeg.

Sy het bygevoeg afsonderlike dissiplinêre prosesse word vereis vir die direkteur-generaal en ministeriële adviseur, omdat dié twee persone kragtens artikel 12 en 12A aangestel is, nie artikel 8 nie.

“Die ministerie het reeds met ʼn dissiplinêre proses begin wat betref aanklagte teen die ministeriële raadgewer. Die direkteur-generaal is reeds geskors vanweë bevindings van ʼn PricewaterhouseCoopers-ondersoek oor bewerings van onreëlmatighede wat met staatsbegrafnisse verband hou en ʼn ondersoek deur die kommissie van openbare werke oor onreëlmatige aanstellings binne die departement.”

De Lille het gesê sy besef Suid-Afrikaners is gretig dat geregtigheid moet geskied. “Ek moet die publiek egter daaraan herinner dat alle bewerings eers getoets moet word en die regte van die betrokke partye tydens die dissiplinêre prosesse geken moet word. Ek wil die publiek verseker dat enige beampte, wat skuldig bevind word aan enige oortreding, behoorlik aanspreeklik gehou sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Peetjie ·

De Lille het dit afgeteken – sy het nogal gespog daaroor – so sy moet ook gedissiplineer word….

Pieter ·

So sy is nou sommer klaar heeltemal onskuldig aan alles? Sy het goed geleer by anc.

annie ·

De Lille het haar nis gevind en dit pas haar soos ‘n handskoen, die ANC: ‘Ek wil die publiek verseker dat enige beampte…’

Andre ·

Soos die outjies altyd eis: Pay back the money. Die dissiplinêre prosesse sorg net vir lang betaslde vakansies en nog beter joppies.

Wat op dees Aarde ·

Bedrog het natuurlik plaasgevind… Me. De Lille, het u gesien hoe lyk daardie sogenaamde “grensdraad”? En as dit nie vir Carte Blanche was nie, sou dit nooit op die lappe gekom het nie.

Scalla ·

Gaan kyk hoeveel het in die ry gestaan wat geld ontvang het voor die man wat die werk gedoen het teen n minimale koste.

Adeline ·

Antie vat jou handsak en stap sommer saam met jou bedrieglike spul korrupte
amptenare by die deur uit en sorg dat dit agter jou goed en solied toegemaak is. Jy het nie die vaagste idee wat korrupsie is nie en ook nie wat die woord dissipline beteken nie.

Hendrik ·

Die minister het geen beheer oor haar departement nie. Ander moet haar bewus maak van haar depatement se tekortkomings. Sy hoort nie in die parliment nie!!!

Dirk Mostert ·

Ons verstaan nou hoekom sy die DA verlaat het. Good riddance!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.