Distrik Ses kry sy naam terug

Konstruksiewerk aan ‘n nuwe ontwikkeling in Distrik 6 (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het Woensdag die besluit verwelkom dat Zonnebloem in Kaapstad se naam weer sal terug verander na die oorspronklike “Distrik Ses”.

“Die goedkeuring is deel daarvan om die identiteit van die buurt te herstel en ʼn mate van afsluiting te bied aan voormalige inwoners wat dekades gelede gedwing is om die gebied te verlaat,” het Plato gesê.

Die besluit is in die Staatskoerant gepubliseer nadat kultuurminister Nathi Mthethwa die naamsverandering Dinsdag aangekondig het.

“Dit is nóg ʼn mylpaal om Distrik Ses te herstel ná die Kaapstadse stadsraad in Augustus die naamsverandering van Keizergrachtstraat na die oorspronklike Hanoverstraat goedgekeur het.”

Plato het bygevoeg die stad bly daartoe verbind om Distrik Ses te hervorm en verwelkom gevolglik ook die herontwikkelingsplan wat Thoko Didiza, minister van grondhervorming, by die grondeisehof ingedien het.

Didiza se plan word tans deur die Distrik Ses-werkskomitee bestudeer wat die nasionale regering voor die grondeisehof gesleep het namens eisers wat hervorming versoek. Die hof het die minister tot 15 Desember gebied om ʼn plan in te dien en die sperdatum tot 17 Desember verleng.

“Ons hoop dat dit die proses van hervorming sal bespoedig, ná talle vertragings, vir die honderde eisers wat wag om na die gebied terug te keer,” het Plato gesê.

Ongeveer 2 760 voormalige inwoners en familielede het eise by die Kommissie oor die Herverdeling van Grondregte ingedien.

Distrik Ses is in 1966 as ʼn “slegs wittes”-gebied verklaar en vanaf 1968 is ongeveer 60 000 inwoners na die Kaapse Vlakte verskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SeMaarNet ·

Hierdie is ‘n naamsverandering waarmee ek vir ‘n slag saamstem. Deel van SA se geskiedenis.

Johanna Botha ·

Kan ons nou an beweeg asb …of is daar nou weer NOG iets wat pla ?

André André ·

Ja, hulle moet al die ou boere Republieke se naam terug gee.

Hendrik ferreira ·

Goed so,bou nou skole,hospitale en bou distrik 6 op dat daar n groot positiewe verskil gesien kan word die ander dorpe en stede wat naamsveranderinge gehad het het almal verval en agteruit gegaan.

Ghoema ·

Roelandstraat, Hanoverstraat, Distrik Ses, of Zonnebloem, alles goed en wel….ons kan die hele geskiedenis ‘reboot’, die sosio-ekonomiese agterstande en maatskaplike krisisse duur voort.

Maar as hierdie naamsveranderinge die tik -verslaafdes rehabiliteer, die bende-geweld stopsit, die tienerswangerskappe verhoed en die geslagsgeweld hokslaan en boonop werk skep, nou ja, wie is ons om te sê dit dien geen doel nie?

John ·

Distrik Ses was nie net ‘n Maleier-/Moslem-woongebied nie; ‘vreemdes’ is aanvanklik daar gehuisves. Daar kan onmoontlik nog byna 3 000 oudinwoners lewe wat aanspraak kan maak… dalk eerder nasate of opportuniste. Groot baklei gaan volg oor wie waar kan bly/glo gebly het. Plato(?) se breinkind wat hom slapelose nagte gaan besorg in die Kaap van Storms met ou Van Donk wat steeds sy pyp stop.

Nettie ·

Ek weet van WIT MENSE wat ook in Distrik 6 gebly het. Soos my ouers my vertel het, was dit die “undesirable” soort blanke mense, maar immer was dit blanke mense wat ook daar moes uit. Ek stem saam met die naamsverandering maar wil graag weet: wat gaan dít die mense van D6 baat? Gaan dit hulle lewensstandaarde verhoog, misdaad bekamp, werk skep, behuising voorsien, die “flêtse” se dwelm-probleem bekamp?

JohanR ·

Elke keer wat ek verby ry stad of WaterFront toe dan beweeg ontwikkelaars verder en verder af in Distrik Ses in. Dink as jy CPUT ‘n kans gee sal hulle sommer die hele gebied oorneem. Hoe kry ontwikkelaars dit reg om stadig maar seker, nader en nader aan Distrik Ses te beweeg? Verbaas daar is nie nog ‘n mall al daar gebou nie!

Pieter Nel ·

Die inwoners is destyds met hul samewerking verskuif na nuwe Westerse tipe huise terwyl hulle krotte in Distr 6 bewoon het. Nou maak hulle gerieflikheidshalwe, vir finansiële redes, asof hulle gedwing was om te skuif na ‘n plek waar hulle aan hulle eie lot oorgelaat is. Skelms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.