Dit gons oor inkvis by Kommetjie

Die uitgespoelde inkvis. (Foto: Ali Paulus/Facebook)

’n Reuse-inkvis het die naweek by Kommetjie naby Kaapstad uitgespoel. Die karkas was na raming drie meter lank en het talle Kapenaars aan die gons gehad.

Tog is dit nie die grootste inkvis om tot op hede op ’n Suid-Afrikaanse strand uit te spoel nie.

Jon Friedman, ’n beampte verbonde aan die Kaap van Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), sê ’n groot groep mense het Saterdag met beamptes se aankoms by Langstrand om die karkas van ’n reuse-inkvis saamgedrom.

Die dier het in daardie stadium ’n uur vantevore uitgespoel en was reeds gedeeltelik deur vissermanne opgekap. Die groep vissermanne het met die beamptes se aankoms sowat 100 meter verder gestaan en was reeds besig om die dier se tentakels onder mekaar te verdeel.

“Die dier se organe was rondom dit versprei en stukke daarvan het in die water gedryf.”

Die uitgespoelde inkvis. (Foto: Ali Paulus/Facebook)

Die DBV kon ’n paar weefselmonsters vir die Iziko-museum in Kaapstad neem, maar die belangrikste dele van die inkvis wat moontlik inligting kon verskaf oor ouderdom, dieet en oorsaak van dood, was reeds deur vissermanne en omstanders verwyder.

Friedman sê volgens die toestand van die inkvis se oorblywende organe lyk dit asof dit sowat twee jaar oud en in goeie gesondheid was. Die inkvis se maag was ook vol.

“Wat die oorsaak van dood betref, sou ek sê dat die dier waarskynlik deur ’n skip getref is terwyl dit na die oppervlak gekom het, aangesien reuse-inkvisse gewoonlik diepseebewoners is.”

Reuse-inkvisse word tipies tussen 300 en 1 000 meter onder die water aangetref. Die visse groei volgens Friedman ongelooflik vinnig en leef net vir ongeveer vyf jaar.

Friedman sê indien daar nie binnekort nog reuse-inkvisse op Suid-Afrikaanse strande uitspoel nie, is daar geen rede om in die stadium bekommerd te wees oor dié diere se voortbestaan nie. Die jongste voorval is wel tekenend daarvan dat ons waters meer skeepsverkeer as ooit tevore sien.

“Reuse-inkvisse word wêreldwyd in oseane aangetref, maar dit is eers wanneer een uitspoel dat ons werklik ’n seldsame blik op hierdie geheimsinnige spesie kry.”

Die uitgespoelde inkvis. (Foto: Ali Paulus/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Hoe smaak dit?

Johann

Soos kalamarie

piet

Inkvisse is nie visse nie maar ongewerwelde diere. Behoort tot die filum Mollusca soos slakke.

Janee

Hartseer…