‘Dit het gevoel soos oorlog’ – skote, ontploffings in Pta-rooftog

(Foto: Anton Meijer/PretoriaFM)

Die polisie is op soek na 12 verdagtes ná Donderdagaand se transitorooftog op die N4 in die ooste van Pretoria.

Die rooftog het ’n sekerheidswag in ’n kritieke toestand en inwoners van omliggende woonbuurte vreesbevange gelaat.

“Dit het regtig gevoel soos oorlog,” vertel Danie en Jacqui Oosthuyzen nadat die voorval enkele honderd meter van hul huis in Lydiana afgespeel het. Dié buurt se huise het volgens inwoners geruk toe die geldwa op die snelweg naby die Watermeyer-afrit oopgeblaas is.

“Ek weet nou hoe met die mense in Oekraïne voel,” sê Jacqui nadat haar gesin gisteraand eers skote en toe twee ontploffings gehoor het. Niemand het in daardie stadium geweet wat pas gebeur het nie en inwoners is deur die buurtwag aangesê om binnenshuis te bly en plat te lê.

“Daar was verskillende skote. Sommige het geklink soos dié van outomatiese gewere,” sê Jacqui. Die gesin het boonop geen idee gehad of sommige van die koeëls dalk hul huis kan tref nie.

(Foto: Anton Meijer/PretoriaFM)

Volgens Jacqui kon die skote omtrent ’n halfuur lank gehoor word.

Hulle het later ’n helikopter hoor land en is meegedeel dat ’n transitorooftog op die N4 plaasgevind het. ʼn Gewonde veiligheidswag is per helikopter na ʼn hospitaal gehaas.

Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die geldwa was van Modimolle in Limpopo na ʼn kontantdepot in Silverton op pad toe die rowers daarop toegeslaan het.

“’n Skietery het na bewering tussen die verdagtes en die wagte ontstaan, maar geen skietwonde is aangemeld nie. Twee van die verdagtes se vyf wegkommotors het op die toneel aan die brand geslaan. Die bestuurder van die geldwa en sy bemanningslid is beseer en is na die hospitaal gehaas.”

Daar is egter teenstrydighede in die inligting wat die owerhede en nooddienste rakende die voorval verskaf.

Volgens die Emer-G-Med-nooddienste, wat gisteraand na die toneel ontbied is, is twee veiligheidswagte gewond. Een van die wagte was in ʼn kritieke toestand en is na ʼn hospitaal gehaas. Die wagte het glo ook brandwonde opgedoen.

ʼn Ooggetuie het aan Maroela Media gesê die verdagtes het in drie voertuie in die rigting van Mamelodi van die toneel weggejaag.

  • Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige inligting rakende die voorval by die naaste polisiestasie of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Samuel ·

Nee, hy is in die Kaap waar hy weereens vir die inwoners van Khayelitsha en Manenberg gelieg het.

Henri ·

“Volgens Jacqui kon die skote omtrent ’n halfuur lank gehoor word.”

‘n Halfuur? Waar was die polisie?

efjy ·

Blyk dat die polisie se taakspanne maar versigtig is vir teenwoordigheid by die tipe misdaad. Dit het in ‘n woonbuurt plaasgevind en blykbaar vir 30 minute aangehou. Klink of die polisie nie “betyds” kon reageer nie, en nie op die toneel was nie?

Swerwer ·

Maar die Nasionale Sport van die Republiek van Suid Afrika is jollie patrollie. Gaan voort ANC Kader jul tyd gaan aanbreek.

Leon ·

Jacqui, één ontoffing en n paar skote kàn jou onmoontlik laat weet hoe die Oekraïniërs moet voel nie! Daar word héle stede uitmakaar geskiet. Vir weke aanmekaar.

Patch ·

Leon, was my selfde gedagte. Ons sal nie naastenby weet hoe die Oekraïniers moet voel nie. Verstommend dat mense so ‘n vergelyking tref. Daardie mense gaan deur hel.

Dup ·

SA is lank reeds deur kriminele gekaap.Jy is nêrens meer veilig nie.

Fluisterwind ·

Volgens Google map is SAPS Silverton 5.3 km of 7 minute weg van die toneel. Die regering (SAPS) laat misdaad toe.

May10 ·

Hulle kry nie eers die ouens wat ontsnap het uit maximum security tronk nie,waar gaan hulle die ouens kry. pffft

melaney ·

Hoe is dit moontlik dat die rowers elke keer presies weet waar hulle die geldwa moet inwag? Miskien is hier iemand wat ons kan inlig. Ek is van mening dat geld op ‘n ander manier vervoer moet word sodat die rowers nie sal weet waar om te wag nie. Maar dit lyk my al hierdie rooftogte ‘inside jobs’ is en mense lewens beteken absoluut niks vir hulle nie.

Eclectus ·

Ek bly soos die kraai vlieg 6 km van waar die insident was. Daar was twee ontploffings ‘n paar sekondes uit mekaar en die tweede een het my huis geskud en die indruk geskep dat iets groots daarop geval het. Die skietery mag dalk gevoel het soos ‘n halfuur maar kon nie meer as vyf minute wees nie. Dit was egter so duidelik ek het gedink dis ‘n kilometer van ons. Ek het jare gelede in die kompleks langs die insident gewoon en het vanoggend gewonder hoe dit sou wees as ek nog daar was.

Althes ·

Wat nou Bheki Cele? Die misdaadoorlog woed TEEN onskuldige burgers en maatskappye!!

Keelvol ·

Julle wat die polisie hier so kritiseer en sleg sê, ek wil graag sien of julle die situasie sou hanteer. Of julle sommer net met n voertuig daar so injaag en net begin te skiet? Maklik om nonsens te praat op sosiale media maar uiters bang om by die polisie aan te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.