Dít is hoekom hospitaaldak ineengestort het

‘n Gedeelte van die dak by Charlotte Maxeke-hospitaal het op 2 Maart 2017 ineengestort (Foto: ER24)

Die Gautengse provinsiale regering het Woensdag sy bevindinge bekendgemaak van ʼn ondersoek na die oorsaak van die ineenstorting van die dak van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg.

Maroela Media het vroeër berig vyf mense is beseer toe ʼn gedeelte van die dak van die hospitaal op 2 Maart 2017 in duie gestort het. Die Gautengse departement van gesondheid het in ʼn verklaring gesê die beseerdes bestaan uit twee konstruksiewerkers, twee lede van die publiek en een personeellid.

Jacob Mamabolo, die LUR vir infrastruktuurontwikkeling, het die verslag ontvang wat deur die prokureursgroep Adams & Adams, in samewerking met die ingenieursfirma Aurecon, saamgestel is oor die oorsaak van die voorval. Die verslag bevat ook regsadvies oor wie vir die voorval verantwoordelik gehou moet word.

Volgens ʼn verklaring wat deur die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling uitgereik is, het die voorval gebeur terwyl kontrakteurs besig was om waterdigting as deel van algehele instandhouding by die hospitaal te doen. Die dak bokant die ingangsportaal van die hospitaal het ineengestort weens erge oorlading.

‘n Gedeelte van die dak by Charlotte Maxeke-hospitaal het op 2 Maart 2017 ineengestort (Foto: ER24)

“Hoewel die omvang van die oorlading nie presies bepaal kan word nie, was die gewig wat op die dak geplaas is aansienlik meer as waarvoor dit ontwerp is,” lui die verklaring. Die oorlading is veroorsaak deur gebreekte klip wat in ʼn hoop op die dak gepak is.

Die gebreekte klip wat op die dak gepak was as deel van die waterdigtingswerk wat gedoen is, was veronderstel om deur ʼn stortgeut, wat spesifiek vir hierdie doel opgerig is, verwyder te word. “Ongelukkig is die gebreekte klip opmekaar gestapel op die dak bo die ingangsportaal van die hospitaal. Die oormatige las het veroorsaak dat die dak ineenstort.”

Volgens die regsadvies in die verslag was die kontrakteur wat die waterdigtingswerk gedoen het daarvoor verantwoordelik dat die projek op veilige wyse uitgevoer moes word. “Die skade aan die hospitaal en die mense wat beseer is, word in ʼn baie ernstige lig beskou. Die LUR sal seker maak dat die nodige stappe gedoen word om die mense wat hiervoor verantwoordelik is aanspreeklik te hou,” lui die verklaring.

Die departement het verder gesê daar is reeds ondersoek ingestel na die proses waarvolgens kontrakteurs aangestel word om werk vir die departement te verrig en waar moontlik sal hierdie proses verbeter word. Aspekte wat verbeter sal word, is onder meer die nagaan van vaardighede en kennis van kontrakteurs, asook om seker te maak dat die pryse wat betaal word vir kontrakwerk mededingend en markverwant is. Kontrakteurs wie se werk nie volgens standaard is nie, sal aanspreeklik gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pik ·

Se edele LUR net kleur speel n rol in die tipe tenders so los die res wat jy na wil kyk

Johann ·

Kan iemand hierdie vir my asseblief in Afrikaans vertaal? Dis ‘n lang relaas, maar ek het nog geen idee wat gebeur het nie. As ek raai lyk dit asof dit iets met onbevoegdheid te doen het.

Lewies ·

Daar is ‘n spreekwoord wat se “skiet jouself is die voet” of “‘n pad van selfvernietiging” Dit klink vir my of hierdie gebeure maar net nog een van daardie ongelukkighede is.

Anoniem ·

Kan daar asb gekyk word nie die tenderproses vir hierdie waterdigtingswerk? Is die beste tender gekies (volgens kwaliteit en prys) of is die tender aan ‘n boetie/maatjie/”affirmative action” maatskappy toegewys? Indien wel, is die paneel wat die tender toegeken het aanspreeklik vir die beserings en skade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.