Dít is in 2018 die meeste gesoek op Google

Tim Bergling, oftewel Avicii. Foto: @Avicii / Twitter

Google het die lys van die mees gesoekte onderwerpe wêreldwyd in 2018 op dié internetsoekenjin bekendgemaak.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme is die 2018-Wêreldbeker. Die 21ste Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi is van 14 Junie tot 15 Julie in Rusland aangebied. Frankryk is as die wêreldkampioen gekroon.

Avicii was die tweede mees gesoekte term. Die gewilde Sweedse platejoggie en musiekvervaardiger Tim Bergling, ofte wel Avicii, het in April vanjaar sy eie lewe geneem. Hy was 28 jaar oud.

Stan Lee (93) tydens die Tokio Comic Con by Makuhari Messe in Chiba (Foto: ANA)

Mac Miller is derde op die lys. Malcolm James McCormick, beter bekend as Mac Miller, was ʼn Amerikaanse sanger, kletsrymer en vervaardiger. Hy is in September vanjaar dood aan ʼn oordosis dwelms dood. Hy was 26 jaar oud.

Die Marvel Comics-legende Stan Lee se naam was die vierde mees gesoekte term op Google. Lee is in November in die ouderdom van 95 oorlede. Lee was ʼn Amerikaanse strokiesprentskrywer, redakteur, uitvoerende rolprentvervaardiger, akteur en uitgewer. Hy het in 1961 saam met Jack Kirby die maatskappy Marvel begin met The Fantastic Four. Hy het daarna Spider-Man, Black Panther, The Incredible Hulk, X-Men, Iron Man en The Avengers geskep. Hy was ook betrokke by die skep van Doctor Strange, Daredevil, Ant-Man en Thor.

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Alexi Lubomirski)

Die rolprent Black Panther het nie net skoonskip by die loket gemaak nie, maar is ook in die vyfde plek van Google se mees gesoekte terme. Die rolprent het geskiedenis gemaak in verskeie opsigte een is op die lys van die rolprente wat die meeste geld nog by die loket verdien het.

Meghan Markle is in die sesde posisie op die lys. Die hertogin van Sussex het in Oktober bekend gemaak sy is swanger nadat sy en prins Harry, die hertog van Sussex, in Mei vanjaar in die St. George-kapel in Windsor naby Londen getroud is.

Die bekende Amerikaanse televisieaanbieder en sjef Anthony Bourdain is sewende op die lys. Bourdain het in Junie vanjaar sy eie lewe geneem in sy hotelkamer in Parys, Frankryk. Hy was 61 jaar oud.

Stephen Hawking. Foto: Facebook.

XXXTentacion, oftewel Jahseh Dwayne Ricardo Onfroy, is agtste op die lys. Hy was ʼn Amerikaanse sanger, kletsrymer en liedjieskrywer. Hy is in Junie vanjaar doodgeskiet.

Stephen Hawking, wat in Maart vanjaar oorlede is, is in die negende posisie op die lys. Die wêreldbekende fisikus is in die ouderdom van 76 dood.

Kate Spade, die bekende Amerikaanse ontwerper wat in Junie vanjaar haar eie lewe geneem het, is in die tiende plek op die lys. Sy was 55 jaar oud. Spade was ʼn bekende handsak- en modeontwerper en ook ʼn voormalige redakteur van die Amerikaanse modetydskrif Mademoiselle.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.