Dit is weer tyd om ʼn nuwe skoolbeheerliggaam te verkies

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

As jy lief is vir jou kind, jou skool en jou land sal jy nie net aan vanjaar se nasionale skolebeheerliggaamverkiesing deelneem nie, maar jou ook vir jou plaaslike skool se beheerliggaam verkiesbaar stel.

Dit was die boodskap van die Federasies van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat Dinsdag tydens ʼn seminaar by Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria die driejaarlikse verkiesing bekendgestel het.

Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, is sowat 80% van Suid-Afrika se 23 719 openbare skole disfunksioneel. “Daar is boonop ʼn direkte verband tussen die 20% funksionerende skole en die sukses van die skool se leierskap en beheerliggaam, ondersteuning van die gemeenskap en die gehalte van onderrig wat by die skole verskaf word.”

Dr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het gesê ouers moet besef dit is die grootste verkiesing van openbare verteenwoordigers in die land dié. “Dit is selfs groter as nasionale en plaaslike verkiesings met byna 300 000 lede wat in een maand verkies moet word om in openbare skole se beheerliggame te dien.”

Colditz het benadruk dat Suid-Afrika ná 1994 weggedoen het met skole wat op ʼn baie outokratiese en burokratiese wyse heeltemal deur die staat beheer is.

“Ná 1994 is ʼn witskrif ingestel waar ouers verantwoordelikheid vir die skole in hulle gemeenskap aanvaar en ʼn beheerliggaam is gewoonlik verteenwoordigend van die hele skolegemeenskap.

“Die rol van die beheerliggaam is om die belange van die skool en leerders te beskerm terwyl dit goeie gehalte onderwys vir elke leerder bevorder. Dit is dus in die belang van jou eie kind, die skolegemeenskap en die land om tot dié verkiesing by te dra,” het hy bygevoeg.

Volgens Deacon én Colditz word daar ʼn vakuum geskep indien ouers nie verantwoordelikheid vir die goeie bestuur van hulle plaaslike skool aanvaar nie, of die verantwoordelikheid aan iemand anders oorlaat.

Fedsas het ʼn brief aan al nege provinsies se LUR’e van onderwys geskryf waarin die organisasie aangebied het om die beheerliggaamlede van al die openbare skole op te lei ná hulle verkies is.

“Ons het reeds 176 opleidingsessies vir beheerliggaamlede gereël en die opleiding sal in die tweede kwartaal plaasvind. Dit is vir Fedsas belangrik dat beheerliggaamlede weet wat hulle rol is en hoe hulle hul pligte en take moet uitvoer, anders kan hulle nie die skool reg bestuur nie. Hierdie opleidingsessies is Fedsas se manier om terug te gee aan die gemeenskap en die land,” het Deacon gesê.

Fedsas het ook tydens die seminaar ʼn boek “ʼn Praktiese handleiding oor skoolbeheer” bekendgestel. Die boek verskyn in ses tale (Afrikaans, Engels, Sotho, Tswana, Xhosa en Zulu) en sal tydens die beheerliggaamopleiding gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Ons is betrokke by baie skole deur die land en dis absoluut so duidelik soos dag lig vir ons waar ouers betrokke bly by die skole waar hulle kinders is (hetsy deur te dien op die beheerrade of andersins op ouer/onderwysers assosiasies en ander betrokkenheid by die skole), dat daar die skole van krag tot krag gaan.
Ek wil ouers met kinders nog op skool aanmoedig om hulle beskikbaar te stel vir verkiesings op die beheerrade.
Ons het al male sonder tal gesien hoe skole sukkel om te funksioneer as hulle sukkel om nuwe beheerrade te verkies.
Glo my asseblief, dis in u kind en die skool se eie belang

koos1 ·

Dit is ‘n absolute voorreg om op ‘n skool se beheerliggaam te dien.
Dit is baie harde werk, dit is ‘n ondankbare werk en dan doen jy dit nog sonder vergoeding ook, in teen deel, baie keer kos dit jou geld, maar dit bly ‘n voorreg om ‘n skool te help bestuur sodat ouers en kinders daarby baat!

blinkkind ·

Dit is ‘n voorreg om op n beheerliggaam te wees, maar soms maak die hoof dit absoluut ontmoontlik om posetief te wees om die regte keuses te maak. Intimidasie en persoonlike agenda sit baie keer saam in die vergaderings en selfs Godsdiens word gebruik om mense te intimideer.

Hopenlik die jaar is daar meer om na uit te sien as die laaste ses jaar op die raad…

Gatvol ·

Net jammer in klein dorpies is dit n gekruipery en wat die hoof se is wet en die beheerliggaam voorsitter is niks anders as om n stoel toe te maak nie want hy ja en amen

Koos1 ·

Daar moet altyd ‘n onewe getal lede wees, en die ouers moet die meerderheid uitmaak (op laerskool vlak, hoërskool vlak moet daar ook leerlinge wees). Ek kan verstaan dat die hoof intimiderend kan wees maar met ‘n stemming (as die ouers saam staan) kan sy besluite nie goed gekeur word nie.

Werner ·

Ek is al die afgelope 11 jaar op 2 skole se beheerliggaam en voorsitter vir 10 jaar. Maar dit gebeur net dat die hoof optree buite sy mag as die voorsitter en beheerliggaam dit toelaat. Glo my in ons 2 skole hou ons hulle op hul tone. Fedsas is n wonderlike organisasie wat altyd help. Dankie Fedsas.

Gatvol ·

Hi Koos en Weerner ek hoor wat julle se net jammer die beheerliggaam kryp by die hoof en jammer dat lede van die beheerliggaam duisende uitstaande het op skoolfonds so hy moet ja en amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.