‘Dit kon ons gewees het’

Jacques Bruwer kort ná die aanval in Browns Farm in Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Jacques Bruwer en sy seun het nie geweet of hulle mekaar weer lewend gaan sien toe hulle deur ʼn groep rowers by Browns Farm in Kaapstad oorval is en Bruwer sy seun aangesê het om met die bakkie weg te ry nie.

Bruwer (48) en sy seun, ook Jacques (23), van Stellenbosch is twee weke gelede onder dieselfde omstandighede en vermoedelik op dieselfde plek as die restauranteienaar Ben Tuzee aangeval. Tuzee het aan sy wonde beswyk.

“Ons is gelukkig om te lewe, maar soos ek nou vasgestel het, was ʼn ander pa nie so gelukkig nie,” sê Bruwer sr. Nietemin is Bruwer sr. se wangbeen vergruis en sy seun moes toekyk hoe sy pa in die pad lê, met agt mans bo-op hom, sonder om te weet of hy lewe of dood is.

In die Bruwers én Tuzee se geval het die slagoffers items wat hulle wou verkoop by ʼn adres in die Browns Farm-omgewing gaan aflaai toe hulle deur ʼn groep aanvallers oorval is. Tuzee is verskeie kere met ʼn mes gesteek en sy voertuig gekaap.

“Dit kon netsowel ons name in Maroela Media se berig oor die voorval gewees het. Ek sidder om te dink wie nog slagoffers kan word indien die polisie nie vinnig optree nie.”

Bruwer sr. het Maandag aan Maroela Media vertel dat hy en sy seun Woensdag 24 Augustus omstreeks 18:15 na die betrokke adres, Msengestraat 2634 in Browns Farm, gery het om braaidromme af te lewer wat iemand by hulle wou “koop”.

Ná ongeveer drie dae lange onderhandeling het Jacques en sy pa ingestem om die dromme met Bruwer se enkelkajuitbakkie af te lewer.

Met hul aankoms by die adres het ʼn man vir hulle gewaai en hulle het stilgehou. Jacques het uitgeklim om solank die dromme agterop die bakkie los te maak toe Bruwer – wat toe nog in die bakkie gesit het – skielik uit die hoek van sy regteroog gesien het hoe sowat sewe mans op hulle afpyl.

“Hulle het na die bakkie aangehardloop gekom en ek het vir my seun geskree ‘kom, kom hier’s moeilikheid’.

“Toe ek oor my linkerskouer kyk, het nog drie mans my seun reeds beetgehad en hy kon dus nie in die bakkie kom nie.”

Bruwer het ʼn polisiestok in sy voertuig gegryp en uitgespring om die mans te probeer afweer. Een het toe ʼn mes uitgepluk, wat Bruwer gelukkig uit sy hand kon slaan.

Van die aanvallers het in dié stadium groot klippe opgetel en Bruwer daarmee bestook.

“Ek kon my seun eindelik losruk en het hom in die bakkie agter die stuurwiel ingedruk. Ek het gedink hy sal kan oorskuif sodat ek kan inspring en ons kan wegjaag. In dié stadium het twee aanvallers egter by die passasierskant ingekom en my seun was besig om hulle te probeer uitstoei.

“Ek het vir hom gesê ‘ry net, ry net’. Hy het gery en ek het probeer om agterop die bakkie te spring, maar kon dit nie regkry nie.” Bruwer onthou nog dat hy toe nie geweet het of hy sy seun weer sal sien nie, en net gehoop het dat hy oukei sal wees.

Bruwer het agter die bakkie aangehardloop, maar toe hy om die draai kom, het ʼn man – netjies aangetrek – hom onverwags met ʼn baksteen in die gesig gegooi. Bruwer vermoed dié man het dalk vir die ander aanvallers wag gestaan.

Bruwer het op die grond geval en verskeie aanvallers het hom gepak en onder meer sy foon en ander besittings gesteel.

Jacques het intussen omgedraai en met die bakkie op die aanvallers afgepyl om hulle te verjaag.

ʼn Bebloede Bruwer het opgestaan en in die bakkie gespring. Hulle het van daar af na die naaste polisiestasie by die Kaapstad-lughawe gejaag. By dié stasie het beamptes en nooddienswerkers gesê Bruwer sal dadelik by ʼn hospitaal moet uitkom en dat hulle die saak selfs in Stellenbosch kan aanmeld.

“Ek het net heeltyd op pad na die hospitaal vir my pa gevra hy moet asseblief nie nou doodgaan nie,” vertel Jacques.

Bruwer is toe by die Mediclinic in Stellenbosch opgeneem terwyl sy seun ʼn klag by die polisie op dié dorp ingedien het.

Bruwer se gesig is in die voorval gebreek en sommige fyn beentjies vergruis. Hy moes byna twee dae lank op ʼn drup behandel word voordat die swelling genoeg gesak het vir dokters om te opereer.

Vyf plate is in sy gesig gesit en hy verkeer steeds in erge pyn.

Aanvallers probeer mense met gesteelde foon flous

Kort ná die aanval op die Bruwers het die aanvallers sy gesteelde selfoon gebruik in ʼn poging om nog mense te flous. Hulle het voorgegee om Jacques te wees en slagoffers na dieselfde adres probeer lok – onder meer om namens Bruwer ʼn televisie op te laai.

Die Bruwers het die simkaart probeer stop, maar dit vat ʼn paar dae en in dié tyd het die aanvallers al verskeie boodskappe onder meer na kontaknommers op Bruwer se foon gestuur.

Die Bruwers het reeds al die inligting en bewyse aan die polisie deurgegee en ʼn saaknommer ontvang, maar het teen Maandag nog steeds nie terugvoer van die polisie ontvang ter bevestiging of die saak verder ondersoek word nie.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het wel Maandagmiddag aan Maroela Media bevestig dat die Nyanga-polisie sake van aanranding en poging tot kaping ondersoek.

ʼn Speurder van Nyanga het Jacques Sondag gebel en oor die gesteelde foon uitgevra, maar nog nie weer met hom kontak gemaak nie.

Bruwer het ook ʼn waarskuwing op sy Facebook-blad geplaas en gepleit dat enigiemand wat items op Market Place adverteer, uiters versigtig moet wees.

Sommige mense het in die kommentaar op dié plasing gevra “maar wat maak julle op so ʼn gevaarlike plek”.

Bruwer, wat in die kleinhandelbedryf werk, ry egter gereeld vir werksdoeleindes in dié omgewing en ken die gebied redelik goed. Sy vrou, Ester, wat in verkope in die gesondheidsorgbedryf werk, sê boonop noop jou beroep jou om dikwels items by kliënte in minder veilige gebiede af te lewer.

“Ek wil nie simpatie hê nie. Ek wil mense dringend waarsku om baie versigtig te wees, veral vir mense wat op Market Place-advertensies reageer en vra dat items afgelewer word. Ons hoop ook dat die polisie dringend ondersoek sal instel.”

Die egpaar sê hulle het heeltyd geworstel met “wat as-vrae” en vir mekaar gesê “netnou gaan iemand dood”. Toe word Tuzee net daarna vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pieter ·

Maklik vir die polisie om op te tree maar doen niks nie. Kriminele word beskerm en net gemoniteer. Mad hatter besoek net misdaadtonele om duur oor te slaap, te vreet en struggle praatjies te verkondig.

KatjieDeKat ·

Sal maar moet begin om te reel dat die goedere wat jy verkoop, deur die koper by jou afgehaal word, in die middel van n besige plek, soos in Wimpy of Pick n Pay vir kleiner goed, of reg voor Pick n Pay etc vir groter goed. Dis al genade. Jy kom kry jou goed by my in n Besige Openbare plek – of koop by iemand anders. Mens moet maar uit die boks begin dink. Andersins koerierdienste. Maar die geld moet eers in jou bankrekening verskyn. Dan sit jy nou weer met die probleem dat die koper lugtig is om Dit te doen ingeval jy hulle scam. Dis maar moeilik in so n misdaadhool. Mense gaan jou soms Ook nie vertrou nie. Doen maar die transaksies in die openbaar op besige plekke. Mens moet breinspronge maak om veilig te wees en te bly, Hier. My simpatie aan die Bruwer gesin.

ES ·

Gleukkig het hulle met hul lewe weggekom. As iemand iets wil koop wat ‘n redelike waarde het, kan hulle bekostig om dit by jou huis af te haal, maak nie saak hoe groot die item is nie.

Ongelukkig maag hierdie tipe skelms staat op jou onkunde, veral as jy nie die area van aflewering goed ken nie.

KatjieDeKat ·

Beste dat mense nie weet waar jy woon nie. Doen die transaksie by n neutrale, besige, openbare plek. Laat hulle wegry met die goedere voor Jy die perseel verlaat. Maak of jy iets gaan eet na die transaksie, en lank gaan rondhang in die sentrum, wat ook al. Ingeval hulle jou huis toe volg. Ons leef nie in n normale samelewing nie, so mens moet altyd vooruit dink en beplan.

George ·

Jip, want om in die gesig met n BAKSTEEN te gegooi word en 8 wat hom aanrand, is roof, belaglik.

Swerwer ·

Solank hierdie land in die Kommunistiese ANC en EFF se hande is sal dit net erger raak.

Althes ·

Ek is dankbaar dat julle veilig is. Sterkte aan die gesin.

Adele ·

OK die adres is mos hier. As die polisie dan nou nie hulle werk wil doen nie, kan burgerlikes mos nou maar ‘n lekker lokval stel en die wetters gaan leer wat 7 teen 1 kan doen.

piet ·

Die polisie sal niks doen nie, ek kan weens persoonlike ondervinding getuig. Hulle sal nou ‘n sms stuur om te bevestig wie as ondersoekbeampte aangestel is. Na ‘n paar dae nog ‘n SMS om te se hulle is besig om die saak te ondersoek. Dan so ‘n maand daarna ‘n SMS dat hulle nie voldoende bewyse kon kry nie en die saak gesluit is. Dis hoe die polisie deesdae operate, die sms’s is net ‘n rookskerm om voor te gee dat hulle iets doen. Roof is lankal nie meer ‘n prioriteitmisdaad nie, dis nou alledaags en word deur die polisie geignoreer. Die polisie doen nie eers die moeite om jou by jou huis te kom sien en vrae te vra as deel van die “ondersoek” nie. Useless.

Dries ·

Ja Piet, net soos jy hier uiteensit, het ek ook al ondervind.

Herman ·

Nou wat van poging tot moord. Hulle is met klippe bestook en met messe gesteek.

Deonne ·

In hierdie land met sy hordes goddelose booswigte moet jy maar na jou “GUT” luister. Ek self het al n paar items op Market place verkoop. Maak maar altyd seker waar die koper woon en gaan sy FB profiel na as jy kan. As iemand werklik iets by jou will koop sal hy dit by jou kom afhaal of jy kan die koper iewers op n veilige publieke plek ontmoet. Ek verstaan daar is baie wat desperaat is om hulle items te verkoop en die geld dringend nodig het maar n mens se lewe is dit nie altyd die moeite werd nie. Volgens die berig ken die slagoffer die area, maar na 18:00 in skemer is moeilikheid soek daar.
sterkte.

Mariana ·

Hoe tragies het ons land geword. Mens kan maar verwag om geroof en aangerand te word en as jy gelukkig is dalk lewendig uitkom. Kriminele in beheer en ongelukkig is hulle vry om hul bedrywighede voort te sit. Polisie nie opgewasse nie en boonop deel van probleem. Bly die twee manne het die aanval oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.