Dít moet jy weet oor IAAF se omstrede regulasies

Caster Semenya van Suid-Afrika (voor) (Foto: Tobias Ginsberg/ANA)

Die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) moes die afgelope week bontstaan om vrae te beantwoord nadat die internasionale hof vir sportarbitrasie (CAS) sy regulasies oor vroueatlete bekragtig het.

Die IAAF glo dat atlete – soos Suid-Afrika se Caster Semenya – welkom is om aan die mansafdeling van die sport deel te neem as hulle nié bereid is om medikasie te gebruik om hulle testosteroonvlakke te verlaag nie. Die vereniging sê dit is enige atleet se reg om nié behandeling te ondergaan nie, maar dat sy dan nie toegelaat sal word om aan die beperkte items deel te neem nie.

Die besluit het groot kritiek ontlok, onder meer van die Wêreld- Mediese Vereniging (WMA) wat in ʼn ope brief aan die IAAF sy eie lede gevra het om nié die vereniging se regulasies te implementeer nie en gevra het dat dit geskrap word.

Die internasionale atletiekliggaam probeer “hiperandrogene atlete” en persone met “verskille in seksuele ontwikkeling” (DSD) dwing om behandeling te ontvang om hul testosteroonvlakke te verlaag tot ʼn voorgeskrewe syfer as hulle steeds as vroue wil deelneem. Die IAAF hou vol dat dié reëls nodig is om ʼn gelyke speelvlak vir ander vroueatlete te verseker.

Die IAAF sê tieners wat as vroue grootgemaak word, maar ʼn manlike puberteit ervaar, moet volgens riglyne vir DSD ʼn omvattende ondersoek ondergaan sodat duidelik verkry kan word oor die persoon se geslagsidentiteit.

Die IAAF het die afgelope week weer sy besluit probeer verduidelik en het antwoorde verskaf oor van die vrae daaroor wat die meeste gevra is (sien onderaan).

Die IAAF sê die bemagtiging van vroue en meisies deur atletiek is een van sy sleutelbeginsels. Weens die uitwerking van testosteroon op die liggaam ná puberteit is mans gewoonlik groter, sterker en vinniger as vroue en om dié rede word die vroueafdeling beskerm.

“Dit is ook hoekom individue, wat as vroue identifiseer maar wat seksueel verskillend ontwikkel (wat beteken hulle het dieselfde voordele bo vroue as wat mans bo vroue het), ʼn probleem kan skep in dié beskermde kategorie.”

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die IAAF sê die regulasies is ingestel om billike mededinging vir alle vroue te verseker en dit moet om dié rede verdedig word.

Die CAS het die beginsels boonop bekragtig en hoewel die hof bevind het dit ís diskriminerend, is die diskriminasie ʼn nodige, billike en proporsionele manier om te verseker dat geen atleet in vroueatletiek ʼn onregverdige voordeel het nie.

Wat betref die menseregte van atlete, sê die IAAF hy is verbind tot gelyke behandeling en nie-diskriminasie in sport, hetsy op grond van geslag, ras, godsdiens- of geloofsbeskouing, of enige ander onverwante faktor. Die IAAF sê menseregte is ʼn omvattende term vir ʼn verskeidenheid regte wat alle mense het.

“Dit beteken egter nie daardie regte is absoluut, onaantasbaar of heilig nie. Byvoorbeeld, en soos in dié geval, is die reg teen diskriminasie of ongelyke behandeling nie volstrek nie: Diskriminasie of ongelyke behandeling kan steeds wettig wees, as die reël of beleid nodig is en ʼn proporsionele manier is om ʼn wettige doelwit te bereik.

“In dié geval het die CAS-paneel bevind die DSD-regulasies is ʼn nodige, billike en proporsionele manier om die IAAF se wettige doelwit van vrye en sinvolle mededinging onder vroueatlete te verseker.”

Die nuwe regulasies het gister in werking getree.

Top 12 vrae en die IAAF se verkorte antwoorde oor DSD-regulasies

  1. Watter atlete word deur die DSD-regulasies geraak?

Die regulasies geld vir individue wat wettig vroue (of interseks – deels manlik, deels vroulik) is en wat een van ʼn aantal gespesifiseerde DSD’s het, met ander woorde hulle het:

manlike chromosome (XY) en nie vroulike chromosome (XX) nie;

testes en nie eierstokke nie;

ʼn testosteroonvlak in die manlike klas (7,7 tot 29,4 nmol/ℓ) en nie in die (veel laer) vroulike klas (0,06 tot 1,68 nmol/ℓ) nie;

die vermoë om testosteroon in hulle liggame te gebruik (hulle is dus androgeen-sensitief).

  1. Wat moet sulke atlete doen om in die vroueafdeling te mag deelneem?

Indien hulle nie op internasionale vlak meeding nie, hoef hulle niks te doen nie en kan hulle sonder beperking deelneem.

Op internasionale vlak (in items tussen 400 m en ʼn myl) moet hulle testosteroonvlakke tot minder as 5 nmol/ℓ verminder word. Dit is die hoogste vlak wat ʼn gesonde vrou met eierstokke sal hê. Dié vlak moet ses maande lank gehandhaaf word en dan ook wanneer hulle op internasionale vlak aan een van die items deelneem.

In enige van die ander items kan hulle sonder beperking deelneem.

Atlete kan op verskeie maniere hulle testosteroonvlakke verlaag, deur onder meer voorbehoedmiddels te gebruik of hulle testes te laat verwyder.

  1. Hoekom geld die regulasies vir items tussen 400 m en ʼn myl?

Gegrond op wetenskap, glo die IAAF dat sogenaamde 46 XY-atlete ʼn voordeel in álle items sal hê, omdat hulle testosteroonvlakke in die manlike kategorie val. Studies wys egter dat die gróótste voordeel van verhoogde testosteroonvlakke verkry word in baan-items wat oor ʼn afstand van tussen 400 m en ʼn myl plaasvind. Om dié rede geld die nuwe regulasies net in dié items. Dit kan egter aangepas word as nuwe navorsing dit regverdig.

  1. Gaan die 1 500 m- en myl-items vrygestel word, soos wat die CAS voorgestel het?

Nee. Die internasionale hof vir sportarbitrasie het gevra dat ons dit doen, maar ons glo daar is genoeg bewyse om die items by die regulasies ingesluit te hou. Ons het meer data oor die 400 m en 800 m, maar dit word algemeen aanvaar dat ʼn elite 800 m-atleet ook oor 1 500 m en ʼn myl sal uitblink. Die regulasies bly onder hersiening.

  1. Hoe gaan die IAAF die bepalings toepas?

Die bepalings bevat gedetailleerde bepalings vir die vertroulike ondersoek van enige nuwe gevalle. Atlete wat in September aan een van die beperkte items by die Wêreldkampioenskap in Doha wil deelneem, moet bewys dat hulle testosteroonvlakke op die aanvaarbare vlak is.

Hoewel ʼn atleet dié vlak normaalweg vir ses maande voor deelname aan die items moet handhaaf, geld die bepaling tydens die oorgangstydperk nou net van 8 Mei (toe die regulasies in werking getree het).

  1. Wat is die IAAF se reaksie op bewerings dat die medikasie wat die vereniging voorstel, skadelike newe-effekte het?

Die CAS het bewyse aanvaar dat ʼn 46 XY-atleet haar testosteroonvlakke tot onder 5 nmol/ℓ kan verlaag deur gewone voorbehoedmiddels te gebruik. Dit kan ongewenste newe-effekte hê, maar dit is nie anders was wat duisende, indien nie miljoene nie, ander XX-vroue ervaar.

Kortliks, newe-effekte is ʼn risiko wanneer enige medikasie gebruik word.

Die uitwerking van sommige medikasie kan met newe-effekte verwar word, maar is eintlik die bedoelde uitwerking van behandeling om testosteroonvlakke te verlaag. Dit sluit in ʼn verlies aan spiermassa, ʼn verlaging in die hemoglobienkonsentrasie en ʼn toename in vetmassa.

  1. Hoekom teiken julle een atleet? Hoe groot is die probleem in sport?

Sommiges glo ons teiken net een individuele atleet, maar dit is onwaar. Die IAAF word gereguleer deur streng vertroulikheidsmaatreëls en kan nie, en gaan ook nie, die getal atlete wat hierdeur geraak word, óf hulle name, bekend maak nie.

Oor die afgelope dekade het navorsing gewys nagenoeg 7,1 uit elke 1 000 elite vroueatlete is DSD-atlete met testosteroonvlakke in die kategorie vir mans. Die meerderheid van dié atlete neem deel in die beperkte items wat deur die regulasies geraak word.

Die voorkoms van DSD-individue onder elite atlete is 140 keer hoër as onder die gewone vrouebevolking en hulle teenwoordigheid op die podium is selfs hoër as dít. Die CAS het aanvaar dat dit in statistiese terme wys dat sulke atlete ʼn voordeel het.

  1. Hoekom fokus die IAAF op testosteroon en nie ander genetiese verskille soos beenlengte, lengte of armspanwydte nie?

Dis waar dat elite sport genetiese verskille vier. Die enigste verskille wat elite sport nié vier nie, is die genetiese verskil tussen mans (met die manlike chromosome XY) en vroue (met vroulike chromosome XX). XY-chromosome produseer testes wat testosteroon in die tipiese manlike kategorie produseer en aan mans hulle groter en sterker bene en spiere gee en lei tot hoër hemoglobienvlakke. Dít gee aan hulle ʼn enorme voordeel bo vroue.

Almal stem saam dat daar afsonderlike kategorieë vir mans en vroue moet wees sodat die genetiese verskille nie uiteindelik die uitslag (van ʼn item) bepaal nie.

Ons reguleer 46 XY-DSD-atlete omdat daardie genetiese verskil dit onregverdig maak vir mans om teen vroue deel te neem, maar dit dan ook onregverdig is vir 46 XY-vroue om teen ander vroue deel te neem.

  1. Daar is besware dat die navorsing en data waarop die regulasies gegrond is, foutief is. Hoe sterk is die navorsing?

Die IAAF se mediese span en talle ander kenners het artikels hieroor gepubliseer en dit vorm ʼn deel van die grondslag vir die bepalings. Nog ʼn gedeelte is die wetenskaplike waarneming van DSD-gevalle in atletiek, sowel as die vertoning van DSD-atlete wanneer testosteroon onderdruk word, nie onderdruk word nie en weer onderdruk word.

Die CAS het toegegee dat hoewel die navorsing, weens metodologiese redes, nie omvattend is nie, dit steeds geldig en toelaatbaar is.

  1. As ʼn DSD-atleet nasionaal meeding sonder om medikasie te gebruik en die wêreldrekord in een van die beperkte items breek, gaan die rekord bekragtig word?

Nee, die wêreldrekord sal nie goedgekeur word nie. Die bepalings maak dit duidelik dat ʼn DSD-atleet daaraan moet voldoen (en haar testosteroonvlak moet onderdruk) sodat ʼn wêreldrekord in ʼn beperkte item opgestel kan word by ʼn byeenkoms wat nie ʼn internasionale een is nie.

  1. Wat gebeur as die bepalings ingevolge verskillende lande se wetgewing betwis word?

Ons sal enige aansprake wat op nasionale of internasionale vlak gemaak word, verdedig, ook op regsgronde, indien nodig. Hierdie is internasionale sportregulasies en moet dus wêreldwyd ooreenstemming bring. Dit is ook waarom die reëls bepaal dat dispute deur die CAS geskik moet word.

Die CAS het bevind die diskriminasie in die bepaling is geregverdig en dat biologiese werklikheid in dié geval geslagsidentifisering troef. Die bevinding moet gerespekteer en deur nasionale howe gehandhaaf word.

  1. Die Wêreld- Mediese Vereniging (WMA) het sy lede gevra om nie die IAAF-bepalings te implementeer nie en vra dat dit teruggetrek word. Wat is die IAAF se reaksie daarop?

Ons het aan die WMA en sy raadslede geskryf en dit duidelik gemaak dat die bepalings nie op ʼn enkele studie gegrond is nie, maar onder meer op 15 jaar se waarneming en navorsing op die veld. Ons het ook uitgewys dat die verlaging van 46 XY DSD-individue se testosteroonvlakke deur ʼn voorbehoedpil (of ander manier) te gebruik, die standaardbehandeling is van 46 XY DSD-individue wat as vroue identifiseer, of hulle nou atlete is of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Gert ·

Die IAAF is meer as tegemoetkomend met hierdie regulasies. Ek kan my nie indink dat enigiemand ‘n probleem daarmee kan hê nie, behalwe mense wat glo aan onregverdige bevoordeling.

Coenraad Pretorius ·

Al haar SA rekords moet kanselleer word, medaljes moet terug gegee word asook haar prysgeld moet terug betaal word en vir die kwalfiserende atlete gegee word

Joek ·

Dit is 100% korrek! Moenie nou begin back down omdat mense moan nie. Hou by die beslissing! Dié moes al lankal terug gebeur het. As jul Caster weer toelaat, hoop ek die vroue atlete boikot en neem nie deel nie.

Nika ·

@joek hoekom moet hulle boikot as sy weer deelneem? sy mag deelneem sodra sy haar testosteroon vlakke verminder, sy is n atleet hoekom haar weerhou van haar talent? ek is seker sy sal nogsteeds goed doen as sy besluit om nog deel te neem.

Koos ·

Dus kan enige gemidelde manlike atleet (xy) testosteroon beperkende middels gebruik en groot geld maak uit vroue atletiek.

Harrie ·

Dit is belangrik dat mense sal verstaan dat Caster haarself nie gemaak het nie, ongeag hoe sy sommige mense kan laat gril of met weersin kan vervul.Sy het die lewe se “Suurlemoene ” wat sy toegedeel is, geneem en “Lemonade” gemaak. Die IAAF is nie konsekwent nie.Eers plaas hulle verbod op steroides, en nou skryf hulle dit voor.Kom ons vergeet van wie en wat Caster is, hoe sy lyk en mense laar geil of wat ook al…en kry die regte reëls op die regte manier in plek, en meet almal dan op dieselfde manier daarvolgens…

Wa ·

Harrie, eerlikwaar dit gaan nie daaroor of sy haarself gemaak het of nie. Caster ding mee teen ander vroue atlete wat netso hard indien nie harder moet oefen as sy nie. Sy het ‘n natuurlike voordeel wat baie duidelik nie regverdig is teenoor die ander atlete nie. Verder skryf hulle glad nie steroides voor nie. Lees die artikel weer. Wat die IAAF juis nou doen is om die regte reels in plek te stel sodat ALMAL daarvolgens gemeet kan word. Dit gaan my verstand te bowe, eerstens dat meeste mense hierdie sien as ‘n persoonlike aanval op Caster, dit is nie en tweedens, dat mense nie die onregverdigheid van haar “kondisie” kan insien nie.

My se ·

As ‘n vrou aan internasionale sport deelneem, onderwerk jy jouself outomaties aan die reels. Caster se testostoroon vlak is natuurlik gelykstaande aan die van ‘n man. Dit kan tog nie ‘n regverdige kompitisie wees vir haar mede atlete nie. Sy moet maar aan die mans se items gaan deel neem. oh wag daar gaan sy nou nie medaljes verower nie want haar hardloop tye is dan net gemiddeld. Mense sal nou verskil van my, maar dit is maar net my opinie. Ons almal is geregtig op een.

Pieter du plessis ·

Dit is regverdig ,hoekom moet n klomp atlete ly oor een ,wat reg is is reg.

Andreas ·

Dit is hoogtyd dat hierdie aspek tot ‘n einde kom, moes eintlik van meet af reg hanteer gewees het met oor en weer beskuldigings. Dit het net onnodige reaksies van mense oor die jare ontlok, veral in SA wat niemand in die diverse land goed gedoen het nie.

ryan ·

Ek het geen,maar geen tyd vir die een nie. Daar is BAIE belangriker dinge in die land as om die een se probleme te volg.
Soos ek voorheen genoem het.. Iemand gee om. Nie ek nie, maar daar is wel iemand..

Alida ·

Moes lankal teen mans meegeding het maar dit het hulle jare gevat om dit agter te kom. Die ander atlete is erg te na gekom.

Gaitsigubib ·

Waarom al die hormoonbehandelings neem? Laat die natuur sy loop neem en stel deelname in teen mans. Dan sy ek my hoed afhaal vir n medalje. Waarom sal dit nie regverdig wees nie?

Babertondaisy ·

Exactly maar dan was hy nie “our golden girl” ala ANC nie dalk eerder “son of the soil”……ala Julias….minus die geld en medaljes en borgskappe.

Thinus Erasmus ·

As mense hul emosies eenkant skuif en na realiteit en feit kyk. Ja alles is nie swart of wit nie, daar is baie grys tussen in, en dan maak mense nog menslike foute om die grys reg te probeer klassifiseer, of om die wit of swart grys toe te gooi.
Realiteit 1 is: Caster is nie eenvoudig man of vrou nie, let wel ek se nie natuurlik of normaal nie, want die natuur het bepaal dat Caster is soos dit is.
Realiteit 2 is: Daar is twee algemene klassifikasies in die meeste sport: mans en vrouens.
Realiteit 3 is: Daar is nog altyd gepoog om die tussen-geslagtelike atlete te akkomodeer in enige een van die groepe, maar die 4de realiteit is dat dit soms onregverdig of verkeerdelik toegepas word.
So dit maak nie saak hoe Caster grootgemaak is of voel of sosialiseer nie, dit gaan oor hoe die die reel en die regverdigheid die situasie moet hanteer.
Daar sal maar ‘n nuwe basis ontwikkel moet word om sulke atlete wat nie wil of kan indeel by mans of vroue kategorie nie, te kan akkomodeer, net soos met die gestremde deelnemers vlak.
Ek meen, ‘n persoon wat gehoor gestrem is kan tog nie wil op gelyke basis deelneem teenoor ‘n blinde persoon in tennis nie!
Net so is dit onregverdig teenoor biologies natuurlike vroue om teen ‘n man wat homself graag as vrou gedra, deel te neem in stoei, of atletiek ens.
Onthou realiteit vereis redenasie, nie emosie.

EDT ·

As dit hulle manier is om dit regverdig te maak, moet dit sekerlik geld vir alle atletiekitems? Wat vir 1 geld moet vir almal geld, dit is wat my briesend maak.
Moenie vir my sê van daardie gewigstoot, hammergooi en diskus dames uit die ou oosbloklande val almal binnie die aanvaarde testostoroon vlakke nie…. daar is geen manier nie. Ek glo hulle het sekere items gekies net om ‘n punt te bewys.

Frans C ·

Niemand beantwoord die vraag of die hoë testosteronevlakke by haar ‘n natuurlike of onnatuurlike verskynsel is is.Vrouens produseer ook testosteroon maar teen laer vlakke
as mans.

Nou is dit ‘n feit dat testosteroonvlakke besig is om te daal en testosteroon byvoegings
sedert 2012 vyfvoudig toegeneem het.Die feit dat sy oor meer van die sekshormoon beskik bekend beter spiermassa en beter rooiselproduksie het.

Soos ons as mans ouer word daal die vlakke ,baie keer op vlakke laer as sommige vroue.
Maar dit beteken nie dat ons nou teen hul kan deelneem nie.Laat ek ‘n klip in die hoenderhok gooi, die debat het begin toe die Britte se groot hoop Lynsey Sharp gehuil het hoe onregverdig dit is om teen Semenya te hardloop toe sy sesde in 800 meter
in 2016 in die Olimpiese spele gekom het.

Snaaks dat ander lande se atlete nie so baie geneul en getank soos sy het nie.

Alida Engelbrecht ·

Ek praat nou onder korreksie, maar soos ek verstaan is Caster gebore as n seun. Daar was egter dele van die geslagsorgane wat nie “afgesak” het nie, en daarom het die vroedvrou gese dis n dogter. Caster se liggaamsbou en stem is duidelik manlik. Sy self het op skool die seunsdrag gedra. Ek onthou toe sy pas beroemd geraak het, het verslaggewers by haar ou skool gaan hoor wat die kinders dink van hul skoolmaat wat so beroemd is. Die kinders was verbaas omdat daar na “haar” verwys word terwyl hulle weet dat sy n seun is. Nou is dit mos onregverdig dat meisies moet meeding teen n man in die wedstryd.

alwyn burger ·

Caster het ongewone voordeel. Nie onregverdig want die natuur is amoreel. Sy is doodgewoon sterker en vinniger as fisies-gewone vroue. Sy moet kompeteer teen die wat die natuur soortgelyk geskep het.Diegene wat haar bestuur en laat deelneem is wreed

Andreas ·

My probleem is dat ek soos ander mense oor te veel inligting beskik en wil ‘n skakel na ‘n artikel ter stawing oplaai, word die kommentaar nie deur Maroela geplaas nie. As ek die kommentaar weer stuur, kan ek sien Maroela ignoreer dit net, so asof hulle ‘n blok op my gesit het. Dit kom ek nou al vir baie lank agter, seker langer as ‘n jaar of twee, want kyk as mens nie self in diepte kennis oor ‘n onderwerp, veral as dit tegnies is, beskik nie, vat mens maar ‘n kans selfs al staan daar Dr of Prof voor daardie persoon se naam.

Andrea ·

Andreas, my gewaarwording van Maroela ook. My gevoel is as dit klink of jy weet waarvan jy praat, of beredeneerd feite stel, word jou kommentaar nie geplaas nie.

L ·

Wens party mense wil ophou kerm oor die sg oosbloklande wat lankal nie meer bestaan, nie, daardie atlete is gedwing om sekere hormone en ander middels in te neem , self het hulle nie eers geweet wat dit altyd is nie. Daar is n helse verskil tussen hormoonvoeding en natuurlik gebore met xy chromosome soos Caster. Ek verkwalik persoonlik die besture van haar provinsie en later ASA dat hulle nie reeds van die begin af haar as seun laat deelneem het nie. Hulle het presies geweet en baie atlete het toe al gekla.Nou sal dit maar dmv reels gereguleer word. So terloops, volgens IAAF was die eerste 3 atlete in die 2014 800m al 3 skynbaar dieselfde probleem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.