Dít moet jy weet oor ‘nuwe’ Sassa-betalings

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het ʼn ooreenkoms bereik rakende die uitbetaling van maatskaplike toelaes.

Só het Jeff Radebe, minister in die presidensie wat verantwoordelik is vir beplanning, monitering en evaluering, Sondag aangekondig.

Die nuwe “hibriede stelsel” sal ook voorsiening maak vir deelname deur vennote, soos ondernemings en kommersiële banke, in die uitbetaling van die maatskaplike toelaes aan begunstigdes.

Dié ooreenkoms wat op 7 Desember onderteken is, maak voorsiening vir die infasering van Sapo as die diensvoorsiener en ook een van die sleutelkanale waardeur toelae betaal sal word.

Die doelwitte van die nuwe stelsel sluit in aanpasbaarheid vir begunstigdes in terme van toegang tot hul betalings, konsekwentheid in die begunstigdes se ervaring rondom die betaling van toelaes ongeag die kanaal waardeur dit gedoen word, voorsiening vir ʼn betaaldiens binne Sassa se regulatoriese omgewing, toegang tot toelaagbetalings in selfs die mees afgeleë dele van die land, betroubaarheid van die betaaldiens en die beskerming van die waardigheid van alle begunstigdes.

Bedrog en korrupsie sal verminder word deur konsekwente betalings van die regte bedrag aan die regte persoon. Bewys van lewe sal integraal deel wees van die betaalproses asook die versekering dat een mens nie meer as een keer op die stelsel geregistreer word nie.

Radebe het gesê die nuwe stelsel sal ook die uitgawes van Sassa en die begunstigdes verminder, wat die fiskus aansienlike onkoste sal bespaar.

Die implementering van die plan maak voorsiening vir vier hoofkanale waardeur begunstigdes reg oor die land hul toelae sal ontvang. Dit is betalings deur bankrekeninge van die begunstigdes se keuse van kommersiële bank, deur handelaars in groothandelwinkels, deur die poskantoor of die posbank en deur sekondêre handelaars soos byvoorbeeld algemene handelaars en spaza-winkeltjies.

Sassa het ʼn vyfjaar-faseplan aanvaar.

Fase 1 behels die betaling van toelae vanaf April 2018 en die uittrede van Cash Paymaster Services (CPS) as diensverskaffer. Fase 2 behels die implementering van die hibriede model wat aandag gee aan die voorskrifte van die grondwethof (jaar twee en drie) en Fase 3 sluit die ontwikkeling van die Sassa-inkontrakteringsinfrastruktuur in (jaar vier en vyf).

Radebe het gesê die hoofkwessies waarvan die begunstigdes moet kennis neem soos die implementering begin, is:

  • Die begunstigdes wat die toelae deur bankrekeninge ontvang het se bankbesonderhede is aan Sassa beskikbaar en toelae sal van 1 Januarie 2018 direk deur Sassa in hul bankrekeninge inbetaal word.
  • Daar is ʼn opsie vir begunstigdes om na ʼn spesiale laekoste-bankrekening te skuif vir die betaling van toelaes.
  • Die nagenoeg 2,9 miljoen mense wat hul toelae in kontant by sowat 10 000 betaalpunte landwyd ontvang, sal dit voortaan steeds so kan doen. Sassa sal ʼn mededingende tenderproses van stapel stuur om die diens van ʼn diensverskaffer te verkry vir kontantverspreiding by betaalpunte.
  • Sassa en Sapo sal ʼn verifiëringsproses van stapel stuur om die kartering van Sassa van betaalpunte en Sapo-takke te verifieer.
  • Sassa en Sapo sal saamwerk oor die uitvoering van die biometriese verifikasie van begunstigdes deur te skakel met die Hanis (binnelandse sake se nasionale identifikasiestelsel). Sassa sal die biometriese data van alle begunstigdes in sy besit verifieer en dit na Sapo oorplaas vir oplaai vir gebruik tydens betaling.
  • Sassa sal kapasiteit skep om die insluiting van nuwe begunstigdes by CPS oor te neem.
  • Sassa en Sapo sal liggings identifiseer waar nuwe kaarte aan begunstigdes uitgereik sal word. Begunstigdes sal in kennis gestel word waar hulle hul nuwe kaarte kan afhaal.

Die regering sal ʼn reuse- kommunikasie- en opleidingprogram van stapel stuur wat dit ten doel het om inligting oor die keuse van betaalkanale sowel as spesifieke vereistes waaraan begunstigdes moet voldoen deur te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alida ·

Dit gaan jare neem om die korrupsie wat al jare bestaan uit te wis en die dooie mense van die stelsel af te kry. Arme SAPO.

John ·

Die vorige instansie is nie verniet deur die hof as onbevoeg verklaar nie, maar die minister hou van hulle om eie duistere redes. Waarom Sassa-begunstigdes nie die bedrae in hul bankrekeninge in wil betaal nie, is ‘n goeie vraag. Party is dalk rykes wat hulle wil erken en het moontlik ‘n voltydse werk.

Lourens JvRensburg ·

Nee John, ons kan nie die bank kostes bekostig nie.

Coen ·

Ek is 80½jr oud, weens swak gesondheid aan ‘n rolstoel gekluister. Kan nie loop of staan nie. Vervoer is dikwels ‘n probleem. Dit sal gaaf wees as my toelae in my bankrekening inbetaal word want ek doen gevolglik my finansiële sake hoofsaaklik per internet bankdienste.

Attie No1 ·

Ha ha die poskantoor, dit is vrek snaaks, hulle kan nie eens n pakkie aflwer nie.

Praat Saam ·

Net jammer dat hulle nie eers n lisensie papier kan print oor hulle nie n cartridge het nie.

Ina Cripps ·

My pensioentoelaag was voor die kaartstelsel ingebring was in my bankrekening inbetaal, wat baie goed gewerk het, maar nouja, toe toering hulle aan die stelsel, en met groot ongerief moes ek elke maand my toelaag gaan trek by een van die kommersieële banke, en die gevaar loop om beroof te word met die kontant in my beursie. ( ek is 82jr oud).
Ek wag baie benoud om te hoor wat ek nou sal moet doen om my maandelikse toelaag te kry.

Celia ·

Dankie Maroela vir die info. Ek is n Sassa pensioenaris. Kan julle dalk uitbrei en vir ons se wanneer die nuwe kaarte (en waar) gekry kan word in 2018? Maroela se info altyd korrek, baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.