Dít moet jy weet van Covid-19

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die eerste bevestigde gevalle van die gevreesde nuwe koronavirus bekend as Covid-19 is vandeesweek in Suid-Afrika aangemeld. Dít is wat jy moet weet oor die virus.

Wat is Covid-19?

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-hospitaalgroep, sê Covid-19 is een van verskeie koronavirusse wat by diere geïdentifiseer word. Slegs ʼn klein aantal koronavirusse kan egter na mense oorgedra word.

Die eerste geval van Covid-19 is in Wuhan in China se Hubei-provinsie aangemeld. Volgens Friedland word die meerderheid pasiënte wat aanvanklik met Covid-19 gediagnoseer is, verbind met ’n plaaslike groothandelsmerk wat vleis en seekos verkoop. “Dit dui daarop dat die nuwe koronavirus moontlik van diere afkomstig is, maar ontwikkel het om siektes by mense te veroorsaak. Die spesifieke oorsprong van die virus is egter nog nie bekend nie,” sê Friedland.

Hoe versprei Covid-19?

Volgens Friedland word Covid-19 via respiratoriese druppels versprei wanneer ʼn besmette persoon hoes of nies. Die virus word dus nes griep en ander asemhalingsiektes onder mense versprei.

Prof. Wolfgang Preiser, ’n viroloog aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die aansteeklikheid van Covid-19 is matig. Dit beteken dat dit nié so aansteeklik soos waterpokkies of masels is nie.

Wat is die simptome van Covid-19?

Friedland sê simptome sluit in koors, hoes en asemhalingsprobleme. Die eerste pasiënt met Covid-19 het gekla van ’n seer keel en hoofpyn.

Friedland sê dat sommige pasiënte min tot geen simptome toon nie, terwyl ander ernstige asemhalingsprobleme ontwikkel wat tot longontsteking, sepsis en selfs orgaanversaking kan lei.

Volgens Preiser kan dit twee tot 14 dae duur voordat simptome sigbaar word, omdat die virus ’n inkubasietydperk van twee weke het.

Ons weet egter nie of almal uiteindelik simptome sal toon nie.

“Ons weet ook nie of pasiënte wat besmet word maar klinies gesond bly, wel aansteeklik is nie. Selfs sou diegene aansteeklik wees, sal hulle waarskynlik minder aansteeklik wees as dié wat wel simptome toon,” verduidelik Preiser.

Volgens die Wêreldgesondheidorganisasie gaan 3,4% van alle pasiënte aan die virus dood.

Preiser meen egter dié koers staan op 2%. Hy waarsku dat hoewel dié syfer nie so ernstig klink nie, dit wel in berekening gebring moet word met die groot hoeveelheid bevestigde gevalle reg oor die wêreld. Teen Vrydagmiddag was byna 98 000 bevestigde gevalle van Covid-19 wêreldwyd aangemeld en het meer as 3 300 mense reeds weens die virus gesterf.

Foto: (Chinatopix Via AP)

Wie kry Covid-19?

Dr. Jantjie Taljaard, ’n spesialis in infeksiesiektes aan US, sê hoewel enigiemand die risiko loop om Covid-19 te kry nadat hulle in kontak met ’n pasiënt gekom het, is mense ouer as 50 jaar, asook mense met chroniese mediese toestande beslis meer vatbaar. Ook diegene wat die afgelope 21 dae na lande gereis het waar die virus reeds aangemeld is, loop die risiko om die virus op te doen. Die virus is reeds in 87 lande aangemeld.

“Almal moet voorsorg tref. Jy mag dalk nie baie siek wees wanneer jy besmet word met die virus nie, maar jy kan die virus aan iemand anders oordra wat meer kwesbaar is en ’n groter risiko loop om aan die virus te sterf. Dit is eintlik veral diegene wat nié baie siek is nie en met hul daaglikse aktiwiteite voortgaan, wat die virus versprei,” waarsku Taljaard.

Hoe word Covid-19 behandel?

Net soos die geval met ander virusinfeksies is antibiotika nie ʼn effektiewe behandeling nie en is daar dus geen spesifieke antivirale behandeling beskikbaar nie, sê Friedland.

Hy verduidelik dat behandeling afhang van elke pasiënt se spesifieke simptome. ’n Pasiënt sal dus vir koors behandel word, waarna die behandeling aangepas word indien die pasiënt ’n infeksie opdoen. Antibiotika kan wel voorgeskryf word indien ʼn pasiënt ’n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel. Alle pasiënte moet tydens behandeling in kwarantyn gehou word.

Hoekom is daar nog nie ’n entstof nie?  

Preiser sê hoewel wetenskaplikes onverpoos aan ’n entstof werk, dit geruime tyd sal duur voordat ’n entstof op pasiënte gebruik kan word. Hy verduidelik dat entstowwe eers deur kliniese proewe moet gaan voordat dit aanvaar en op die publiek gebruik kan word. Preiser vermoed dat as ’n entstof nou geïdentifiseer word, dit eers in 2021 gebruik sal kan word.

Kwellende vrae

Moet ek steeds ʼn griepinspuiting kry?

Taljaard raai Suid-Afrikaners aan om wel ʼn griepinspuiting te kry. Hoewel die inspuiting jou slegs teen griep beskerm, sal dit wel die las van die land se gesondheidstelsel verlig. Dit sal ook verhoed dat jy onnodig in isolasie geplaas word om vir Covid-19 te toets, terwyl jy bloot griep onder lede het, verduidelik Taljaard.

Versprei die virus meer in koue lande as in warm lande soos Suid-Afrika?

Volgens Taljaard is daar geen bewyse wat toon dat temperatuur ’n rol speel in die verspreiding van Covid-19 nie. Die virus sal dus nie minder in ’n warm Suid-Afrika versprei teenoor ’n koue Europa nie. Ander koronavirusse verkies egter koue temperatuur, sê Taljaard.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Kamran Jebreili, AP)

Moet ek ’n masker dra?

Taljaard meen dit help nie om ’n masker te dra wanneer jy nié Covid-19 het of simptome van Covid-19 toon nie, tensy jy in nabye kontak is met ’n siek persoon (een tot twee meter) kom.

Diegene wat reeds siek is en veral hoes of nies, moet wel ’n masker dra sodat geen liggaamstowwe op mense of voorwerpe beland nie, sê Taljaard.

Algemene riglyne

  • Was jou hande gereeld met warm water en seep óf ’n wasmiddel met ’n alkoholbasis.
  • Moenie aan jou gesig vat voordat jy jou hande gewas het nie.
  • Handhaaf ’n veilige afstand van persone wat nies of hoes.
  • Vermy enige byeenkomste met ’n groot hoeveelheid mense.
  • Indien jy siek voel, moenie werk of skool toe gaan nie.
  • Dra ’n masker indien jy hoes, nies of siek voel.
  • Hou jou hand voor jou mond wanneer jy hoes of nies.
  • Moenie enige rou vleis of ander rou dierprodukte eet nie.
  • Moenie na lande met bevestigde gevalle reis nie tensy absoluut nodig.

Foto ter illustrasie (Foto: Xiong Qi/Xinhua, AP)

Hospitale

Friedland sê die Netcare-hospitaalgroep is slaggereed om Covid-19 by sy hospitale te pak.

Volgens Friedland moet alle besoekers voortaan hul hande was voordat hul ’n Netcare-fasiliteit besoek. Besoekers word ook mondelings getoets vir die virus voordat hulle die hospitaal kan binnegaan. Die toetse sal by Netcare-hospitale se hoofingange gedoen word. Personeel sal ook daagliks getoets word.

Die groep se hospitale wat nié oor ultraviolet (UV) ligte ontsmettingsrobotte beskik nie, sal so gou as moontlik met dié robotte toegerus word. Dit is bewys dat hierdie mobiele robotte uiters doeltreffend is om virusse, bakterieë en swamme te identifiseer en te vernietig.

Die groep beplan ook om besoektye en die aantal besoekers per pasiënt te beperk.

Die departement van gesondheid het intussen 13 hospitale reg oor die land geïdentifiseer om pasiënte met Covid-19 te behandel. Dié hospitale is:

o    Polokwane-hospitaal in Limpopo

o    Rob Ferreira-hospitaal in Mpumalanga

o    Charlotte Maxeke-hospitaal, Steve Biko-hospitaal en Tembisa-hospitaal in Gauteng

o    Grace-hospitaal in KwaZulu-Natal

o    Klerksdorp-hospitaal in Noordwes

o    Kimberly-hospitaal in die Noord-Kaap

o    Pelonomi-hospitaal in die Vrystaat

o    Livingstone-hospitaal in die Oos-Kaap en

o    Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

En hier is ‘n video wat jou sal help – die masker:
https://www.youtube.com/watch?v=qfO_OfmGOl0

Pampoen

Ek het nog die volgende vrae:
Is daar al mense wat gesond geword het?
Hoe lank kan dit neem om gesond te word?
As jy gesond word, kan jy dit ‘n tweede keer kry of is jy dan immuun?

Mieke

Bloemfontein?…. Pelonomi hospitaal? Dis maar bitter onveilig daar – reeds twee persone (personeel) in die hospitaal verkrag… Ek wil maar liewers gesond bly!!

ElizeK

Nou is ek regtig bekommerd. Tygerberg hospitaal in die Wes Kaap !! Is jul ernstig!! Daai plek val uit mekaar uit en is super onhigienies. Ek WEET, want my bejaarde suster was onlangs n pasient daar. Ek dood eerder in my eie huis voor ek weer my voete daar sit.
Te oordeel aan die lys van hospitale, gaan Covid 19 totaal buite beheer raak in SA.

msp

Ek sal ook eerder my self onder huis kwarintein plaas voordat na Rob Ferreira hospitaal moet gaan.