‘Dit reën Bybelverse’ ná motorfietskampioen in botsing sterf

Hendrik Potgieter en sy seun, Ronaldo. Foto: Facebook

Hendrik Potgieter en sy seun, Ronaldo. Foto: Facebook

“Hy is my boeta, ons mis hom verskriklik, maar ons is rustig want ons weet hy sit by die Here se voete”. Só sê ʼn boesemvriend van Hendrik Potgieter, ʼn 31-jarige motorfietskampioen, wat Maandag in ʼn botsing in Middelburg in Mpumalanga dood is.

Potgieter en sy vyfjarige seun, Ronaldo, het op die N4-snelweg gery toe hulle naby die Mandelarylaan-afrit teen ʼn taxi gebots en die bakkie gerol het.

Volgens ooggetuies het ʼn taxi glo skielik vir passasiers gestop. ʼn Voertuig wat tussen die taxi en Potgieter se bakkie gery het, kon daarin slaag om betyds uit te swaai, maar Potgieter se bakkie het teen die taxi gebots.

Potgieter is op die toneel dood. “As ʼn mens sien hoe daai bakkie lyk, weet ʼn mens God se hand was oor Ronaldo,” het Potgieter se jarelange vriend, Jaco Brits, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Een van die Bybelversies wat ná die ongeluk neergereën het.

Een van die Bybelversies wat ná die ongeluk neergereën het.

Potgieter het skaars ʼn week voor die tragedie, voor ʼn stampvol kerk in Pretoria, sy hart aan die Here gegee en was volgens Brits “aan die brand vir Jesus”.

“Hy het orals Sy boodskap verkondig en het vir mense gesê dat God jou sal aanvaar net soos jy is, maak nie saak watter foute jy al in jou lewe gemaak het nie,” het Brits gesê.

Potgieter het met ʼn pak Bybelversies in sy bakkie gery en ná die botsing het honderde Bybelversies op omstanders neergereën. “Self tydens sy dood het hy getuienis gelewer.”

Ronaldo is ná die ongeluk na ʼn hospitaal in Witbank geneem vir behandeling en waarneming. Hy is Woensdag uit die hospitaal ontslaan.

Hendrik laat sy vrou Chantelle, Ronaldo, dogter Marijanke (2), ouers, twee broers en twee susters agter.

“Ons almal mis hom baie, maar ons het vertroosting in ons hart en weet dat hy in die hemel is. Hy sal onthou word as ʼn man wat sy lewe vir Jesus Christus gegee het en wat voluit geleef het vir sy gesin, familie en vriende.”

Potgieter se roudiens is Maandag om 10:25 by die AGS Lighuis-gemeente in Aerorand.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeutjie ·

‘n Awesome mens! God het hom met ope arms ontvang! Ek het so ‘n groot deernis vir sy familie en ek bid dat die troos dat hy by God is hulle sal deurdra!

Suzette ·

Wat ‘n wonderlike getuienis vir die samelewing en wat ‘n wonderlike vertroosting vir sy familie. Hy is by sy Jesus. Mag die wete sy geliefdes deur hierdie moeilike tyd dra en genesing vir hulle seer bring. Baie sterkte aan almal.

monique.duxbury ·

As jy in witbank ry,is jou lewe in gevaar op ons paaie…hier is die taxi’s baas van die paaie.n paar jaar gelede nog n motorfiets ryer dood.taxi net gestop en hy in hom in,,en dit gebeur daagliks hier…wanneer gaan daar teen hul opgetree word..

Marietjie ·

Weereens ‘n taxi wat ‘n ongeluk veroorsaak en 2 jong kindertjies wat ‘n pa verloor. Gaan daar dan nooit teen hulle opgetree word nie of is die Verkeersdepartement en Polisie bang vir hulle. Innige simpatie aan die familie en sterkte met die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.