Dit sal Malema laat emigreer

EFF-leier Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

As die regbank ooit gepolitiseer word trek die EFF-leier Julius Malema reguit Mosambiek toe.

“Hoofregter Mogoeng Mogoeng en die regters van hierdie land dra Suid-Afrika se toekoms op hul skouers. Alte dikwels staan net die regbank tussen Suid-Afrika en mislukking – met die huidige toestand van die kabinet en die parlement is die regsprekende gesag eintlik die enigste wat funksioneer. As die howe gepolitiseer word, is dit verby met ons land,” het Malema vanmiddag gewaarsku.

Op ligter trant het hy bygevoeg: “Dan trek ek Mosambiek toe.”

Malema het ook tydens die mediakonferensie by die EFF se nasionale kongres, bekend as die volksvergadering, wat by Nasrec suid van Johannesburg plaasvind, ontken dat hy ʼn diktator is. Hy is daaroor met vrae gepeper deur joernaliste wat meen hy is besig om van die EFF ʼn blote afkaatsing van homself te maak, soos – so beweer sy kritici – hy gedoen het met die studente-organisasie Cosas en die ANC se jeugliga toe hy daar die leier was.

“My leierskapsposisies is dikwels in die verlede demokraties uitgedaag, en ek het daardie verkiesings telkens gewen. Die geheim van my sukses – hoekom ek telkens onbestrede herkies word – is doodgewoon omdat ek baie, baie hard werk.

“Ek weet ek kom van niks af nie. Toe ek klein was, het ek in my ouma se agtertuin gebly saam met my ma, ʼn epileptiese enkelouer wat as huisbediende gewerk het.

“Ek het myself van niks af opgebou, sonder hulp, danksy my vermoë om die politiek te peil (nie op die lae vlak van die spul narre wat hul politieke gevegte op Twitter voer nie), my vermoë om mense op grondvlak te mobiliseer en die feit dat ek harder werk as enige ander politikus in hierdie land,” het Malema aangevoer.

“Ek is al soveel keer afgeskryf; aan politieke doodsberigte oor my is daar geen gebrek nie. Dis soos hierdie VBS-ding – julle word deur jul verbeeldings mislei omdat julle so hard wens dit was waar,” het hy gesê.

Die EFF se topses-leierskap. Foto: EFF/Twitter

En dis ʼn geval van vandag Suid-Afrika, môre die wêreld as Malema sy sin kon kry, want die EFF wil nie net die regerende party in Suid-Afrika word nie. Die party wil die septer swaai in ʼn toekomstige Verenigde State van Afrika. Daarom is daar nou al EFF’s in verskeie Afrikastate, met die EFF Namibië wat onlangs sy eerste twee setels in die Namibiese parlement ingepalm het.

Hoewel die EFF meen pres. Cyril Ramaphosa misluk as president, het Malema gesê die party beplan nie om binnekort ʼn mosie van wantroue in die staatshoof by die parlement in te dien nie.

Hy het wel belowe 2020 gaan ʼn jaar van aksie uit die linkerspektrum van die politiek wees. “Ons gaan met vennote soos die vakbonde Numsa en Amcu saamwerk. Eskom sal nie verkoop word solank ons hier is nie. Ons nooi almal wat omgee oor die werkersklas om by ons protes aan te sluit,” het hy as duidelike flikker na Cosatu en die Magashule-groep in die ANC gesê.

Die eerste krake van ontevredenheid en aggressiewe verdeeldheid op die kongres het ook Sondag voorgekom. Die voormalige sekretaris-generaal, Godrich Gardee, het geweier om sy nominasie as lid van die sentrale bevelspan van die EFF (soortgelyk aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee of die DA se federale raad) te aanvaar, en in die vroeë oggendure het vier vroulike EFF-afgevaardigdes in die hospitaal beland nadat ʼn EFF-veiligheidswag traangas teen hulle gebruik het. Die veiligheidswag is summier afgedank.

Die EFF-kongres eindig vandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Ek dink nie enige land wil Malema hê nie. Geen land is só stupid nie…

Diertjie

Ag trek asb ek Sal jou trek betaal solank my net voetsek!!

Doep

Arme mosambiek!!

JohanR

Kan ons ooit enigsins hulp om jou gouer te hulp, om te emigreer? Ons kan almal saam loop soos Gandhi toe hy see toe is met die Sout Mars. Daar by Beit Brug of enige grenspos wat jy kies, kan ons almal groot trane huil, en jou afskeid waai. Dit sal makliker vir ons almal wees as jy liewer daar by See Punt in die see in loop, en die land verlaat. Dan kan ons na die naaste kroeg toe aftree, en lekker gesuip raak! Kan ek Fireman’s Arms voorstel? Dit het onlangs amper afgebrand, maar die kos en drank… Lees meer »

Michael P

Trek sommar more!!!!