‘Dit voel of ek my kind weer moet begrawe’

Corné Hale. Foto: Facebook.

Die ma van wyle Corné Hale wat in 2011 dood is, is gebroke nadat die man wat van Corné se dood aangekla is Maandag in die Bellville-streekhof vrygespreek is.

Corné was in matriek ten tyde van sy dood. Willem Botes, wat in hegtenis geneem en aangekla is in verband met Corné se dood, was  24 jaar oud destyds.

Botes is aanvanklik van moord aangekla, maar die aanklag is later na strafbare manslag verander.

“Die dag toe Corné dood is, het iets in my hart gebreek. Maar toe ek gister in die hof die woorde ‘not guilty, case dismissed’ hoor, is my hart stukkend vertrap,” het Hester Hale, Corné se ma, vertel.

Volgens Hester het Corné ʼn baie ernstige skedelbreuk opgedoen nadat hy geslaan en geskop is. Dokters kon nie op hom opereer nie en hy is op 26 November 2011 in die hospitaal oorlede, ‘n dag ná die aanval. Hy was ʼn matrikulant aan die Hoërskool Tygerberg in Parow.

“Hy is geslaan en geskop. Daar was ooggetuies wat nou beweer my kind was die aggressiewe een. Hulle beweer hulle is aangerand voor hulle my seun geslaan het. Dit is nie so nie.”

Corné se pa het glo altyd vir sy seun gesê: “Moenie betrokke raak by ʼn bakleiery nie, iemand val net verkeerd en jy’s ʼn moordenaar.” Volgens Hester is Corné se pa ook gebroke.

“Dit voel asof ek my kind gefaal het. Dit voel of ek my kind weer moet begrawe. Die dag toe hy dood is het ek gesê ek wil saam met hom doodgaan. Sy klein boetie het agter my gestaan en gesê: ‘Mamma, wat van my?’ Wat gaan ons nou maak? Mense wat al boeties of sussies verloor het, het al vir my gesê hulle kon daardie dag die pyn in hulle ma se oë sien. Sy boetie sal nou ook dit kan sê.”

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig Botes het ʼn aansoek om ontslag gebring en dat dit toegestaan is.

Hester het gesê sy sal probeer uitvind van verdere regstappe wat dalk geneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.