‘Dit was Dawid teen Goliat’ – Liberty Fighters Network-stigter oor dáái hofsaak

Reyno de Beer (Foto: Verskaf)

“Ons het verwag dat ’n politieke party of ’n stigting hof toe sou gaan. Dit het nie gebeur nie en toe besluit ons ons sal dit maar doen.”

Só vertel Reyno de Beer, die man agter die Liberty Fighters Network wat die hofaansoek teen die regering gebring het om die afsonderingsregulasies vir risikovlak 3 en vlak 4 as ongeldig en ongrondwetlik te laat verklaar. Die hof het in hul guns beslis en die regering 14 dae gegee om die regulasies te wysig. Maroela Media het vroeër berig die regering het aangedui dat hy gaan appelleer teen die hooggeregshof se uitspraak.

“Dit was ’n tipiese Dawid-en-Goliat-geval,” verduidelik De Beer, ’n pa van twee en voltydse aktivis van Pretoria, Woensdag aan Maroela Media.

De Beer het die Liberty Fighters Network reeds in 2015 op die been gebring. Hy vertel dat die groep, wat op donasies staatmaak, al vantevore ’n hofaansoek oor beweerde korrupte regters ingedien het. Dié sake het op die tafel van die hoofregter, menseregtekommissie en die grondwetlike hof beland. Geen hofaansoek deur die Liberty Fighters Network het egter al soveel aandag getrek soos sy hofaansoek om die afsonderingsregulasies ongrondwetlik te laat verklaar nie, erken De Beer.

“Ons is maar ’n klein drukgroep en het voor die algehele landwye afsondering sowat 500 amptelike lede en 2 000 ondersteuners gehad. Sowat 95% van ons ondersteuning kom van swart mense. Dit is nie dat ons net swart mense as lede kies nie, dit blyk wel asof wit mense minder sukkel met die kwessies waarmee ons werk,” verduidelik De Beer. Dié kwessies sluit in uitsettings en huurdispute.

Volgens De Beer het hul lede dus veral swaargetrek gedurende die algehele landwye afsondering. “Teen middel April was baie van ons lede uit hul blyplek gesit of hulle elektrisiteit is afgesny. Ons het sowat 3 000 klagtes van huurders ontvang. Dié klagtes het van oral gekom, al is ons hoofsaaklik in Gauteng aktief. Dit het so erg geraak, ons kon nie almal help nie.”

De Beer verduidelik dat die groep se lede natuurlik ook nie meer donasies aan die Liberty Fighters Network kon maak nie en hy het self agterstallig geraak met sy huurgeld en kind se skoolgeld.

“Die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het, was ’n groep haarkappers wat ons genader het omdat hulle nie gedurende die algehele afsondering kan werk nie. Baie van dié mense is enkellopende ouers.”

Dit is toe dat De Beer aan die begin van Mei besluit het om ’n hofaansoek te bring teen die regering oor die streng afsonderingsregulasies. Die hofaansoek is middel Mei by die hooggeregshof ingedien.

“Baie mense dink jy moet ’n prokureur hê om hof toe te gaan. Dit is nie so nie. Enigeen kan sy saak in die hof baklei. Dit kos ook niks om ’n hofaansoek by die hooggeregshof in te dien nie,” verduidelik De Beer.

Ja, die groep se enigste uitgawe was die drukwerk en fotostate van die hofaansoek aangesien die prokureur Zehir Omar bereid was om die Liberty Fighters Network pro bono te help met hul aansoek.

De Beer het wel self die groep se saak in die hof gestel en toe bevind die hooggeregshof dat die regering se afsonderingsregulasies vir risikovlak 3 en vlak 4 ongeldig en ongrondwetlik is.

“Ek het op en af gespring en gehuil van blydskap toe ek die nuus gehoor het. Ek het geweet dit is ’n groot ene,” vertel De Beer nou. Die eerste verslaggewers het binne vyf minute ná die nuus gebreek het, gebel.

Appèl

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

“Ons het vermoed dat die regering gaan appelleer. Dit is die logiese benadering, maar ons het nie gedink dat die regering so dom sou wees nie aangesien die uitspraak deur Suid-Afrikaners verwelkom is. Dit is eintlik ’n klap in die gesig van die mense van Suid-Afrika.

“Maar ons is reg vir hulle,” vertel De Beer.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het vandeesweek haar aansoek om verlof tot appèl by die hof ingedien. Die Liberty Fighters Network is van mening dat die uitspraak billik en regverdig was en dat Dlamini-Zuma dit baie moeilik gaan vind om aan te voer dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing sou kom.

“Dit is ’n oorwinning wat ons nie gou sal vergeet nie. Hierdie is almal in Suid-Afrika se oorwinning,” sê De Beer. “Ek glo en vertrou dit gaan nie die einde wees nie. Die Liberty Fighters Network gaan nog baie sake teen die regering bring en hopelik gaan ons daardie sake óók wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

En daar skop hy toe stof in die ogies van die DA en VF.
Maar gelukkig spreek daai magtige partye darem gereeld hulle kommer uit. Praat n hond uit n bos uit en reik mediaverklarings uit. Maar doen? Aikona!

Willem ·

Mooi. Net soos Dawid sy oorwinning behaal het het julle ook. Wys jou moenie bang wees vir die grotes nie. Hul val ook en dan baie harder

Alexander ·

Welgedaan. Elke versetaksie sal op die langtermyn ‘n verskil maak. Ek is egter steeds besorgd oor die uitspraak wat die Appélhof gaan maak. Kom ons hoop dis nie ‘n gekaapte uitspraak nie.

JohanR ·

Lekker om die ANC en Kopdoek bloedneus te slaan…..arrogante en onkundige lot!

Sharnelle ·

Facing the Giants, dis presies wat jy gedoen het, Reyno de Beer. Well done. Ons sal hulle wys ons is nie bang vir hulle nie.

marius ·

Dit het ‘n jong man met ‘n klein gladde klippie geneem om Goliat te laat val . Sterkte vorentoe .

koos10 ·

Goed gedoen.
As enige iemand meer bewyse soek as die, om te wys dat ons regering niks voel vir SA burgers nie, weet ek nie meer nie.
Die minister kondig ‘n regulasie af, en die hele SA moet dit net aanvaar, ons het geen geleendheid gekry om die besluit te appeleer nie en moet die howe nader. Nou beslis die hof teen die besluit maar gee hulle nogtans 14 dae om voort te ploeter met die besluit, en nou appeleer die regering teen die hof beslissing, terwyl die oorspronklike besluit NOGSTEEDS in plek bly. Dis mos nou demokraties, nè?????

Jaco ·

Voordat almal nou te bly raak; onthou tog net: ‘n wit regter het uitspraak gelewer teen die swart regering en ten gunste van ‘n wit man van ‘n wit organisasie. Dis 200% logies dat die regering gaan appèlleer. Daardie wit regter se werk is seker nou ook in gedrang.
In Zimbabwe het presies dieselfde aanvanklik gebeur toe plaasbesettings en grondonteiening sonder vergoeding begin het: swart regters nogal het dit ongrondwetlik verklaar. Toe Mugabe moeg raak daarvan, het hy eenvoudig daardie regters afgedank en met regters vervang wat altyd uitsprake gelewer het wat 100% in lyn met regeringsbeleid was.

Jacobus ·

Mooi so broer. Die spul is so vet gevreet by die krip – ken nie meer reg van verkeerd. Wat so tragies is, is dat “our people” by verre die groot verloorders is. Politieke oorlewing is GEEN regverdiging vir hulle misplaaste agendas.

Cleopatra69 ·

Bly iemand het dit verder gevat. Moeg van die DA en VF Wat net praat pleks dat hulle nou hulle gewig agter die mense gooi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.