‘Dit was gewoon ʼn gasontploffing’

(Foto: Luca Sola/AFP)

Die Stad Johannesburg het Vrydag bevestig dat vandeesweek se massiewe ontploffing in die Johannesburgse middestad wel deur gas veroorsaak is.

“Dit was gewoon ʼn gasontploffing. Daar het gas gelek. Ons probeer egter nog die bron van die gas bepaal,” het Johan la Grange, siviele ingenieur en konsultant vir die Johannesburgse metro, vanmiddag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

La Grange het dit ook duidelik gestel dat onwettige mynwerkers (zama zamas) geen betrokkenheid by die ontploffing gehad het nie.

Floyd Brink, stadsbestuurder van die Johannesburg-metro, sê die strukturele integriteit van al die geboue in die omgewing van die ontploffing is nagegaan en daar is vasgestel dat geen gebou tydens die ontploffing beskadig is nie.

ʼn Evaluering van infrastruktuur in Lilian Ngoyistraat (Breestraat) en Lovedaystraat het wel onthul dat die tonnel “op enige gegewe tydstip kan ineenstort”.

Brink sê dié tonnel is “misvorm en onstabiel” as gevolg van beweging van kruising van die pad spesifiek in die rigting van die CJ Cronje-gebou.

Die area is intussen afgesper.

Maroela Media het vroeër berig ʼn man se liggaam is ná die ontploffing onder ʼn motor in Breestraat aangetref. Daar is ook sprake van ʼn vermiste kind.

Brink kon egter nie vanmiddag bevestig of daar slagoffers ondergronds vasgekeer is nie aangesien dit nie in dié stadium veilig is om enige reddingswerkers ondergronds te stuur nie. Brink kon wel bevestig dat daar geen teken van lewe in die rommel is nie.

Swaar masjinerie kan weens kommer oor veiligheid ook nie in dié stadium ingespan word nie en alle rommel sal met die hand verwyder moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

As opposisiepartye soos die DA en die VF-plus vra vir instandhouding, word hulle snedig vertel “instandhouding is ‘n rassistiese westerse konsep vol apartheid”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.