‘Dit was net genade van die Here’, sê Pretoria-pa ná aanval

Gustav Dreyer saam met sy vrou Elmari en dogter Melissa.

“Ons probeer nie dink oor wat kon gebeur het nie.”

Gustav Dreyer (52) sê hy weet nog nie hoe hy en sy gesin dit reggekry het om drie gewapende mans af te weer wat hulle Sondagaand in hul huis in Riviera, Pretoria, aangeval het nie. “Dit was net genade van die Here.”

Die Dreyer-gesin het intussen berading ontvang. “Dit gaan tyd vat,” sê Gustav en voeg by dat veral sy dogter, Melissa (18), sukkel om die gebeure te verwerk. “Dit tref ʼn mens nou en dan en dan kry jy so ʼn koue rilling.”

Gustav is tydens die voorval in die kop geskiet en sy vrou, Elmari (51), is met ʼn pikkop deur die gesig geslaan. Hulle het reeds begin om die sekuriteit by hul huis op te skerp en Gustav wil ander mense aanmoedig om hulself te beveilig en ʼn plan gereed te hê, sou hulle aangeval word.

“ʼn Mens raak gemaklik, maar jy weet nie wanneer dit kom nie. Daar is nie ʼn handleiding vir wanneer dit gebeur nie. Ons is van die lucky mense, want hulle het beslis nie gekom om tee te drink nie.”

Gustav het omstreeks 20:30 gesit en televisie kyk terwyl sy vrou en dogter op die boonste verdieping van die huis in hul onderskeie slaapkamers was. Die hond het skielik langs hom geblaf en dit is toe dat Gustav ʼn man met ʼn vuurwapen sien wat vir hom sê “lie down, lie down” en toe nog ʼn man met ʼn pyp in sy hand.

“Ons het ʼn ontsnappingsplan. As ek skree, dan moet hulle die veiligheidshek bo by die trappe toeslaan.”

Elmari en Melissa het Gustav se noodkrete gehoor en toe ʼn man met ʼn kop van ʼn pik op die trappe gesien. Ma en dogter het in ʼn struweling met die man betrokke geraak en kon daarin slaag om die hek toe te slaan.

Gustav was intussen onder in die huis in ʼn struweling met die ander twee mans betrokke. Hy het in ʼn stadium met al drie aanvallers baklei en hulle het van die een vertrek na die ander beweeg.

“Ek het geweet as ek los, dan het hulle spasie. Ek het heeltyd om hulp geskree en terselfdertyd net bly hoop my vrou en kind is oukei.” Gustav kon in ʼn stadium die pikkop in die hande kry en het die aanvaller, wat met die pistool gewapen was, daarmee gewurg. Die pistool het geval en hy kon dit vinnig gryp. Hy het ʼn skoot probeer afvuur, maar die pistool het nie afgegaan nie. Twee van die aanvallers het hierna op die vlug geslaan.

Die oorblywende aanvaller kon daarin slaag om die pistool af te neem. “Hy het vir my gekyk en die sneller getrek, maar dit het nie afgegaan nie. Hy kyk toe weer vir my en ek dog by myself dis nou maar so. Ek het my oë toegemaak en my kop ʼn bietjie weggedraai en toe skiet hy.”

Gustav is aan die agterkant van sy kop geskiet en die aanvaller het hierna ook op die vlug geslaan. “Die koeël is onder die vel in en weer anderkant uit. Ek het vyf steke aan die een kant en vier aan die ander kant gekry. Die chirurg by die hospitaal het gesê ek is die gelukkigste mens wat hy ken.”

Elmari en Melissa kon tydens die gebeure daarin slaag om deur ʼn venster te ontsnap en op die dak te loop voor hulle in die buurman se erf gespring het.

Gustav het dadelik nadat hy geskiet is en die aanvaller gevlug het, na sy vrou en dogter begin soek. Die bure het die gesin gehelp en die polisie en veiligheidsmaatskappye is ontbied. “Net die verligting om te weet jou gesin is reg en veilig. Ek is nie ʼn groot ou nie en dit was net die Here wat my gehelp het om daai drie ouens vas te hou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Misky ·

Dit moes vreeslik erg gewees het en dankbaar julle almal is veilig en ongedeerd – dankie Liewe Vader. Hoop die gemors word gevang en kry wat hulle toekom.

Daniel ·

Misdaad het al so deel geword van die samelewing dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar en net bly is as ons dit oorleef.
Nogtans bly die gesin het dit oorleef. Sterkte

MJ ·

Ek stem met jou saam. Ons is altyd net dankbaar as mense oorleef.
Maar wie gee die gemors die reg om jou privaat eiendom te betree en jou goed te vat en jou mense aan te rand. Dis baie sad dat dit is hoe ons leef….

Werner ·

Wil die mense nie maar leer by daai Kroonstadse boer hoe word dit gedoen nie.

Melanie ·

Ek is dankbaar jul is veilig, dit kon regtig so anders gewees het.. Die Here was beslis daar. maar ek hoop nogsteeds die aanvallers word iewers vasgetrek en kry sommer lewenslank!!

Sarel ·

Minister Cele is besig om Wetsgehoorsame
Burgers te ontwapen

Anoniem ·

Wetsgehoorsame burgers stroom polisiestasie toe om hulle wapens in te handig, waarna dit eenvoudig “verdwyn” en in die hande beland van misdadigers.

Surfer ·

Elke dag is soos n oorlog situasie, jy weet nie wanneer jy in die hinderlaag van die terroriste is nie. So wees ten alle tye paraat, dit gaan net erger raak en bewapen so ver moontlik jouself. Moenie hulle n maklike kans gee nie want jy word dop gehou.

Mariana ·

Wel gedaan. Bly julle is ok. Tyd genees. Die kriminele is arrogant en weet hulle sal wegkom met hul dade. Regstelsel beskerm hulle mos.

Suzette ·

Dit is verskriklik dat ons so moet veg vir oorlewing in hierdie land. Hoekom kan hulle ons nie net uitlos nie?

Werner ·

Hulle sal ons uitlos die dag as ons ruggraad kry en begin terugslaan solank ons niks doen nie is ons patetiese sagte teikens

Werner ·

Wel as jy nou aan die slaap was en nie moeite gedoen het om wettig n vuurwapen te bekom nie moet jy na ander alternatiewe kyk.Daar is n baie oulike mes kurses wat jy kan doen wat in hierdie geval baie goed sou gewerk het.Kry opleiding behoort aan n veiligheids sruktuur daar is baie om te doen as om net te sit

Magda ·

So bly julle is almal veilig – deesdae moet jy skiet om dood te skiet anders is jy en jou gesin dood. Sterkte

Esmé V ·

Dit verg meer as tyd om te herstel van so ‘n lewensbedreigende trauma. ‘n Mens se oorlewingsmeganisme, ‘n outomatiese proses van die senuweestelsel, moet uit veg/vlug/vries herstel. Oorweeg om ‘n paar sessies TRE (Tension and Trauma Release Exercises), ‘n fisieke tegniek vir ontlading van beide stres en trauma by ‘n TRE-fasiliteerder te doen. Wanneer die ergste verby is, kan jy op jou eie voortgaan daarmee.

Tino ·

Welgedaan! Baie bly julle oorleef.

Wys net weer die lafhartigheid, hulle kan nie 3 teen 1 iets reg kry nie en hulle moet skiet. Weet duidelik nie hoe om die wapen skoon te maak of te gebruik nie.

Gaan nou seker net ‘n huis roof saak wees.

ChrisR ·

Ek is so trots op die gesin dat hulle n plan gehaad het. Ons gaan nie die fight wen om hulp van ander lande te vra of ons regering. Almal se ons moet saam staan en op staan…….daar is dit nou hoe ons dit moet doen. Dis jou huis…..hulle kom in sonder jou toestemming…….maak dit n nagmerrie vir hulle. Ek is 24 uur gewapen en mense lag vir my as ek my pistool orals dra……maar ek en my gesin is ook gereed.

Regverdigheid ·

Ai sterkte bly God se hand was oor julle en dat jul leef Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.