Dit was selfdood, sê Senekal-man

Abraham Fourie se verhoor het Maandag in die hof in Bethlehem afgeskop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Abraham Thomas Fourie (52) het Maandag in die hof in Bethlehem in die Vrystaat aangevoer sy lewensmaat Johanna Maryna Venter (48), het haar eie lewe geneem. Hy staan tereg op haar moord en sy verhoor het Maandag in dié hof afgeskop.

Die polisie het op 13 Junie op Venter se verminkte liggaam in die slaapkamer van die paartjie se huis in Waterstraat, Senekal, afgekom. Volgens die polisie se verslae is sy op haar rug op die bed met brandwonde aan haar gesig en lyf aangetref.

By nadere ondersoek is gevind dat Venter met warm water gebrand is. Haar neus was gebreek en daar was bloedvlekke teen die mure en op die vloer.

Volgens die polisieverslae was dit duidelik dat iemand die misdaadtoneel probeer skoonmaak het. Daar is ook geen selfdoodnota op die toneel gevind nie en vuilspel is onmiddellik vermoed, het die hof gehoor.

Net ná die gru-vonds is daar op twee bloedbevlekte baadjies van Fourie beslag gelê. Hy is daarna ondervra en later in hegtenis geneem.

Fourie het Maandag skuld ontken. Hy beweer hy het niks met Venter se dood te doen nie en sy het moontlik haar eie lewe geneem.

In sy pleitverklaring beweer hy dat hy vroegoggend op 13 Junie Venter op die slaapkamervloer langs die bed aangetref het. Sy was volgens hom naak en het brandmerke reg oor haar liggaam gehad. Volgens sy verklaring het sy ʼn bottel brandewyn in die hand vasgehou en haar kop was vooroor gebuig.

Fourie sê hy het kunsmatige asemhaling op haar probeer toepas, maar sy het glo geen teken van lewe getoon nie.

Johanna Maryna Venter en Abraham Thomas Fourie (Foto: Facebook)

In sy verklaring beweer Fourie dat hy nie die aand van Venter se dood in die huis geslaap het nie, maar in sy vragmotor wat voor die huis geparkeer was. Hy het in daardie stadium vragmotors bestuur.

Volgens die verklaring was Fourie moedeloos oor Venter se beweerde ‘drinkery’ en het sy daardie einste aand glo soos alkohol geruik.

Hy voer aan hy het die Sondagoggend teruggegaan huis toe. Hy is badkamer toe waar hy sy hare wou was en het opgelet die badkamervloer is nat. Hy is glo daarna na die slaapkamer waar hy toe vir Venter op die vloer aangetref het, soos hy beweer het.

Luidens die verklaring het Fourie Venter se broek vir haar aangetrek en haar op die bed neergelê. Hy het daarna saam met ʼn vriend polisiestasie toe gegaan om die saak aan te meld.

Die nadoodse ondersoek bevestig die oorsaak van Venter se dood is veelvoudige traumatiese beserings en omvattende brandwonde.

Fourie staan ook tereg op twee aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Fourie en Venter was vir ongeveer tien jaar in ʼn verhouding.

Die saak duur Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

En as jy wakker word is jou koffie koud.Het sy haarself die beserings toegedien.Het sy self in ‘n bad warm water geklim.Hoe is haar neus gebreek.Hoe kom die bloedspatsels teen die muur.

Nico ·

Wanneer ‘n mens die verslag lees is dit baie duidelik nie selfmoord nie.

Perdeby ·

Sjoe selfdood dan was sy darem verskriklik erg op haarself. Nee Mnr jy sal maar aan ‘n beter verskoning moet dink as selfdood!

Marina ·

sjoe, selfdood en dan maak jy, nadat jy dood is, skoon?? nee kyk

Antonk ·

Sy IK is seker baie laag.Enige iemand kan duidelik sien dit is nie selfdood nie.

Waarnemer ·

WOW!!!Verbrand jouself in n bad kokende water,stap slaapkamer toe,kap jou kop teen die muur dat die bloed spat en breek jou neus en dan gaan le jy op die mat voor die bed en hou jou asem op tot jy dood is.Maklike,eenvoudige en pynloosste manier om jou eie lewe te neem.
Abraham Thomas Fourie,wees dankbaar dat die doodstraf afgeskaf is…..

AH ·

Selfdood? Regtig? Ek sou dink dat mens die vinnigste, minste pynlike manier sal gebruik as jy wil selfdood pleeg! wie sal homself/haarself dood martel??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.