DKD-amptenare, maatskaplike werkers volgende in entstoftou

Gevangenes sal ook van Maandag af die entstof by 90 goedgekeurde entstofsentrums in tronke landwyd kan kry. (Argieffoto: pixabay)

Diegene wat in die maatskaplikedienstesektor werk, asook amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) en gevangenes kom volgende aan die beurt vir die Covid-19-entstof.

Gesondheidswerkers, onderwysers, asook polisielede en soldate het reeds voorkeur vir die entstof gekry.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, sê die entstofprogram vir dié sektor begin Maandag in alle provinsies, behalwe in Limpopo en die Wes-Kaap.

Volgens haar het die departement die afgelope paar dae hard gewerk om te verseker die sektor kom ook nou aan die beurt vir die entstof.

“Ons verwag dat die entstofverspreidingsprogram nagenoeg 240 000 werkers in dié sektor sal bereik en dit sal verseker dat bedrywighede voortgesit kan word, veral weens die hoë vraag na dienste tydens die Covid-19-pandemie,” sê Zulu.

Voorkeur sal nou gegee word aan diegene wat in die sektor vir vroeë kinderontwikkeling werk, aan maatskaplike werkers en hulp- maatskaplike werkers, gemeenskapsontwikkelingspraktisyns, asook personeel van die departement wat aan die voorpunt van die sektor werk. Dit sluit in amptenare by alle maatskaplike ontwikkelingsfasiliteite, amptenare van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), die nasionale ontwikkelingsagentskap en die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensteberoepe.

Die minister sê dit is belangrik dat mense aanlyn vir die entstofprogram registreer, aangesien daar geen papierregistrasie by die sentrums gedoen gaan word nie.

Sy het mense aangemoedig om die entstof te ontvang, maar benadruk dat dit steeds vrywillig is.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het Saterdag aangekondig dat die entstofprogram vir dié sektor óók Maandag afskop.

DKD-amptenare en gevangenes sal ingeënt word. Daar is reeds Donderdag met die inenting van amptenare begin, maar die amptelike program word eers Maandag van stapel gestuur.

Gevangenes sal ook van Maandag af die entstof by 90 goedgekeurde entstofsentrums in tronke landwyd kan kry.

“Die uitbreking van Covid-19 in korrektiewe sentrums kan moontlik na gemeenskappe versprei, vandaar die behoefte om gevangenes en amptenare in te ent.”

Volgens die departement word gevangenes ingeënt in ooreenstemming met die Nelson Mandela-reëls, wat bepaal dat gevangenes dieselfde standaard van gesondheidsorg geniet as wat in die res van die land beskikbaar is.

Die departement sê omdat sosiale afstand net in beperkte mate in sentrums gehandhaaf kan word, is daar ʼn groot kans dat gevangenes aan Covid-19 blootgestel kan word.

Die departement het amptenare én gevangenes aangemoedig om die entstof te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaada ·

Volgens my moes gevangenes laaste in die ry gestaan het! – na die hele bevolking ingeent is.

Harley Davidson ·

Ek het eers gedink hierdie is ‘n grap,geen probleem met korrektiewe dienste nie maar gevangenes moet laaste ingeënt word na almal in die land.

Deon ·

Ons is in effek meer blootgestel as die tronk voels, hulle kwarantyn mos viir hulle ingeneem word of hoe? Ons waag nou ons lewens on ingespuit om vir hulle te sorg met belasting geld.

Deon ·

Geld dit vir alle ouderdoms groepe van mense in sie gevangenis”inmates”?

Erita ·

Dit terwyl daar nog miljoene eerlike, hardwerkende mense wat nie misdaad as bron van inkonste het wat sonder entstof moet wag dat misdadigers voorkeur kry
Soos die algemene gedagte, wat sou ‘n reg denkene mens se gedagte oor die besluit wees

Tanniepetoors ·

Wanneer gaan die mense wat elke dag by supermarkte en noodsaaklike winkels soos apteke werk geënt word? Baie van hulle is onder 35 met gesinne, gebruik taxi’s en werk vir bitter min geld en baie maal nie eens ‘n vaste salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.