DKD-hoofkantoor ontruim oor veiligheidsoortredings

Verheugde beamptes van DKD oorval Tshwane se burgemeester, Solly Msimamga, nadat hy hul onveilige hoofkantoor gesluit het.

Amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) het hande geklap en gejuig toe Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, en ʼn afvaardiging van senior beamptes van Tshwane-nooddienste Woensdag beveel het dat die DKD se hoofkantoor, die Poyton-gebou, weens “ernstige oortredings” van brand- en noodontruimingsordinansies ontruim word.

“Ná wat verlede week in Johannesburg gebeur het [toe drie brandbestryders dood is terwyl hulle ʼn brand in ʼn staatsgebou probeer blus het],” het Msimanga aan African News Agency gesê, “het ons gevoel dis belangrik dat ons ons eie geboue begin inspekteer, veral dié wat ons reeds gewaarsku het.”

Hy beskryf die toestand in die gebou as skokkend. “Reg by die ingang is veronderstel om ʼn waterversterker te wees, maar dit bestaan nie eens nie. Onder in die gebou, waar ʼn tenk wat water by die gebou moet inbring [in geval van ʼn brand] moes wees, is die koppelaars nie daar nie. Dit beteken as daar môre ʼn brand is, is die gebou daarmee heen.”

Binne-in die kantoor, waar duisende lêers geberg word, het amptenare aan Msimanga gesê die ligte is foutief.

“Die ontsnappingsroetes is gesluit, wat beteken mense sal deur rook of deur vlamme moet gaan omdat die nooduitgange gesluit is,” het Msimanga gesê. “Dis van die kwessies wat ons in 2016 aan die maatskappy [wat die gebou bestuur] gerapporteer het.”

Hy het gesê 1 600 mense gebruik die gebou, wat ook lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag huisves.

“Jy kan jou voorstel in watter gevaar die mense hier sal verkeer as ʼn brand sou ontstaan,” het hy gesê. “Ons het ʼn kantien hier wat gas gebruik wat nie eens geregistreer is nie. Weens die hoeveelheid gas wat hier is, sal die gebou binne ʼn oogwink in vlamme opgaan.”

Msimanga sê dié toedrag van sake kan nie geduld word nie. “Ongelukkig kan die gebou nie beset word nie. Ons gaan dit toemaak. Ons gaan beamptes toelaat om in te kom en ons te sê watter stappe gedoen moet word en hulle kans gun om reg te maak wat reggestel moet word.”

Hy sê hy kan nie toelaat dat mense wat in dié of ander geboue in die onmiddellike omgewing werk se lewe in gevaar gestel word nie.

Aan die einde van sy besoek het etlike beamptes hom oorval en bedank vir sy ingryping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Adam ·

Wat ‘n aanklag teen ons regering!!! Sedert 1994 is daar weinig instandhouding aan infrastruktuur gedoen en die laaste paar jaar begin ons ‘n enorme prys vir die nalaat daarvan te betaal. Hoe op aarde kan jy ekonomiese groei kry sonder die instandhouding van infrastruktuur en die doen van die nodige strukturele veranderings aan die ekonomiese speelveld. Absoluut pateties!!!!!

Meli ·

WOW ons het dan n awesome Burgermeester Solly!!!

DA al die way!!!

GM ·

Gaan leêrs nou weer voete kry? En wat gebeur met die werkers? Betaalde verlof?
Of skuif hul net van kantore?
Van 2016 tot nou toe is darem meer as genoeg tyd om veiligheidskwessies uit te sorteer, dan nie?
O ja wag, ek bly in S.A. Hoe kon ek nou DIT vergeet het ?

leser ·

mooi gedoen msimamga
stel ondersoek in na alle staats geboue en sommer ook na ander geboue in pretoria
as hulle nie aan veiligheids standaarde voldoen nie, sluit hulle, mense lewens is betrokke, veral as daar so baie geboue sommer net begin brand

Alida ·

Mooi Solly jy kan tenminste vooruit dink. Die ANC sou gewag het vir die ramp om te gebeur.

Oudlid ·

Ai, ek is jammer om julle teleur te stel, maar die gebou se probleme kom uit die vorige regering se dae. Daar is al in die 80’s gekla oor die gebou se toestand/instandhouding. Ek is bly dat daar nou, ongelukkig na verlies aan lewe in JHB, iets gebeur.

MarieM ·

My tannie het vir DKD gewerk jare terug. Onthou nog hoe sy gehardloop het toe die bom afgegaan het. Sy het ons vertel dat van daardie tyd af die gebou nie meer was soos hy moes wees nie.

A simple msn ·

Daai gebou was al ‘n gevaar toe ek in 1990, uit DKD bedank het.

DKD lid ·

Ek werk in die Poyntons. Daagliks sit beamptes in die hysbakke vas, hysbakke val daagliks… die water is party dae af en n brand het die afgelope maand in kantore ontstaan. Sekere brandtrappe is afgesper of gesluit. Die klein brandblusser op ons gang is in 2015 gediens. Die vensters is gebreek in party kombuise en badkamers en die duiwe maak nes sonder om verwyder te word. Rotte so groot soos babakatte is in ons kombuis gekry. Die bestuur was elke keer ingelig…. Ons almal vrees daagliks vir ons lewens, n groot kennisgewing buite die gebou sê pertinent dat ons op eie risiko die gebou betree. Emails en griewe was telkemale aan die bestuur gestuur van die unies en individue, maar dit val op dooie ore… Die gebou word teen R5 miljoen maandeliks gehuur…. die vraag is, aan wie behoort die gebou? Dankie Mnr. Msimanga. Dis n klap in die gesig dat ons minister die kwessie in die hof wil beveg. Ek en my kollegas is bereid om onbetaalde verlof te vat indien hul ons probeer dwing om terug te gaan poyntons toe.

SO ·

Dit is duidelik nie die enigste gebou wat smeek vir deurentydse instandhouding nie. Daar is beslis baie sulke geboue in die land.

Jurie ·

Maak maar die geboue reg. Gaan ongelukkig net vir n baie kort tydjie reg wees, dan verval dit maar weer.

Zia ·

Dis so jammer dat ons land so verval. Dis nie net geboue nie maar alles. Almal van ons ken die lys. Miskien moes die nou gebeur het sodat iemand bietjie wakker kan word en dat die plekke en ander reggemaak kan word. Maar soos ons al by die tyd weet, sal dit probeer word om onder die mat ingevee te word en net 1 of 3 sal na gekyk word om reg te maak.

bgj van der westhuizen ·

mense daar is n departement met die naam openbare werke wat alle instandhouding doen waar dit kom by staats eiendom vraag is waar om doen hulle nie hulle werk nie en as die staat die gebou huur van n privaat eienaar is daar geen verskoning nie alle eienaars moet hulle eiendom in standhou volgens die wet en brandblushers wat 2015 gediens was die persoon wat verantvoorlik is moet aan gekla word in die hof moet volgens die wet elke jaar gediens word

Marius ·

N gebrek aan kundigheid in beide DKD en DOW is die rede waarom hierdie geboue in so n toestand is. Hierdie geboue was al onveilig in die 90’s. Die bom in die laat 80’s het een van die stutmure in Poynton Wes beskadig. Duidelik word gereelde inspeksies Nie meer uitgevoer Nie. Ek neem aan dat daar ook geen veiligheids komitee bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.