DKD-minister wil hof toe oor geslote gebou

Verheugde beamptes van DKD het Tshwane se burgemeester, Solly Msimamga, Woensdag oorval nadat hy hul onveilige hoofkantoor gesluit het. Foto: ANA

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het Donderdag uitgevaar teen die minister van korrektiewe dienste, Michael Masutha, nadat hy gedreig het om hof toe te gaan oor die sluiting van die departement se hoofkantoor, die Poynton-gebou, in W.F. Nkomostraat in die Pretoriase middestad.

“Ek neem kennis van die minister van justisie en korrektiewe dienste se reaksie op ons besluit om die onwettige Poyntons-gebou te sluit,” het Msimanga gesê. “Hoewel minister Masutha die volste reg het om die howe te nader, is ons tog vol vertroue dat geen regdenkende hof bewustelik aandadig daaraan sal wil wees om onskuldige mense se lewe in gevaar te stel nie.”

Die burgemeester sê die minister van korrektiewe dienste beweer die departement is nie oor die sluiting gewaarsku nie. “Dis eenvoudig onwaar. Dis nie die eerste keer dat die stadsraad met die departement oor gebreke in die gebou skakel nie,” het Msimanga gesê.

Die burgemeester sê die departement van korrektiewe dienste (DKD) het twee jaar gehad om te verseker dat die gebou aan veiligheidsvereistes voldoen, “maar vergeefs”. Hy sê die stadsraad se optrede deur die gebou te ontruim, is ʼn poging om werkers se lewe te red.

Hy meen dit is veral kommerwekkend dat die departement en bestuur aangehou het om mense se lewe in gevaar te stel deur van hulle te verwag om in ʼn gebou te werk wat, so het hulle self erken, net deels aan veiligheidsvereistes voldoen.

Van die probleme met die gebou wat daartoe gelei het dat meer as 1 000 amptenare van korrektiewe dienste uit die gebou verwyder is, is:

  • Die gebou het geen ontruimingsplan nie.
  • Daar is nie ʼn werkende rookalarmstelsel nie.
  • Die 32-verdiepinggebou van by die 100 m hoog en waarin sowat 1 700 mense gewerk het, het geen water vir brandbestryding aan die binnekant nie.
  • Toe die stadsraad op die gebou toeslaan, het hulle vasgestel dat die nooduitgange gesluit was met geen manier om tydens ʼn noodgeval daarlangs te ontsnap nie.

Masutha het Woensdag in Kaapstad aan die media gesê hy sal hom tot die hof wend om Msimanga se besluit teen te staan.

Hy meen die burgemeester moes die ernstige gevolge daarvan in ag neem het om die “kernsentrum” van die departement van justisie te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Irma ·

Hoekom kry ek die gevoel dat ek wil lag om nie weer te stop nie. Hoeveel insig het die geagte minister. Kan die persoon darem lees? Word die gevaar wat die verval van die gebou inhou vir personeel verstaan? Seker nie, hy is mos nie self daar nie.
Maar oooo nee, kom ons mors nog belasting betalers geld op hofsake ‘want ons begrip van waar die geld vandaan kom’ is net so min as die gevolge van ‘n brand in so ‘n gebou.
Ag kom nou meneer……

Staak ·

Sluit al SARS se geboue ook asb, dit is onveilig by al hulle geboue weens die feit dat dit n versamelplek geword het vir die ergste skelm in die land, geen man met geld kan dit waag om daar in te stap nie. Hulle bevry jou doodeenvoudig van alles en stuur dan nog n rekening en boetes ook.

Piet Snot ·

Ek hou vd manier waarop jy dink: hulle geboue is ‘n gevaar vir ons finansiële gesondheid.

Alida ·

Mooi Solly kap hulle. Wag seker tot die ergste gebeur soos altyd.

Debbie ·

Is daardie DKD personeel nou by die huis of is hulle na ander geboue oorgeplaas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.