DKD moet antwoorde gee oor ontsnappings

Argieffoto

Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het kommer uitgespreek oor die onlangse vlaag van ontsnappings uit korrektiewe fasiliteite en aangedui dat hy dié kritieke kwessie met die minister en die departement sal opneem wanneer lede volgende week voor die komitee verskyn.

Rajaa Azzakani, woordvoerder van die parlementêre kommunikasiedienste wat ʼn verklaring uitgereik het namens Mothole Motshekga, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê Motshekga het die komitee se kommer uitgespreek aangesien sommige gevangenes wat ontsnap het mense is wat lang vonnisse vir ernstige misdade uitdien.

“Die minister en die twee adjunkministers moet in die openbaar voor die komitee verskyn om sodoende volledig verslag te lewer oor wat hulle daadwerklik doen om die vlaag ontsnappings aan te pak. Dit is onaanvaarbaar. Die komitee sal ook navraag doen oor die mate waartoe die departement beleidsriglyne ingestel het wat dit duidelik stel wat gedoen moet word.”

Motshekga het gesê die departement van korrektiewe dienste (DKD) sal Donderdag verskyn om die komitee in te lig oor sy jaarlikse prestasieplan en begroting vir 2018-’19.

“Ons verwag van alle verantwoordbare beamptes, onder wie die uitvoerende owerheid, om die komitee in te lig oor die plan vorentoe om ontsnappings te voorkom. Ons sal ook navraag doen betreffende ondersoeke na moontlike oorsake van die ontsnappings,” het Motshekga gesê.

Maroela Media het vroeër berig  16 verdagtes het  Maandag uit ʼn Johannesburgse gevangenis ontsnap. Die verhoorafwagtende gevangenes het Maandag omstreeks 03:00 uit die Johannesburgse Medium A-tronk, oftewel Sun City, ontsnap. Twee van die 16 is Dinsdagaand in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

n Groot probleem is, in die gevangenis heers daar n pellie,pellie verhouding tussen bewaarders en die gevangenis.

Hanna ·

Geloofwaardigheid voor kundigheid… Viva regstellende aksie, viva! En daar is jou antwoord Minister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.