DKD: Nog gevangenes, beamptes toets positief

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat nog vyf gevangenes en vier beamptes positief vir Covid-19 getoets het.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het gesê massasifting en -toetse is van deurslaggewende belang vir die departement aangesien dit die werklike verspreiding van Covid-19 kan meet, wat lei tot onmiddellike afsondering en behandeling van diegene wat positief toets.

Volgens Nxumalo verander die patroon geleidelik met die Wes-Kaap en Gauteng wat nuwe gevalle aangemeld het. Vyf gevangenes by die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria het positief vir Covid-19 getoets, asook vier beamptes in die Wes-Kaap, twee by die Goodwood-gevangenis, een by Voorberg-gevangenis en een by Worcester-gevangenis.

“Een van die beamptes wat in die Wes-Kaap positief getoets het, is intussen oorlede en ʼn ondersoek is deur die departement van gesondheid begin om die oorsaak van sy dood te bepaal.”

Nxumalo het gesê daar is nou 138 positiewe gevalle in korrektiewe dienste, met drie beamptes wat reeds herstel het.

In die Oos-Kaap het 56 gevangenes en 35 beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets. In die Wes-Kaap het een gevangene en 35 beamptes positief getoets, in Limpopo het nog net twee beamptes positief getoets en in Gauteng het sewe gevangenes en een beampte reeds positief getoets. By die departement se hoofkantoor het een beampte positief getoets.

“Massasifting en -toetsing gaan voort by alle korrektiewe sentrums om brandpunte te identifiseer en ʼn onhanteerbare verspreiding te voorkom,” het Nxumalo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.