‘DKD se regstellendeaksieplan moet nietig verklaar word’

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag die konstitusionele hof in Johannesburg versoek om die departement van korrektiewe dienste (DKD) se regstellende aksieplan nietig te verklaar.

Die vakbond meen dié plan is strydig met die bepalings van die Wet op Diensbillikheid en kom neer op onbillike diskriminasie.

Solidariteit het in die hof gesê die DKD se huidige regstellende aksieplan is ongeldig omdat dit onbuigbaar is en net die nasionale rassedemografie as maatstaf gebruik. Volgens Solidariteit kom dit neer op ʼn kwotastelsel. Die vakbond het verder aangedui dat dié plan die grondwetlike ruimtes vir gelykheid oorskry.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die kern van Solidariteit se konstitusionele hofsaak om te bepaal of die nasionale rassedemografie as absolute maatstaf in regstellende aksieplanne toegepas kan word.

“Solidariteit het vandag die staat se idee, dat gelykheid deur middel van verteenwoordiging bereik kan word, uitgedaag. Ons meen die DKD en ander staatsdepartemente se toepassing van die nasionale rassedemografie is niks anders as ʼn absurde, sakrekenaarbenadering nie.”

Hermann het gesê hierdie saak sal definitief as ʼn rigtinggewer in Suid-Afrika se demokrasie opgeteken word. “Ons is oortuig daarvan dat die toepassing van die nasionale rassedemografie nooit deel van die Grondwet se strewe na gelykheid was nie. Ons beveg hierdie kwessie al vir tien jaar lank en is baie opgewonde dat billikheid en redelikheid nou sal seëvier.”

Solidariteit se saak teen die DKD het reeds in 2012 begin, toe die vakbond ʼn aantal sake oor die DKD se omstrede regstellende aksieplan gekonsolideer het. Volgens dié plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word, ongeag die profiel van die provinsie of streek.

Bruin Suid-Afrikaners maak sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking van die Wes-Kaap uit en in talle spesifieke streke is die persentasie nóg hoër, terwyl hulle op nasionale vlak slegs sowat 8,8% van die totale bevolking uitmaak.

Die konstitusionele hof het uitspraak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

BAIE goeie projek hierdie.

Sterkte aan Solidariteit vir die inisiatief.

Renate Barnard ·

Solidariteit se advokaat. Jeremy Gauntlett het alles in sy laaste opmerking opgesom: “We should win!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.