‘DKD steur hom nie aan hofuitspraak’

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het ʼn dringende aansoek in die arbeidshof gebring oor die departement van korrektiewe dienste (DKD) se beweerde verontagsaming van ʼn onlangse hofuitspraak.

Die DKD word volgens die hofuitspraak verplig om die streeksdemografie in sy teikens vir gelyke indiensneming in ag te neem. Die uitspraak is in April vanjaar deur die arbeidsappèlhof gelewer nadat Solidariteit die DKD namens tien werknemers hof toe geneem het omdat die departement net die nasionale rassedemografie in sy indiensnemingsbeleid wou toepas.

Die jongste hofaansoek volg nadat Solidariteit die departement van arbeid én die DKD die afgelope maand by verskeie geleenthede skriftelik vermaan het om die huidige regstellendeaksiemaatreëls wat deur die DKD toegepas word, onder die loep te neem. Solidariteit het egter ten spyte van die direkteur-generaal van arbeid, Thobile Lamati, se voornemens, geen terugvoering ontvang nie en sal hom daarom weer tot die hof wend.

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, verduidelik dat die DKD onlangs aansoeke om ʼn leerlingskap-program in die Kaapse streek geadverteer het waarvolgens al 193 van die leerlingskappe gelykop verdeel moet word tussen die verskillende rassegroepe sonder enige inagneming van die streek se rassedemografie. “Die sluitingsdatum vir die aansoeke was reeds op 22 Mei 2015. Dit is strydig met die Wet op Gelyke Indiensneming aangesien die DKD tans nie oor ʼn goedgekeurde diensbillikheidsplan beskik nie.”

Kruger het gesê Solidariteit wil ʼn dringende bevel bekom wat die DKD verbied om die leerlingskappe op grond van ras toe te ken aangesien dit onder meer op ʼn kwotastelsel neerkom. “Solidariteit sal as deel van sy dringende hofaansoek ook vra dat die hof die DKD verbied om enige besluite rondom indiensneming, wat nie suiwer op verdienste gegrond is nie, te maak totdat die departement oor ’n behoorlike en goedgekeurde diensbillikheidsplan beskik,” het Kruger gesê.

Kruger het verduidelik dat die DKD se diensbillikheidsplan in 2014 tot ʼn einde gekom het. “Die plan is boonop eensydig en sonder oorlegpleging deur die nasionale kommissaris tot die einde van Februarie 2015 verleng. Dit is strydig met die Wet op Diensbillikheid. Geen plan wat ooreenkomstig die beslissings in die arbeidshof en die arbeidsappèlhof opgestel is, is intussen al goedgekeur όf aanvaar nie.”

Kruger het gesê om sake te vererger het die departemente vir menslike hulpbronne binne die DKD boonop riglyne vir gelyke indiensneming ontvang wat weereens op die nasionale demografie as teiken gegrond is. “Dit is nie in ooreenstemming met die wet όf die hofbeslissings nie. Die DKD gaan voort met sy blatante verontagsaming van die wet en die regspraak. Nóg die DKD nóg die departement van arbeid het op ons versoeke oor hierdie kwessie gereageer en dit laat ons dus met geen alternatief nie as om die arbeidshof te vra om tussenbeide te tree.”

Solidariteit se jongste aansoek sal op 26 Junie 2015 in die arbeidshof in Kaapstad aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.